Skip to main content

Groen vlerke – Deur Selma Steyn

Ankia bekyk die blou papiertjie wat in haar hek gedruk was. Dit is ‘n uitnodiging na ‘n partytjie waar die gaste spesifiek fantasie-klere moet dra.

“Nogal by nommer negentien, meneer neus-in-die-lug. Vir wat sou hy ons nou goed genoeg ag om na ‘n partytjie te nooi?” wonder sy hardop. Sy gooi die uitnodiging in die silwer houer by haar voordeur. “Nie dat ek sal gaan nie.”

Carmen bel haar later die middag. “Wat maak jy?”

“Nig, ek plant tulpe. Danksy jou is my selfoon nou vol modder.”

“Gaan jy?”

“Gaan ek wat?” Ankia weet dat haar niggie na die uitnodiging verwys. Hulle woon in dieselfde veiligheidskompleks.

“Na Heino se partytjie toe, natuurlik!”

“Gmf! Hy sal hom wat verbeel. Kan nie eers sy elmboog beweeg om terug te groet as mens vir hom waai wanneer jy by hom verby ry nie. Hoekom sal ek my tyd mors om sy uitnodiging te aanvaar?”

“Want, liewe enkellopende dame, elke hubare ryk jong man gaan daar wees. Daarvoor het ek gesorg,” giggel Carmen.

“Wat bedoel jy?” Ankia gaan sit plat op die gras want sy weet dat Carmen besig is met iets onderduims.

“Ek het vroeg vanoggend almal wat ek nie daar wou hê nie se uitnodigings uit hulle hekke gaan gaps, en by die kompleks oorkant se posbusse gaan indruk. Komaan, jy moet erken, dit is ‘n briljante plan om ons dalk te help om ‘n stinkryk man aantree. Die oorkantste kompleks se goedkoopste huis kos niks minder as ses miljoen nie. Enigeen wat sestig duisend rand aan ‘n verband kan betaal, kan maar na my vry,” giggel sy.

“En hoe weet jy nogal dat jy dit in die regte plekke ingedruk het?”

“Mike, die sekuriteitswag wat daar werk het my ingelig oor wie om te nooi. Sy suster behartig my administrasie, en hy was maar te gewillig om te help,” lag Carmen guitig.

“Jy speel op Avbob se stoep. Sê nou Heino vind uit? Hy gaan mos sien dat al hierdie vreemde mense by sy enorme huis opdaag!”

“Dink jy dat hy hulle sal wegjaag? Nog nooit nie! Toe, kom saam met my? Ek sal jou betaal as ek moet.”

“Met watse geld nogal? Alles is in jou besigheid belê,” sê Ankia droogweg.

“Dis waar. Oukei, dan gee ek jou daardie rooi rok waarna jy altyd so vry.”

“Daai rok is … seksie! Asemrowend! Perfek!”

“Sê jy sal gaan, dan is dit joune. Stroes bop!”

Ankia sug. “Jy weet dat ek nie gaan nee sê nie, né? Wat trek mens nogal aan?”

“Ek gaan soos ‘n heks. Dis buitendien wat Janno my gereeld toesnou as ek nie saam met hom wil gaan eet nie,” grinnik Carmen.

“Wat is nogal fout met Janno?”

“Ai, Ankia, het jy ons al langs mekaar sien staan? Ek moet afbuk om hom op sy kop te soen. Hy sê dat hy mal is oor lang vrouens. Àl die vrouens is langer as hy!”

“Carmen, hy kan nie help dat hy ‘n bietjie aan lengte ontbreek nie. Hy is immers ‘n dwerg…”

“Oulik dalk, maar nie vandag nie, en nie vir my nie, dankie. Ek soek ‘n lang man wat my van my voete af kan soen, en oor sy skouer kan gooi en huis toe vat as ek nog wil kuier. Ek sal vir Janno só moet rond dra.”

Ankia lag. “Jy het ‘n punt daar beet. Wanneer bring jy my rok?”

“Uitstekend! Ek is nou nou daar.”

******

Ankia bekyk haarself vir oulaas in die spieël. “Oulike feetjie, wie sal jou nou kan weerstaan?” vra sy met ‘n droë glimlag.

“Jinne, maar jy lyk mooi!” sê Carmen in die deur. “Jy het tot die tosseltjies op jou skoene! Waar kry jy die pragtige vlerke?”

