Skip to main content

Paul C Venter

Terwyl die man van die petrolstasie Willy se Landrover vol maak, stel hy homself voor. Sy naam is Johnny Spencer-Gaskill, in ‘n vorige lewe glo sersant-majoor van die Britse regiment wat Adolf Hitler se ondergrondse bunker in Berlyn ontdek het en na die oorlog in Hitler se berghuis gekamp het. Hy woon alleen, sy vrou is terug Engeland  toe en help hulle seun huise verkoop, maak glo vyfhonderd pond per maand.

Sakkie weet nie of hy al die stories glo nie; dis al weer ‘n Engelsman met twee vanne, verdammt.

Johnny Spencer-Gaskill het Willy nog nie ontmoet nie, maar ken sersant Harry Wallace-Harrison wat die polisiestasie run. Hulle speel saam gholf. Dis vir hom strange dat hy Zack nog nie in die police reserve raakgeloop het nie.

Zack alias Sakkie lieg dis maar sy eerste week as reservis, hy moet bieg hy het sersant Harry nog nie ontmoet nie.

Johnny se rooigebrande bles skyn in die buitelig en hy krap sy buffelhoring van ‘n snor. Sakkie vermoed die man glo ook nie sy twak nie, en hy hou die Purdey so dat hy haar kan laat praat as dit moet. Johnny weet beslis ook hoe om sy haelgeweer te laat praat. Willy swyg soos die graf, knip vir ‘n vale oë en Sakkie wens vir die hoeveelste maal die konstabel was nie so ‘n meisietjie nie.

“You’re welcome to spend the night,” glimlag Johnny. “I have room to spare, but if you’re thinking of a little surprise attack it’s best you visit the village in the dark.”

Sakkie weet die liegbek praat nou die waarheid.

Emma Bakker wys Maggie en Becky waar die pastorie se gastetoilet is. Kleinhanna en Corrie gaan wys oupa Sloet hoe om nog diesel in die kragopwekker te gooi. Kerwin en PJ Buys is weer alleen in die sitkamer.

“Sy moet haar purper skaam,” skud PJ Buys sy kop.

Kerwin is nie meer kwaad nie, die halfmaan aan sy keel nou ‘n dooie maan. “Van wie praat ons?”

“Auntie Jailbait. Maggie Grundling. Die skone Magda. Vertel Sloet hier reg voor my Kaatjie is op pad  Nairobi toe. Het ek opeens onsigbaar geword?”

“Oh my word, Buys, ‘n blinde kan deur jou sien. Jy’s so lus vir Maggie jy trap jou tong raak.”

“Lus vir haar? Vir ‘n lyf wat my in ‘n rystoel kan sit? Magistraat, jy soek nou in die hondestal wors … ek vermoed jy kort ‘n lyfie in jou lewe.”

“Ek was lank en gelukkig getroud, dankie.”

“Kerwats, moenie bevrees wees nie, dit tel nie as jy Meisie in die hemel verneuk nie. Dink jy Becky Johnson-Cloete is tweetalig onder die komberse? Spreek sy seer suiwer Afrikaans as die oomblik kom?”

“Bloody hell, PJ. Ek kon haar pa gewees het.”

PJ Buys lag geluidloos, sy mond staan oop. “Hanou, wag, is dit hoekom jy haar wil straf? Raak ontslae van die jeugdige versoeking?”

Kerwin se keel begin weer gloei. “Jy weet, Sloet vat eerder ‘n Eskimo as ‘n Kakie se part, jy vat sommer enige iemand se part by wie jy kan slaap. Dis hoekom  jou vrou jou die deur gewys het.”

PJ Buys oordryf  ‘n sug. “Inderdaad, Kerwatsie, maar hierdie hervormde Christen vat nie meer enige iemand nie, helaas, nie sommer nie.”

Dis eerder ‘n skeur as ‘n grot hoog teen die berg. Ys groei uit die rots. Aggie gebruik die maanskyn om te sien wat hy vat: ‘n Lee-Enfield en ‘n ou bandelier uit die bende se kis. Hy druk die bandelier vinnig vol drie-nul-drie patrone.

Donner und blitzen, sy bewerasie is nie net van die koue nie. Sy senuwees vreet so hy laat drie patrone in die sneeu val en moet soek om hulle weer te kry. Miskien gaan hy verniet soos ‘n bangbroek aan, miskien glo Mutugi hy hol padlangs en weet nie hy is berg-op agter skietgoed aan nie.

Maitu het nie gesien na watter kant hol hy nie, het sy? Al het sy, weier Aggie om te glo sy sal dit vir Mutugi vertel.

