‘n Video-opname van ‘n 64-jarige vrou wat wys hoe sy met verkiesingsplakkate peuter, het gelei tot die vrou se arrestasie ingevolge die Kieswet 73 van 1998. Volgens dié wet word die onwettige skending en/of verwydering van plakkate deur geregistreerde partye verbied.
Die vrou is met ‘n waarskuwing vrygelaat by die Sasolburg-polisiekantoor.
In die video verwyder die vrou ’n ANC-plakkaat met haar kierie terwyl ’n man haar daaroor aanspreek. Sy steur haar nie aan die man nie, maar sy uiter duidelik “Die ANC is gemors.”
“Dit moet beklemtoon word dat die verwydering van verkiesingsplakkate onwettig is en as vandalisme of gepeuter met veldtogmateriaal beskou kan word. Dit is noodsaaklik om die demokratiese proses te respekteer en politieke partye en kandidate toe te laat om hul materiaal te vertoon soos deur die wet toegelaat,” het Brig Motantsi Makhele gesê.
Die saak word steeds ondersoek.
Die vrou se volgende verskyning in die hof is op 22 Mei.