DIRK LOTRIET
Ons Afrikaners se kultuur is deurspek van spookstories.
Daar is stringe van hulle deur CJ Langenhoven. F.W. Reitz se wonderlik vermaaklike narratiewe gedig Klaas Geswint en zyn paert (1870) is een van die oudste gepubliseerde Afrikaanse spookverse en ook een van die oudste gepubliseerde Afrikaanse spookstories naas Reenen van Reenen se kortverhaalbundel Celestine en ander spookstories (1919) en F.W. Boonzaaier se dramateks Die spook van Verlatenfontein: Die eerste Afrikaanse grilstuk (1933). Of my persoonlike gunsteling: A.G. Visser se Die Ruiter van Skimmelperdpan.
En in die minder formele wêreld kan die meeste van ons vertel hoe ons nekhare al orent gestaan het van spookstories om die kampvuur.
Boonop het ons elkeen al hope spookstories gehoor by mense wat vir ons vertel het dat hulle paaie gekruis het met geeste uit die hiernamaals.
Sommige van hulle is spekskieters, maar ander is nogal geloofwaardig…
As student het ek en my vriende gereeld flink keel natgemaak, en dan het dit dikwels gebeur dat die lyke van die bottels waarin daar eens lawaaiwater was, omgegooi is, Nie net omgegooi nie – ons moes die volgende oggend gereeld sien hoe daardie bottels oor die huis versprei is.
Tog het ons steeds die toorn van ons geheelonthouer-spook hopeloos te gereeld getrotseer ter wille van ‘n knertsie of twee.
Toe my seun so vier was, het ek een nag wakkergeskrik van die klank van sy stem. Hy was besig om met iemand te gesels, maar daar was niemand anders in die huis nie.
Toe ek sy lig aansit, toe kyk hy verwytend na my: “Daar jaag jy haar nou weg!”
“Wie?” het ek gevra.
“Die dogtertjie met die perdryklere,” het hy ernstig gesê.
‘n Paar maande later het ek planne van ons stokou huis (gebou in 1918) by die munisipaliteit laat trek omdat ons verbouings wou laat doen. Die planne het gewys daar was oorspronklik stalle net ‘n paar tree van die huis af…
Die skrywer Sonja Brown van Die Waarheid sê sy glo beslis in spoke.
“Sien die gedaantes al van doekdra-dae af. My ma het gedink ek is posessed. Tot sy agtergekom het ek praat met iemand wat hulle nie kan sien nie.
“Mense bel my as dit in hulle huise spook, dan gaan haal ek die gedaantes.
“Mense sal horries kry as hulle moet weet hoeveel spoke saam met hulle in hul karre ‘n lift vang. As jy ry, en dit voel of iemand oor jou hare vryf, dan is dit ‘n spook.
“My eie pa het ophou drink nadat hy een oggend 4 uur werk toe gery het met ‘n babbelaas (hy was ‘n brandy en Coke alkoholis) toe iemand skielik langs hom in sy Peugeot bakkie sit en sê: “Jy moet afslack. Hier voor gaan 3 donkies oor die pad hol.”
“Dit was toe so. As hy nie stadiger gery het nie, was hy tien teen een moer toe. En toe hy weer links van hom kyk, is die spook weg…
Dr Jaco Lotriet van naby Perth doer onder sê reguit hy glo in die bonatuurlike.
“By my studentehuis in Potchefstroom het ons reeds verskeie voorvalle van spoke in die huis gesien toe ek en drie vriende een aand in my kamer gekuier het: ‘n ou tannie wat knaend op en af in die gang gestap het.
“Ek, Groot Koos, Klein Koos en Michael het lekker in my studentekamer gekuier. Groot Koos was effe dronk en het met sy spookbord gespeel – en toe besluit hy om die spoke in die huis te vervloek.
“Bloed het onmiddellik uit die plafon begin vloei. Die ergste was dat dit my kamer was, nie Groot Koos s’n nie. Die bloed het tussen ons geland en begin stol.
“Koos het met behulp van sy spookbord met die spoke probeer kontak maak. Hy het ‘n boodskap gekry dat verskeie mense dood is in daai ou huis. Maar daar was blykbaar ook baie slegte entiteite. En dit was dié wat gemaak het dat meeste van ons getrek het.
“Spoke – of die bonatuurlike – is ‘n gegewe. En hulle is vreesaanjaend.
Dawid Roux, ‘n fotograaf van Johannesburg, vertel: “My ma hulle se huis se sitkamerlig het soms gedim en dan weer aangegaan. Tegniese probleme en regmaak is maar uitgestel.
“Na weermag het ek nog daar gebly en het een naweek heelwat vriende met ‘n impromptu-party vermaak.
“My ouers was uit en ons het so bietjie te veel gedrink. Soos dikwels tevore lê ons almal saam in die sitkamer en nonsens praat.
“Ek vertel hulle toe ‘n ware storie. Die een vorige eienaar, wat voorheen in n sirkus gewerk het, se vrou het daar selfmoord gepleeg. Ek heg toe sommer my eie storie by en vertel dat sy soms die ligte aan en af sit … en daar gebeur dit toevallig net daarna. Die mense het hulself skoon nugter geskrik.”
Die bekroonde digter en romanskrywer dr. Charl-Pierre Naude vertel hy het jare gelede vir ‘n kort tydjie in Mayfair in ‘n skakelhuis gewoon.
“Op n stadium het ‘n vriend van my ingetrek want hy was huisloos nadat sy girl hom onder die gat geskop het. My eie gat was toevallig ook teer weens ‘n baie streng gewese poppie se dinge.
“Anyway, eendag staan ek en my vriend Vlok by die kaggelrak, helder oordag, Vrydagmiddag, elk met ‘n bier in die poot vasgeklem. Dit is nou nadat ek al vir maande sleg slaap wanneer ek by die huis slaap.
“Ons hoor toe voetstappe, ‘n afgemete swaar voetval, deur die huis stap, komende van die voordeur op pad agterdeur toe. Doef doef doef. Glad nie haastig nie. Ek kan nou nog hoor hoe die voetstappe sagter word teen die agtertuin se trappies af.
“Ons was sprakeloos. Ek dag eers ek is deel van ‘n soort choreografie. Daai jare het mens nie geweet watse vrinne het onderdrukte dramabelangstellings nie. Vlok was buite weste geskok. Ek het eers later met ‘n omweg ‘n suggestie van die eienaar gekry dat dit wel spook daar.”
Adele Strauss van Melkbosstrand sê sy glo nie rêrig in spoke nie. “Maar toe ek seker so 5 was, was daar iets, ek onthou dit nog so goed. By my oupa en ouma Langenhoven se huis het ek in die kamer in die bed gelê en gehoor hoe iemand rondrol onder my bed.
“Ek het gedink dis die hond en het hom geroep, maar geen reaksie gekry nie. Ek met die spoed van wit lig kombuis toe gehardloop en daar sit die hondjie toe rustig in die kombuis.“
Baie mense is egter bra skepties oor spoke. En mens kan hulle nie kwalik neem nie. Dis immers opmerklik dat drank sterk vloei in baie spookstories. Selfs Klaas Geswint was onder die prop toe hy die driffie deurgery het.
Maar wat nie betwis kan word nie, is dat die mense wat in spoke glo, vas in hulle glo. Wat is jou mening?