“Hou jy daarvan? Ek het dit gou gister aanmekaar geslaan.”

“Jy maak my siek. Jy is so kunstig, en kan naaldwerk doen en alles. Ek is net goed met somme.”

“Hou op kerm. Jy is deksels goed met somme, juffrou die ouditeur. Sal ons gaan?” Sy kyk af. “Is my bene nie te kaal nie?”

“Jou perfekte bene lyk baie mooi in daardie skokkende groen sykouse. Heino se oë gaan beslis op sy wange hang van skok.”

*******

Die tuin is strategies verlig met stringe en stringe gekleurde liggies. Oral staan groepe mense rond, drankies in hul hande.

“Jimmel, die plek is omtrent opgedollie,” fluister Carmen.

‘n Kelner met ‘n skinkbord gevul met verskeie drankies gaan staan voor hulle. “Ietsie te drink, dames? Hier is drankies met of sonder alkohol.”

“Wat is in die groen glase?” vra Ankia.

“Ek het geen idee nie,” lag die kelner, “maar ek weet dit het nie alkohol in nie.”

“Perfek. Ons sal twee neem, dankie.”

Carmen wil protesteer, maar Ankia haal twee glase uit die silwer skinkbord en gee een vir haar niggie. “As jy ernstig is om ‘n ryk man te vang, sal jy by jou volle positiewe moet wees. Hier.”

“Ja Ma,” brom Carmen. Sy pomp Ankia in die ribbes. “Daardie groepie is van oorkant af. Kom jy saam?”

“Nee dankie. Ek sal daar by die swembad gaan sit. Gedra jou!” knip-oog sy.

Carmen salueer en vleg deur die mense op pad na haar teikens.

Ankia kies ‘n sitplek langs ‘n waterval wat by die swembad inloop. ‘Wie ookal hierdie swembad ontwerp het, het beslis talent,’ dink sy.

“Hello daar, slaaiblaar,” roep ‘n mansstem oor die grasperk, sy glimlag ‘n duidelike teken dat hy reeds aangeklam is. Hy peil reguit op Ankia af.

Sy kreun. ‘En dit is presies hoekom ek nie wou kom nie,’ dink sy vies.

Die man gly lomp in die stoel langs haar in. “Hello Tinkerbell! Uit watter feëparadys het jy ontsnap?” sleep sy tong. “Hoe gaan dit met … wat is sy naam nou weer? Die outjie wat nie wou groot word nie?”

Ankia antwoord hom nie.

“Ek is Herman. Van Herman en Herman Advokate.”

Ankia sê steeds niks.

“Hei, is jy doof?” vra hy geïrriteerd.

‘Briljante plan! Dankie!’ Ankia antwoord die man in perfekte vingertaal. Haar broer is doof gebore en sy het saam met hom die taal van die dowes leer praat.

Die man se oë rek van skok en hy swets. “Net my geluk,” brom hy en gly weer uit die sitplek voordat hy op die rand van die swembad wankel, maar gelukkig nie in val nie.

“Kry jy nie skaam nie?” vra iemand kil agter haar.

Ankia draai haar kop en hoendervleis slaan oor haar vel uit. Heino!

“Of is hy nie ryk genoeg nie?” Sy sin is snedig, en sy kyk hoe hy die vol glas wat hy in sy hand het op die tafeltjie langs haar neersit.

“Ekskuus?” Ankia staan op.

“Jy het gehoor wat ek sê, en die dowe roetine gaan nie by my werk nie. Ek het met my eie twee ore vroeër gehoor hoe jy met jou flerrie van ‘n vriendin praat. In woorde, met ‘n stem,” voeg hy by. “Oor ryk mans vang.”

“Ekskuus?”

“Is jy ‘n fortuinsoeker én boonop ‘n idioot? Moet ek stadiger praat?”

Ankia probeer haar humeur in toom bring, maar sy faal dadelik. Dit is een van haar swakhede wanneer sy of haar familie beledig word. Sy haal diep asem en skiet die inhoud van haar glas in Heino se gesig.

Sy een hand skiet uit soos ‘n slangpik, en vou genadeloos om haar dun gewrig. “Verskoon tog, ek het vergeet om ook by te voeg dat jy ‘n ongemanierde rissiepit ook is.” Sy stem is soos ys.

“Los my, jou swierbol!” sis Ankia.

