Skip to main content

Paul C Venter onthou

DIE GEVAL VAN DIE MANK KIERIE

My appelkierie is eintlik meer as mank, sy is nou basies gereed vir ‘n rolstoel. Hoe ver het ons al geloop vandat ek haar by die vlooimark op Thirsk in Engeland gekoop het? Ek onthou ons wandelpaaie deur die akkerbos langs ons village, die honderde hase wat oral wip of uit gate loer. Ek onthou ons klipperige paaie om die Karoorante agter die huis op Hanover, verby erdvarkgate waar geelslange op die warm sand slaap en sy my gehelp het om stories uit te dink.

Ek sal lieg as ek sê ek dink: Ag wat, wêreldsgoed, sy is maar net ‘n stok.

En nie net kan die gebreekte kierie nie meer loop nie, ons sit nou ook met ‘n ander probleem: Ruhan is weg, skoonveld. Ek roep die huis in. Sy ouma roep ook; sy is die caregiver wat my so toegewyd met oorlede Dalene gehelp het. Ruhan se mamma werk, sy verkoop karre.

Ons roep verniet, my seuntjie antwoord nie. Sy ouma gaan soek buite waar hy die tuin in ‘n Jurassic Park vol prehistoriese poppe omskep het. Hy speel graag daar. Ek gaan kyk eers in ons slaapkamer, want hy speel en dans baie op ons bed en probeer elke aand tussen ons slaap. Hy is nie daar nie.

Ek kyk in ons badkamer. Langs die toilet lê The Jungle Book oop. Ruhan is besig om ‘n toiletleser te word. Hy lees nog net woorde, nie sinne nie. Ek het dit begin as ek uit ‘n boek met prentjies vir hom voorlees. Ek wys hom byvoorbeeld eers die woord “tiger” en dan die prentjie van ‘n tiger. Hy snap die konneksie vinniger as ander kinders met wie ek dit al gedoen het. Uit watse mense kom hierdie seuntjie? Wat sal hulle doen as hulle moet weet wat het hulle verloor?

Ek wil hom beslis nie verloor nie.

Sy ouma roep onrustig van buite af: Rebekka en Dawid, die wit Labradors, weet nie waar is die kind wat so lekker op hulle ry nie. Basjan, ons geel frommelhond uit Sjina, slaap natuurlik. Hy lyk soos ‘n groot, verrimpelde leeu maar is nie ‘n waghond se gat nie; almal is vir Basjan ‘n love object, hy wil net cuddle.

Ek roep en roep, gaan kyk in die gastekamer waar Ruhan soms onder die bed Bat Cave met sy Batman, Robin en Joker speel. Hy is nie daar nie.

Ek begin die ergste vrees: hy het weggeloop, strate toe. Ek en hy gaan loop gereeld, hy ken die buurt se honde al op hulle name. Ons loop deesdae nie meer Noor-se-kloof toe nie, dis vol slange of soms bergies wat die ruigtes na boom laat ruik. Ek weet ek dink desperate bog, maar ek kan myself nie keer nie: sê nou Ruhan is so bang oor die kierie hy sien Noor-se-plek as the best hiding place?

Laas toe ons in die kloof geloop het, sien ons ‘n ontsaglike vet bergie was sy klere in die stroom en hang dit aan takke om droog te word. Hy dra net ‘n Speedo.

“I need to tell you something,” fluister Ruhan grootoog. “That man is kaalgat.”

Hy het ‘n punt. Jy kan nie regtig die Speedo sien nie.

“I need to tell you something,” is sy inleiding tot belangrike aankondigings en hy glo alles wat hy sê is belangrik. Hy sal dramaties met sy leë tietiebottel aangestap kom: “I need to tell you something. Maak vol.” Hy drink net water. Jy kan Ruhan nie met koeldrank of melk verlei nie.  “Maak vol” en “Bersie” is die Afrikaans wat hy die meeste gebruik. Bersie is die naam van sy wit-en-blou security blanket. “Voila!” is sy idee van dankie as jy hom sy bersie of ‘n vol tietiebottel gee. Hy moes die Italiaanse woord op televisie gehoor het.