Danke und auf wedersehen, met ‘n bietjie geluk is hy berg-af en vort voor enige mensgoed sy spoor vat. En al moet hy ‘n ryding langs die pad met die geweer stop; voor sonop wil hy terug op die koffieplaas wees.

As Sakkie en die dogters daar is, en hulle word nie deur sersant Harry aangehou nie, gaan hy van nou af elke liewe dag twee keer bid. Maak dit drie keer. Ach himmel, hoeveel keer die engelgoed ook al soek.

Hy wil die kis toeklap en hier wegkom, maar iets metaal in die kis knipoog van die maanlig: Karimi se Duitse masjienpistool. Nadat Karimi geskiet is moes een van sy Mau-Mau die gevaarlike ding in die kis gegooi het. Die miraa-kouery laat hulle koppe draai.

“Prima,” prewel Aggie, “jy kom saam.”

Dis middernag toe Emma se gaste groet, sy en die dogters sien hulle by die Jaguar en Landrover af. Sloet Steenkamp wil agter James Kerwin en luitenant Becky in die Landrover klim, maar die kaptein is nie net ‘n lieflike ou man nie, hy het verdomp maniere.

“Sloet, jy en PJ Buys ry by Maggie,” beveel hy feitlik. “Sy gaan nie weer alleen in die donker ry nie.”

PJ Buys salueer spottend en gaan klim agterin die Jaguar, maar Sloet Steenkamp gee kaptein Kerwin eers ‘n dun glimlaggie wat sê met wie dink jy praat jy? Emma kan sien tant Maggie kry seer maar bly stil.

Kleinhanna en Corrie gee hulle oupa ‘n laaste drukkie voor hy langs tant Maggie in die Jaguar klim.

Emma wil nie vloek nie, maar is Sloet Steenkamp regtig Izak Vogel se pa? Die ou man is dierbaar met sy kleindogters, maar behandel tant Maggie en luitenant Becky stief. Hy baklei nie, maar Emma voel hy het ‘n streep tussen hulle en homself getrek. Dis nie die skynkoelte wat PJ Buys vir tant Maggie wys nie; Emma ken mansmense in die gemeente wat haar net so behandel en agter Harald se rug wil hulle aan haar boud vat.

Tant Maggie het ook ‘n Harald. Wil jy nou meer.  Sy loop draaie om nie oor hom te praat nie. Emma wil nie vloek nie, maar is al die Haralds op godsaarde ‘n pyn in die gat?

Luitenant Becky se houding vertel ook ‘n storie, Emma wonder watse storie? Die pet en uniform maak haar hard lyk, maar sy is nie. Sy het op haar Landrover se radio gevra vir ‘n peloton soldate wat die pastorie vannag moet oppas. Sy het doodseker gemaak hulle gaan nou hier wees. Emma het haar nie gevra om dit te doen nie.

Die Jaguar wil nie vat nie. Tant Maggie probeer weer. Die enjin maak ‘n klikgeluid.

“Blitzen und donner, dis die starter!” roep Corrie uit. “Hy haak vas!”

Luitenant Becky stem saam. Sy skuif agter die Landrover se stuurwiel uit, vra of tant Maggie sal omgee as sy onder die bonnet kyk.

“Asseblief, Becky.” Tant Maggie klink moedeloos. “Hy’t nie by die karplek so gemaak nie.”

“Want jy’t toe nog nie te veel vir hom betaal nie,” sê Sloet Steenkamp.

“Donkie kap eers om as die smous weg met die geld is,” se PJ Buys.

Emma voel lus en verwurg hulle. Sy kan sien tant Maggie is nie gelukkig nie.

Corrie gaan help luitenant Becky om die Jaguar se enjinkap oop te maak. Kleinhanna bly by Emma op die stoeptrap staan, skud haar mooi koppie.

“Daai kind gaan nooit ‘n man kry nie,” sug sy.

Emma forseer ‘n laggie. “Moenie so seker wees nie. Mansmense hou van vrouens wat goed kan regmaak.”

“My pa kan enige ding regmaak,” se Kleinhanna.

Jou pa, dink Emma, het uit die hemel geval. Mag die Vader gee dat hy veilig is.

Kaatjie lees ‘n storie van ‘n aantreklike swaardvegter wat uit Frankryk gegooi is oor hy te veel tweegevegte gewen het en te veel maagde verlei het. Nou vang hy dieselfde ding in die Kaap aan.