Hy gooi sy kop agteroor en lag sarkasties. “En bevooroordeeld ook. En dit van iemand wat my nie eers ken nie.”

Ankia pluk aan sy vingers met haar ander hand maar hy verstewig net die drukking wat hy op haar arm uitoefen.

“Jy maak my seer, jou lummel!” Sy stamp hierdie keer hard aan sy borskas, en Ankia en Heino besef geskok dat hulle omkantel.

Die swembadwater omvou albei en Heino los haar pols dadelik om na die oppervlakte te swem. Hy staar na waar Ankia bo die water gaan opkom en wag vir ‘n tirade om los te bars.

Sy lig haar gesig stadig uit die water en staar terug.

Heino se hart ruk. Die manier wat die waterdruppels aan haar ellelange wimpers hang is soos iets uit ‘n sprokiesboek. Dit glinster soos ‘n diamantraam om haar smaragkleurige oë.

Ankia maak haar nek styf en loop by hom verby na die vlak kant van die swembad. ‘n Groen wolk vorm nou om haar in die helderblou water en mense begin nader staan om te kyk wat aangaan. Die verf wat sy aan haar tuisgemaakte vlerke gespuit het, het ‘n waterbasis gehad, en was nou af met elke tree wat sy gee. Sy klim teen die trappe op en pluk die nat vere van haar skouers af. Die stywe groen vere van voorheen is nou net pap en wit.

Heino volg elke tree wat sy gee. Haar satyn rompie klou verleidelik aan haar slank bene, en hy wens dat hy nie so sarkasties was nie.

Ankia loop tot by die stoel waar sy voorheen gesit het, tel Heino se glas op, en sluk die inhoud met een teug weg. Dan gee sy hom ‘n vuil kyk voordat sy oor die gras loop.

‘Genade! Wat was in daardie glas?’ dink sy geskok. Haar oë traan van die brandende paadjie wat die drank in haar keel af gemaak het. Sy snak na haar asem, maar probeer om haar gesig reguit te hou voordat sy die vere wat soos ‘n pap handsak oor haar arm hang op die tafel neersmyt. Ankia gee Heino nog een kyk, en loop weg.

Nuuskierige oë volg haar totdat sy by die hek uit is.

Om die hoekie, agter die soliede muur waar niemand haar kan sien nie, buk sy vooroor en haal ‘n paar keer diep asem voordat sy oor die straat storm na haar huis toe.

Later sit sy op haar patio met ‘n glasie wyn en dink weer aan die gebeure van vroeër. Sy bars uit van die lag. “Laat dit vir my ‘n les wees! En vir hom,’ giggel sy toe sy die handdoek wat om haar hare gedraai is afhaal. “Ek hoop sy swembad bly vir ewig groen.”

Carmen was een van die mense wat die petalje aanskou het. Haar bloeddruk het die hoogte ingeskiet, maar toe sy sien hoe Heino vir Ankia agterna staar, het sy met ‘n skelm glimlag haar arm deur Chris se elmboog gehaak. “Vertel my verder van die winter in Switzerland,” pruil sy uitlokkend, en Chris gehoorsaam opgewonde.

Heino het nou droë klere aan en hy staan langs die area waar die skape op die spit draai. Sy oë soek na die vrou wat saam met sy deurdrenkte feë hier opgedaag het. ‘Ah, daar is sy.’ Hy loop oor die plaveisel tot by ‘n ou vriend van hom. “Hier is jy Chris,” sê Heino. “Sal jy asseblief onthou om môre te reël dat my karre van die lughawe af aangery word? Stefan het aangebied om te help as jy sukkel.”

“Natuurlik, baas,” glimlag Chris vriendelik.

“En wie is jou oulike metgesel?”

“Ag verskoon tog! Heino, dit is Carmen. Carmen, my beste vriend, maar ook my baas, Heino.”

Heino hou haar reaksie fyn dop, en is verbaas om te sien dat die feit dat Chris vir hom werk nie werklik saak maak nie. Dinge maak nie sin nie. Hy het self gehoor hoe sy en haar vriendin beplan om ryk mans hier te ontmoet. “Jou vriendin…” begin hy.

“My niggie. As jy praat van die meisie wat saam met jou geswem het? Dis my niggie. Sy bly in nommer sewe. Ankia.” Sy sug. “Jy skuld haar ‘n verskoning. Weet jy watse krag verg dit om so, sopnat met alles wat deurskyn, voor honderde mense verby te loop, en steeds jou kop omhoog te hou?”

