Heldersiende Anna – deur Jason Mada
Anna weet instinktief wat haar diagnose is; sy hoef nie na ‘n dokter te gaan om dit te bevestig nie. Vir die eerste keer in haar lewe is sy bang. Daardie soort bang wat nêrens troos wil of sal vind nie.
Die asemrowende Po rivier wat sigbaar is deur hul slaapkamervenster hou vandag geen bekoring vir haar in nie. Katoenagtige klokblommetjies dans onbeskaamd in die bries, die sterkte daarvan ‘n duidelike teken dat herfs nou op pad is. Sy trek haar baadjie stywer oor haar benoude borskas en leun met haar koorsige voorkop teen die toegewasemde ruit. Waar bly Paul tog? Hy moes tog sekerlik al terug gewees het van die apteek af.
As alles wat sy van die virus gehoor het waar is, dan is die selle binne-in haar liggaam reeds gekaap en in aanhouding deur ‘n potensiële dodelike siekte. Wie sou kon raai dat die skoon lug in die pragtige land waar sy sedert die begin van die jaar woon ‘n sielstelende terreur sou meevoer en dit stil-stil sonder sigbare teelepels vir die vriendelike mense in Lombardye ingee.
Die aanslag van die onsigbare vyandige siekte setel heel eerste in ‘n mens se keel, stuur dan meedoënlose aanvallers na lugweë en longe, en vermeerder byna onmiddelik na ‘n magtige weermag opgeleide, dodelike skerpskutters. Anna kan nie verstaan hoe sommige mense draers kan wees en geen simptome toon nie, maar ander, meer weerlose mense word binne vyf dae na die inasem van die virus in ‘n hout omhulsel op ‘n trollie staangemaak, reg om na ‘n krematorium vervoer te word.
Dit is hoekom sy en Paul pal in hul huisie wegkruip. Ver van die mense wat té laat hoesend agter medies maskers probeer skuiling vind het. Die skildery waarmee sy besig is moet in elke geval binnekort voltooi wees aangesien die koper uit Switserland dit voor die einde van die maand wil kom afhaal.
Paul het soos oudergewoonte haar in haar nek gesoen nadat hy vir haar vrugtesap gebring het, en hy het dadelik terug gedeins nadat sy lippe teen haar vel gedruk het. “Is jy oukei, Anna-skat? Jou vel voel beduidend klam,” het hy geskok geprewel en die agterkant van sy hand teen haar voorkop gedruk.
“My skouers voel styf, maar dis seker omdat ek al vir vier ure in dieselfde posisie staan en skilder,” het Anna sy kommer probeer stilmaak.
“Jy is beslis koorsig. Dalk moet ek jou hospital toe neem en…”
“Paul, mense wat hositaal toe gaan kom nie weer lewend daar uit nie. Jy weet dit tog.” Haar stem was sag maar ‘n ondertoon van histerie wou die oorhand kry. Haar lyf was deur die nag al seer, nes haar keel. Die volstruismetode het dadelik ingetree om haar sinne in plek te hou. Sy sal dit kan ignoreer, nes haar ma vir jare met borskanker gedoen het en uiteindelik van ‘n hartaanval oorlede is.
Gedurende haar eerste studiejaar, toe sy nog ‘n dokter wou word, het sy geleer dat mense se liggame sitokiene chemikalieë vrystel wanneer ‘n siekte die liggaam binnedring. ‘n Aantal helende stowwe kom daarin voor, en dit word deur sekere selle van die immuunstelsel afgeskei sodat dit ‘n goeie invloed op ander selle kan toepas. Amper soos inwendige soldaatjies wat kieme uitmoor.
Paul wou horries kry toe sy haar eerste droë hoes gee. “Klim dadelik in die bed. Ek gaan hulp soek.”
Sy het skaapagtig sleepvoet slaapkamer toe geloop en sonder ‘n gestry onder die deken ingeglip nadat sy haar klere uitgetrek en net so op die vloer laat lê het. ‘n Duidelike teken dat sy nie haarself is nie, want sy het ‘n obsessie met netheid gehad.
Paul het pynpille, ‘n reuse houer met yswater en ‘n glas op Anna se bedkassie neergesit voordat hy sy baadjie aangetrek het, en vort is.
Anna het ingesluimer na ‘n ewigheid en kon nie haar lê op die ferm matras kry nie. Dit was haar loopneus wat haar veel later genoop het om uit die bed op te staan. Haar vel was aan die brand, en nie eers die lou water van die stort kon die vuur in haar uitwendige selle blus nie. Dan maar naak terug bed toe, het ‘n stem in haar kop beveel.
Wanneer dit was sou sy nie kon sê nie. Sy kon sweer dit was donker buite toe sy natgesweet wakker word. “Paul?”
