Skip to main content

Die duiwel is los in die gewoonlik stil Bronkhorstbaai.

Louis Liebenberg, onafhanklike kandidaat in die komende verkiesings, en die bestuur van die luukse Aqua Vista Estate is haaks nadat die sekuriteit by die ontwikkeling se hek ‘n groep van 40 besoekers gisteraand probeer verhoed het om met hulle bus by die hek in te ry.

Die besoekers was op die bus omdat hulle die dag aan ‘n stemwerwingsveldtog in Bronkhorstspruit deelgeneem het. Hulle wou Liebenberg besoek om vandag en môre se veldtog by die NAMPO-landbouskou naby Bothaville te bespreek.

“Toe ons om sesuur die middag met die bus en twee motors by Aqua Vista aangekom het, het hulle geweier dat die bus ingaan. Hulle het verwag dat ons 40 besoekers, waarvan verskeie nie meer jong mense is nie, die sowat een kilometer na my huis toe loop en later weer terugstap.

“Daarop het Dezzi, my vrou, twee keer gaan mooi praat maar Johannes Landman, die ontwikkelingsbestuurder, het telefonies opdrag gegee dat die mense nie kan campaign nie. Dit was nooit die plan nie. Ons sou net met die bus tot my huis ry en daar 30 minute besin oor die volgende dag se beplanning. Na ‘n lang ruk het ek my moer gestrip en ingery en die bus in my sleurstroom laat inry.

“Hulle het ‘n ou Suid-Afrikaanse manier van mense hanteer. Hulle weet ek ondersteun Zuma en is rassiste,” het Liebenberg aan Die Waarheid gesê.

“Hulle sekuriteit en bestuur is pateties en soek telkens skoor met my. Die dam is oorgroei met hiasinte. Elke inwoner betaal R500 om die hasinte te laat beheer, maar niks gebeur nie. Mense is al in die verlede deur ons hek toegelaat om ons deur te kom afskop, maar ons moet ons gaste ‘n kilometer na ons huis toe laat loop. Hulle is blykbaar gevaarliker vir die estate.”

Dezzi Liebenberg vertel daar is aanvanklik aan haar gesê dat die besoekers nie mag ingaan nie, want die reëls verbied partytjiebusse na 5nm. “Ek het vir hulle verduidelik dit is nie ‘n partytjiebus nie, dit is ons veldtogbus. Toe sê hulle ek moet met mnr. Landman praat. Toe bel ek hom. Ek het nie melding van ‘n partytjiebus gemaak nie, want dit klink mos na partytjie en raas en dit was reeds skemer. Ek het net gesê ons wil met ons veldtogbus inkom, het ons die nodige toestemming?

“Toe sê hy nee, glad nie, daar is mense wat verskillende politieke oortuigings het. Hy wil vra dat ons dit nie doen nie, dit gaan groot moeilikheid maak.”

Die Waarheid het vir Landman gebel om na sy kant van die saak te luister, maar die ontwikkelingsbestuurder was in geen bui om die saak te bespreek nie.

“Ek praat nie met julle nie,” het die ongepoetste vent gesê en die telefoon in ons oor neergeplak.

Die sekuriteitsbestuurder, Sam Masilela, het ook nie sy telefoon beantwoord toe ons probeer bel het nie.

Dit is nog lank nie die einde van die voorval nie. ‘n Ontstelde Liebenberg het in ‘n WhatsApp-boodskap aan Landman geskryf dat hy vir Julius Malema en Carl Niehaus van die EFF sal versoek om die voorval, wat as rassisties ervaar is, te ondersoek. Hy sou dit ook met oudpresident Jacob Zuma by ‘n galageleentheid bespreek.

“Dis genoeg van hierdie bog en jou onvermoë om op ‘n behoorlike manier met mense te werk,” het hy geskryf.

Hy het ook reeds aan sy prokureur opdrag gegee om die menseregtekommissie en die gelykheidshof oor die voorval te nader.

Leave a Reply

error: Content is protected !!