Heino sluk skuldig. Alles wat deurskyn?

Carmen draai na Chris. “Waar was ons nou weer?” Sy draai haar rug op Heino en hy kan dadelik aflei dat hy moet skoert.

*******

‘n Week is verby sedert die partytjie, en Heino brand om aan Ankia se voordeur te gaan klop. ‘Om wat te doen?’ vra hy. ‘Jy moes al die volgende dag gegaan het om haar om verskoning te vra. Dit is nou te laat.’

Hy staar ook na elke voertuig wat in die kompleks ry die afgelope week om te kyk of hy haar nie raaksien nie. ‘Kruip sy vir my weg?’

*******

“Ankia, jy kan nie vir ewig in jou huis sit nie. Die yskas is leeg, en jou verf is op. Die skildery gaan nie met towerkuns homself voltooi nie,” baklei Carmen.

“Ek het baie blikkieskos,” sug Ankia.

“Jy is bang dat jy in Heino gaan vasloop!” lag Carmen. “Hy is nogal oulik, hoor.”

Haar kop ruk op. “En hoe weet jy dit nogal?”

“Ons het ‘n gesprekkie gehad. Ek het hom uitgetrap oor die swembad-episode.”

“Jy is ‘n verraaier. Jy los my om stoksiel alleen druipnat huis toe te loop. Voor al daardie ryk mense!” Sy besef wat sy sê en bars uit van die lag. “Ek wed jou hulle praat nou nog van die sopnat half-groen, half-wit persoon wat vir die aand se vermaak gesorg het.”

“Al waaroor hulle daardie aand gepraat het, is die glas suiwer mampoer wat jy sommer so, sonder om te snak na asem, of te hoes, weggeslaan het. Dit was blykbaar ‘n nuwe soort mampoer wat Heino maak en hy wou vir Chris daarvan gee om te proe.”

“Is dit wat dit was? My sinusholtes was sommer oopgebrand!”

“Kom, ek en jy gaan winkels toe. Jou kaste lyk soos Mother Hubbard s’n. Nee,” hou sy haar hand omhoog toe Ankia wil protesteer. “As ons in hom vasloop dan het jy darem vir my om te help skel. Roer jou, Chris laai my netnou op om te gaan fliek.”

*******

Heino ry by die kompleks in net toe Ankia en Carmen uit ry. Hy draai sy kar om en ry op ‘n afstand agter hulle aan. Hy volg hulle tot by ‘n winkelsentrum en vind ‘n parkering naby aan die swart koepee waarmee hulle ry. “Ja, en wat gaan jy nou doen?” vra hy vir homself.

Hy besluit om te wag, en toe hulle later terugkeer volg hy hulle weer terug huis toe. “Dit was nou ‘n nuttelose oefening,” betig hy homself toe hy by sy hek inry. ‘Nie heeltemal nie. Ek het haar darem weer gesien,’ dink hy.

*******

Carmen help gou om die aankope in te dra en verkas. Sy rep nie ‘n woord aan Ankia dat sy gesien het hoe Heino hulle heen en weer volg nie. Sy stop by sy hek nadat sy by Ankia weg is, en druk die interkom se knoppie.

“Ja?” antwoord ‘n man se stem.

“Heino?”

Hy kan op die monitor se skerm sien wie by sy hek is. “Ja, Carmen.”

“Luister nou mooi vir my. Jy beter by nommer sewe uitkom. Maak ‘n verskoning op, man! Ankia kruip nou al die hele week vir jou weg. Sy gaan doen nie eers inkopies nie. Wil jy hê dat sy van die honger doodgaan?”

Hy is oorbluf. “N-nee.”

“Vir wat het jy agter ons aangery?” Carmen tik haarself teen die voorkop. “Hah! Jy hou van haar! Toe, erken dit!”

“Ek sien al die heel week haar groen oë in my gedagtes. Voel haar lyf teen my toe ons die water tref…”

“Nou toe! Doen dan iets daaraan. Ek praat nie weer nie.” Sy klim in haar kar en ry weg.

Heino besef dat hy sy gedagtes hardop ge-uiter het en hy klap sy tong. ‘Carmen is reg. Ek moet iets doen.’