Ek gaan kyk in die gastebadkamer. Ruhan hou daarvan om te maak of die storthokkie ‘n submarine is, dan kruip hy en sy imaginary friends daar vir great white sharks weg. Hy is nie daar nie.

Ek weet nie wat gaan ek doen as ek hom nie kry nie. Ek weet nie wat gaan sy mamma aan my en sy ouma doen as ons hom nie kry nie.

Ek kyk heel laaste in Ruhan se slaapkamer-cum-speelkamer, want hoewel sy ma al daaraan begin werk het toe ons vir hom gewag het, sien hy dit nog steeds nie as sy plek nie.

Dit waar ek hom toe kry. Hy sit in ‘n hoek op sy plastic motorbike, sy bersie soos ‘n serp om sy nek, en hy kyk stip na die muur voor hom terwyl hy maak of hy iewers heen ry. Speelgoed lê op die vloer om hom. Sy mondjie beweeg asof hy die gebrom van ‘n motorfiets naboots, maar hy maak nie ‘n geluid nie. Ek kan voel hy weet ek staan in die deur, maar hy bly stil voor hom kyk.

Hy hoef ook nie na my te kyk of enigiets te sê nie. Sy hele lyftaal en gesiggie vertel my Ruhan se hartjie is stukkend. Hy het sy pappa se beste kierie gebreek. Sy lewe is oor en hy is nog nie vier jaar oud nie.

Ek kan nie met hom oor ‘n stuk hout raas nie, al is sy meer as net ‘n stuk hout. Moet ek met hom praat? Dan beter ek dit saggies en teer doen, hy moet weet ek aanvaar dit was  ‘n ongeluk.  Maar sê nou ek praat en hy bars in trane uit? Dan breek my hart, en wat help dit as altwee van ons se harte gebreek is?

Ek hou my mond, gaan sit langs hom op die vloer. Hy erken nie my teenwoordigheid nie, jaag voort op sy stille verbeeldingsrit. Ek maak of ek ook nie van hom notisie neem nie, kies ‘n pop uit die speelgoed op die vloer: Godzilla, die vuurspuwende draak. Een van sy groot gunstelinge. Ek doen Godzilla se brulgeluide, laat die pop voor Ruhan op die plastic motorbike klim en probeer die draak ‘n diep, grommende stem gee: “Look, Ruhan, I’m riding shotgun!”

Hy maak of ek en Godzilla op ‘n ander planeet is, hou aan na nêrens ry. Skielik vang die wind van sy vaart Godzilla vol in die gesig en die draak moet aan Ruhan klou of hy neuk van die voortsnellende motorfiets af.

“Help me, Ruhan! I’m going to see my ass!” smeek die pop in my weergawe van ‘n draak se stem.

Ruhan is tipies wanneer dit by vloek kom. Hy mag nie vloek nie, maar bad words is vir hom skreeusnaaks. Ek sien hy wil-wil lag, probeer dit met ‘n proes inhou. Ek maak of Godzilla van die plastic motorbike af voeter en oor die vloer rol. Ruhan lag hard. Ek tel hom op my skoot.

“Pappa, I need to tell you something.” Die traantjies is naby. “I didn’t mean to break your stick, it just got stuck in the chair’s legs.”

Ek druk hom styf teen my vas.

Sy mamma het toorhande. Daardie aand pas sy die appelkierie se been netjies aanmekaar en draai wit duct tape styf om die breek.

“Voila!” roep Ruhan uit.

Sy mamma het ‘n idee: ek moet Ruhan ‘n kierie gee wat net syne sal wees, hy moet dan sorg dat sy kierie nie breek nie.

Ek kies toe ‘n kierie wat te kort vir my is, want dit het al een keer gebreek en kan maar weer. Dis van wilgerhout, amper so sag soos populier, buig te maklik.

En wat doen hierdie laaitie van my? Hy pas sy wilgerstokkie soos goud op, strate beter as wat hy my arme appelkierie opgepas het.

 

einde

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!