Jacques de Klerk
Ons almal was al te lui om te kook. Soms hol die lewe met ons weg en jy sien doodeenvoudig nie kans om nog met jou moeë en tam lyf voor ’n stoof te gaan staan.
Gelukkig is daar gerieflike alternatiewes soos ’n lasagna van ’n kettingwinkel wat jy blitsvinnig in die oond kan druk, of selfs ’n hoenderpastei, maar kenners waarsku dat dié gerieflike maaltye nie noodwendig die voedingswaarde bevat wat jou liggaam nodig het nie. Dit kan selfs gesondheidsrisiko’s in hou.
“Dié sogenaamde ready made meals word dikwels met baie bymiddels verwerk sodat dit winsgewende, gerieflik en smaaklik is. Maar om hierdie kos gereeld te eet, kan teen ‘n prys kom, nie gemeet in rand en sent nie,” sê Mariana Davel, ’n dieëtkundige.
Sy is van mening dat meeste van dié produkte nie die nodige vesel bevat wat ons liggame nodig het nie.
“’n Gebrek aan dieëtvesel kan bydra tot ernstige gesondheidsprobleme soos abdominale vetsug, insulienweerstand, verhoogde bloeddruk, spysverteringstelselsiektes en kanker,” sê sy.
Volgens haar beveel meeste lande aan dat volwassenes ongeveer 25 tot 35 gram se vesel per dag moet inneem.
Mbali Mapholi, ook ’n dieëtkundige, is in akkoord en sê daar is verskeie kossoorte wat hoog is in vesel.
“Dit sluit in vrugte, groente, peulgewasse, neute en sade. Deur gereeld hierdie kosse te kies, sal jy help om te verseker dat jy aan jou daaglikse veselbehoeftes voldoen en ook sekere siektes voorkom. Jy sal ook jou algehele welstand verbeter,” sê Mbali.
Volgens Mbali is dit belangrik om bewus te wees van hoekom ons elke dag die aanbevole hoeveelheid vesel moet eet en om te weet hoe om uit te vind watter kosse die beste bronne van vesel bevat.
“Sodoende sal jy kossoorte kan uitsoek wat hoog in vesel is en waarvan jy hou.”
“Vesel is ‘n soort koolhidraat wat in plantvoedsel voorkom wat nie ten volle deur die dunderm verteer kan word nie en die dikderm byna heeltemal ongeskonde bereik,” sê Mariana.
Sy sê vesel is veral noodsaaklik om stoelgang te reguleer en om goeie bakterieë in die dikderm te kweek.
“Al verskaf dit nie voedingstowwe nie, is dit steeds ‘n belangrike deel van jou dieët.”
Mariana verduidelik dat daar twee soorte vesel in kossoorte voorkom.
“Wanneer jou liggaam oplosbare vesel inneem, vorm daar ’n jelagtige stof in die maag. Dít reguleer die spysverteringstelsel, help om bloedsuikervlakke te verlaag en help ook met cholesterol.”
Sy sê dié soort vesel kry jy hoofsaaklik in kosse soos hawermout, ertjies, boontjies, appels, sitrusvrugte en wortels.
“Onoplosbare vesel los nie in water op nie en help met die spysverteringstelsel, en voorkom hardlywigheid. Dit sluit kossoorte soos volgraan, neute, sade en groente soos blomkool, groenbone en aartappels in.”
Mbali beklemtoon dat jy ook genoeg vloeistowwe moet inneem.
“Vesel is soos ‘n spons. Sonder vloeistof bly vesel hard. Wanneer jy vloeistof byvoeg, swel dit en word dit sag.
“Dit maak dit makliker vir die spysverteringskanaal om kos te prosesseer. As jy vesel eet sonder vloeistof, sal jou stoelgang hard wees. Dit is dus baie belangrik om daagliks ten minste ses tot agt glase water te drink.”
Sy raai mense ook aan om stadig vesel by hulle dieët te voeg.
“Doen dit geleidelik om moontlike newe-effekte soos winderigheid te vermy. Verhoog eers die inname van volgraanprodukte soos brood en graan. Voeg dan veselagtige vrugte, groente en peulgewasse by. Die liggaam sal aanpas by ’n verhoogde veselinname, en die newe-effekte sal geleidelik verdwyn.”