Dis sommer lawwigheid. Sy klap die boek toe. Twee maagde in Kenia het hulle ma in ‘n bloedbad verloor en hulle pa is weg. Dis nie net ‘n storie nie.

Sy kan nie op die vliegtuig slaap nie. Dit maak geluide wat nie veilig klink nie.

Het haar ma die woonsteldeur gesluit? Ligte afgesit? Krane toegedraai? Sy het al  waterskade veroorsaak. En nou wil sy skei.

Kaatjie het gehoop maar nie regtig geglo haar ma sal haar pa terugvat nie. Tog was dit nog nie skei nie. Skei is die begrafnis van ‘n stuk lewe, maar niemand is dood nie, jou gevoel vir die man ook nie. Almal verwag jy moet elke môre opstaan, piepie, was, tande borsel, ontbyt eet en werk toe gaan terwyl jy net saam met daardie stuk lewe in die graf wil spring.

Dalk is Sakkie ook al in ‘n graf. Die gedagte gryp aan haar hart. Neuk met ‘n gyselaar agter Achtung Sneller aan in ‘n oorlog; die gyselaar is ‘n polisieman. Verdammt, haar ma noem dit wahnsinnig maar dis erger, dis selfmoord!

Sy staar deur haar weerkaatsing in die ronde venster langs haar. Die maan skyn op silwer wolke. Hier agter haar giggel iemand oor iets. Sy druk die lawwe boek in haar handsak.

Sy lewe ‘n lawwigheid. As Sakkie dood is, dan is haar belaglike droom van ‘n wonderwerk ook dood. Sy sal nie soos Abraham se Sara kan wees nie.

Daar kan nie ‘n kind uit ‘n lyk kom nie.

Dis koud en windstil hier naby die wit berg. Rook hang stil en bleek in die maanlig. Sakkie ruik dis bloekomhout wat in die hutte gebrand is. Van die vure bly daar nou net ‘n geflikker onder die sinkplaatdakke oor.  Die gehuggie slaap, nie eens ‘n hond knor nie.

Willy het die Landrover by die grootpad gelos. Hulle het bult-op gesluip, Sakkie met die Purdey onder sy baadjie in. Die man by die petrolstasie het beduie net die winkel is van baksteen en groen geverf, dis maklik om te kry.

Sakkie moet sy oë oophou vir gevaarlike beweging in die skaduwees en hy moet Willy dophou. Hulle is diep tussen hutte in voor hulle die groen winkel met sy groot rooi woorde op vasgespykerde plaat sien: Happy Valley General Dealer. Die rooi lyk amper swart in die nag.

Die winkeldeur is gesluit. Lamplig skyn in ‘n venster, iemand praat saggies in die slaapkamer anderkant die venster. Sakkie klop aan die venster. ‘n Gesig verskyn in die lamplig. Die groot swart oë is onrustig, die stem ook.

“We are closed,” fluister Maitu.

Die straatligte van Nairobi werk nie almal nie. Becky se Landrover ry voor, Maggie volg met die Jaguar hotel toe. Die fout met die aansitter was iets wat net Becky en klein Corrie verstaan.

In die ry probeer Kerwin die haakplek met Becky heelmaak. “Jammer oor die misverstand, luitenant, ek waardeer dat jy wil terugstaan.”

“Dis nie ‘n misverstand nie, kaptein.” Haar stem is koel en sy hou haar oe op die pad. “Ek doen net my plig.”

“That’s not the problem at all, ek vertrou jou.”

“Verskoon my, maar dis nie die indruk wat ek kry nie.”

“Die probleem is twee hardekoppe wat nie besef die Boereoorlog is verby nie.” Hy wag verniet dat sy moet praat. “Becky, jy’s ‘n uitstekende gids en drywer, mag ek namens jou met die twee praat?”

“Namens my?”

“Ek kan verduidelik jy het niks bedoel nie, Engels en Afrikaans is vir jou soos dit vir my geword het. Ek sal nie met hulle baklei nie.”

“Begging your pardon, sir, dit klink eerder na smeek as baklei.” Haar stem het kouer geword. “Ek kniel nie graag nie, dit gee my kouse bokknieë.”

In sy huis agter die petrolstasie kom Johnny Spencer-Gaskill uiteindelik deur na sersant Harry Wallace-Harrison se huisnommer. Die sersant het al geslaap, vat ‘n paar tellings voor hy Johnny se stem plaas.

“Johnny, bloody hell, you know what time it is?”

“Sorry, Harry. I need to ask you something. Constable Willy, Zack Somebody. The names ring a bell?”

WORD VERVOLG

Leave a Reply

error: Content is protected !!