Die diamantmyner en filantroop Louis Liebenberg het 10% van die waarde van die diamante, goud en juweliersware wat vroeg vandeesmaand uit sy vrou, Dezzi, se huis in Kaapstad gesteel is, as beloning aangebied vir enigiemand wat die kosbaarhede of ‘n gedeelte daarvan kan terugkry.
Die waarde daarvan word op R50 miljoen geraam. Die beloning sal pro-rata betaal word vir die terugvind van die goud en diamante as dit minder as R50 miljoen werd is.
Die geslypte diamante, goud en juwele is na bewering in samewerking deur Hein Jooste, Liebenberg se voormalige veiligheidshoof, en Jacques du Preez gesteel. Liebenberg is die peetpa van Du Preez se kinders en het die afgelope paar jaar vir hom gesorg.
Die buit is op die nag van 2 en 3 Mei uit Dezzi Liebenberg se huis in Kaapstad gesteel.
Heinlou Jooste het dieselfde nag verdwyn. Die werksbakkie waarin hy gery het, is sowat ‘n kilometer buite die Noord-Kaapse dorpie Britstown verlate gekry. Jooste se pet is op die instrumentepaneel gevind en die houer waarin die goud en diamante gevind is, is leeg in die bakkie gekry.
Daar is ook met vulstasie-beeldmateriaal vasgestel dat Du Preez op dieselfde tyd as Jooste by ‘n vulstasie in Britstown was.
‘n Ondersoekdossier is by die polisie in Durbanville geopen.
Jooste was voorheen ‘n spesiale ondersoeker en misdaadbestrydingsagent van die omstrede private ondersoeker Mike Bolhuis.
Volgens Liebenberg het Hein reeds 6 maande gelede begin vreemd optree en hy het vir Dezzi gesê Jooste kan nie vertrou word nie.
Du Preez is kort na die diefstal in die Carnival City casino in Brakpan gewaar waar hy dobbel. Hy het op 6 Mei in ‘n telefoongesprek aan Liebenberg gesê Louis is die mens wat hom in sy lewe die meeste gehelp het. Liebenberg het onder meer vir ‘n lewensreddende operasie aan Du Preez se maag betaal.
Hy het ook beweer hy het Jooste “baie lank terug gesien”.
Albei mans is lank en buitengewoon groot gebou. Du Preez is ‘n voormalige bokser en Jooste is welbekend met gevegsporte.