Haar eenwoord vraag se antwoord was slegs ‘n stom stilte.
Klappertand en met vingers wat nie material wou raakvat nie staan sy uiteindelik veel later geklee langs haar bed. Die kamer draai gevaarlik, maar sy knyp haar oë toe en dwing haarself om regop te bly. As hier net sein tussen die berge was… ‘Ah, maar dis juis hoekom julle die plekkie gekoop het. Sodat niks of niemand julle hier kon steur nie,’ koggel ‘n stem wat nogal baie soos haar ma s’n klink.
Haar bene voel soos lood terwyl sy die tog aanpak na die sitkamer skaars vyftien meter van die slaapkamer af. “Paul?” Is dit my stem wat so geskeur klink? wonder Anna verstom. Nes my siel…
Ek wil nie alleen hier doodgaan nie. Ek wil nie!
Elke inasem voel asof haar longe nie heeltemal met lug vul nie en dit maak die uitasem paniekerig, want Anna besef dat die klein sakkies in haar longe dalk met vloeistof gevul is. As dit wel so is… Twee warm trane glip oor haar onderste ooglede maar sy voel nie die warm spoor wat dit volg voordat dit in ‘n geluidlose plof op haar bors drup nie. Sy probeer om net een maal diep in te asem, maar haar denke word in watte toegevou voordat sy bewusteloos teen die muur inmekaar sak.
“… kan lei tot septiese skok as haar bloeddruk aanhou daal. Dan hou die organe op werk voordat dit heeltemal ingee. Dit is ‘n akute asemhalingsnoodsindroom as gevolg van wydverspreide inflammasie in die longe wat keer dat die liggaam genoeg suurstof inkry om te oorleef. Ek is jammer, Meneer, maar as ons nie die virus kan bestry nie, sal dit uiteindelik na elke sel in haar liggaam versprei. Ons gaan natuurlik ons bes doen deur middel van intensiewe sorg. Indien nodig sal ons met behulp van ‘n kunsmatige long bloed deur dik buise uit haar liggaam neem, dit vol suurstof maak, en weer terug pomp. Meer kan ons nie nou sê nie.” Die dokter maak ‘n kruisbeweging voor sy gesig en loop.
Paul is verslae. In die kort rukkie wat hy weg was van Anna af het sy totaal ineengestort. Hy maak sy oë toe. “Asseblief, Heer… Ek smeek U! Spaar haar!”
Anna staan in ‘n groot oop veld. Daar is oral blomme in helder kleure so ver as wat die oog kan sien. ‘n Vreemde vrede omhul haar en sy voel asof sy hier hoort.
‘Anna… Anna…’
Die stem wat na haar roep klink bekend, maar sy kan dit nie plaas nie. Wil dit nie plaas nie. Voel asof dit nie nodig is om dit te plaas nie. Die veld word skielik in ‘n helder lig gehul en Anna maak instinktief haar oë toe.
“Ons het ‘n hartklop!” hoor sy ‘n stem, maar haar ooglede wil nie oopmaak nie. “Haar bloedruk is besig om na normaal terug te keer,” roep ‘n ander verligte stem.
***
“Anna? Hei, slaapkous, dis opstaantyd,” roep ‘n sagte mansstem. “Ek het vir jou koffie gebring.”
Anna sit regop en probeer uitmaak waar sy is. Sy herken dadelik die plek. Dit is die huis waar sy grootgeword het. Wat is aan die gang?
Paul kom sit langs haar op die bed. “Het jy toe my voorstel oorweeg?”
“Voorstel?”
“Anna-skat, jy onthou tog sekerlik ons gesprek van gisteraand? Oor my werk wat my vroeg volgende jaar wil verplaas na Lombardye as ek sou instem? Ek het al na huisies gekyk om te koop, en daar is ‘n asemrowende huisie langs die Po rivier wat bekostigbaar is. Jy sal daarvan hou. En dit is die ideale plek om weer jou skilderkuns aan die gang te kry. Jy het dit hopeloos te lanklaas gedoen.”
Hoendervleis slaan oor Anna se lyf uit. As kind het sy gereeld drome gehad wat waar geword het, en visioene gehad wat haar slapelose nagte gegee het. Nadat haar ma, nes in haar droom, met borskanker gedaignoseer is, het sy die drome en visioene doelbewus afgesny. Maar nou is dit skielik terug, en sy is innig dankbaar daarvoor. Menigte kere het sy met haar drome en goed wat sy gesien het mense se lewens gespaar. Tyd sal wel leer of sy haar en Paul se lewens gaan spaar, maar sy weet dat hulle beslis nié Lombardye toe sal verhuis nie…