*******

Ankia vryf die blertsie hare wat steeks agter haar oor uitval weg van haar wang en staan terug om die skildery te aanskou. “Perfek!” Sy sit haar kwas neer en trek die verfbesmeerde oorjas uit.  “Ek hoop Dawie is tevrede met dié een.”

Later sit sy op haar voorstoep met ‘n glas rooi wyn en kyk hoe die voëltjies in die voëlbad baljaar.

Die bure se honde blaf aanhoudend, en sy stap na die klein hekkie om te kyk wat aangaan. Voor haar motorhuis se deur staan ‘n reuse mandjie met seker twee dosyn helium-balonne daaraan vas gemaak. Die balonne waai heen en weer in die briesie. G’n wonder die honde gaan tekere nie.

Sy stap deur die motorhuis en maak die deur oop. Al die balonne se bewoording is dieselfde: ‘Jammer.’ Die mandjie is gevul met allerhande lekkernye. Sy kyk rond maar daar is niemand nie. Die mandjie word na binne getrek en sy maak weer die elektroniese deur toe. “Iewers is ‘n slang in die gras. Hoe weet die persoon waarvan ek hou?”

Sy bel vir Carmen.

“Hou jy daarvan?” vra Carmen sonder om te groet.

“Was dit jy?”

“Het ek iets gedoen waaroor ek moet jammer sê?” vra Carmen droogweg. “Al waaroor ek skuldig is, is die lysie met alles waarvan jy hou.”

“Heino?”

“Die einste. Die bal is nou aan jou kant van die net. Gaan jy dit terug slaan, of gaan jy die wedstryd verloor?” Carmen druk die foon dood.

“Dêmmit!” Ankia pak die mandjie uit terwyl sy wonder wat sy gaan doen, en vind ‘n papiertjie heel onder in met ‘n foonnommer op, en die woorde ‘As jy wil kontak maak’ onderaan geskryf.

Sy sug. Sy was nog nooit ‘n goeie verloorder nie.

Sy gryp haar selfoon voordat sy van plan kan verander. ‘Ses uur. My plek.’ Sy druk die knoppie en sien dat die boodskap gestuur is. Sy wag skaars drie sekondes en kan sien dat hy dit gelees het. ‘Jou gans is nou in die spreekwoordelike dam, suster. Kom ons hoop dat jy kan swem,’ grinnik sy.

*******

Heino swem dertig lengtes deur sy swembad, en met elke swaai van sy arms voel hy meer en meer soos ‘n skoolkind voordat hy stort en aantrek. Tien voor ses haal hy diep asem en maak sy hek agter hom toe. Met elke tree nader aan nommer sewe word sy handpalms klammer, en teen die tyd dat hy die klokkie by die voordeur lui, voel dit of sy wange aan die brand is.

Ankia maak die voordeur oop.

Heino sluk senuweeagtig. “Hallo.” Hy haal iets agter sy rug uit. Dit is ‘n stel groen vlerke. “Vir die ander wat geruïneer was,” sê hy.

Ankia glimlag. “Kom in.” Sy vat die vlerke by hom en staan terug. ‘Ek het nie vlerke nodig nie,’ dink sy. ‘Ek vlieg elke keer as ek net aan jou dink.’

“Dankie.” Hy vryf oor sy weerbarstige kuif. “Jammer oor nou die aand,” glimlag hy skaam.

Ankia lag. “Jy kon my gewaarsku het oor die drank in jou glas. My ore het tot laataand gefluit.”

“Jy was te vinnig.” Ek was versteen. En asemloos.

“Wyn?” offer Ankia.

“Dankie.” Hy kyk hoe sy die koue lafenis skink en voel sy hart in sy ore klop. “Jammer oor die verkeerde afleiding wat ek gemaak het. Carmen het alles verduidelik.”

“Mm, Carmen het haar neus nogal tot teen haar wange in my sake, lyk dit my.”

“Ek is baie dankbaar. Sonder haar neus in jou sake sou ek nou tien teen een langs my swembad gelê het met ‘n boek. Maar nou…”

Ankia se hartklop versnel. “Ja, maar nou?”

Hy lig sy glas. “Nou wil ek jou graag beter leer ken. En hopelik hou jy darem genoeg van my om nie vir ‘n week honger te ly net sodat jy my moet vermy nie.”

Ankia lag en tik haar glas liggies teen syne. “Dit is heel duidelik dat ek definitief nie ooit weer sal honger hoef te ly nie,” lag sy, gelukkig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!