Haar aanvangsjare was in Piggs Peak oorkant die Swazi-grens wat haar avontuursin vir die lewe kon vuur. As eerste kind van CA-pa Philip en joernalis-ma Charmaine was haar loopbaaninvloede wyd. Maar aktrise/skrywer/regisseur Lara Lourens (31) van Pretoria se kop was van kleintyd in die wolke. ‘n Fliekvlooi van tiekiehoog af, wou sy opsluit drama studeer, ses onderskeidings in haar matrieksak en al. Sy was sedertdien in verskeie rolle op die groot- en klein skerm te sien, insluitende Willie Esterhuizen se TV-komediereeks Huis Lelieveld en is nou betrokke by die slyp van ons volgende geslag kustenaars. Agter die kamera bly haar gunsteling plek, het sy aan Sonnette Lombaard vertel.
Wat bekoor jou van rollende beelde op ‘n skerm en wou jy altyd deel daarvan wees?
Ek is nog altyd lief vir stories – in boeke, flieks, teaterstukke of selfs ‘n kampvuurstorie. Die fliekkuns bied soveel vryheid om stories kreatief te vertel op verskeie maniere en om dan boonop mense daarmee aan te raak.
Jy bereis nou jou derde dekade – raak als ernstiger, wat hou dinge draaglik vir jou?
My 30s gee my die geleentheid om my doelwitte in die lewe te herdink. Ek het opnuut besef hoeveel ek nog wil doen en met elke jaar wat ek uitstel, het ek ‘n jaar minder om daardie ding aan te pak. Ek het wel tans baie hooi op my vurk, maar geniet elke ding wat ek aandurf.
Jy is blond met blou oë gebore maar kleur jou hare graag. Uit eie ervaring, het blondines meer pret?
Haha! Ek geniet verandering … of dit nou ‘n nuwe projek, nuwe potplant of nuwe haarkleur is. Ek dink nie ek sal vir die res van my lewe by net een kleur kan bly nie. Blondines het nie meer pret nie, wel meer “maintenance”. Letterlik. Dit is moeite om dit mooi en in stand te hou.
Koop jy die eietydse druk op vroue om deurentyd plankdun te wees?
Nee genade, elke vrou moet gemaklik wees met haar liggaam. Plankdun beteken nie noodwendig gesond nie, maar party vrouens is van nature skraal (must be nice!). Ek glo glad nie in diëte of wondermiddels nie want dit is nooit ‘n langtermynoplossing nie.
My persoonlike opinie is dat elke mens (man of vrou) moet probeer om die beste weergawe van hulself te wees op ‘n volhoubare manier – en dat jou gewig niemand anders se besigheid hoef te wees nie!
Wat stel jou die meeste teleur van die vermaakbedryf en wat daarin bly inspireer?
Daar is nie iets wat my verskriklik teleurstel nie, ek bly maar irriterend optimisties as ‘n mens. Ek het wel ‘n probleem met mense wat dinge halfmas doen of tevrede is met die minimum. Daar is genoeg mense wat wil werk, so as jy dit nie wil doen nie is daar iemand anders wat wil. Daar is SO baie mense wat my inspireer in hierdie industrie dat ek nie eers weet waar om te begin nie – kan ek ‘n opstel instuur? Ek dink waarop dit neerkom is dat ek opkyk na mense wat ambisie het en ons bedryf vorentoe wil stoot, goeie werk wil lewer en bereid is om die ekstra myl te gaan vir iets waarin hulle glo.
Jou kind is ‘n ondeunde swarthaar straatbrakkie, vernoem na die eertydse supermodel Twiggy.
Twiggy is al tien jaar oud, maar sal altyd ‘n “puppy” in my oë wees. Ek het vir Twiggy in my tweede jaar van studies gekry en haar na die Engelse model vernoem omdat sy piepklein was vergeleke met haar sibbes, maar beslis ook die “attitude” gehad het van ‘n groot hond.
Hoe dink jy oor liefde in die 21ste eeu?
Ek is gelukkig om nou al vir meer as ‘n dekade in ‘n baie gelukkige verhouding te wees met ‘n ongelooflike man, Kaz McFadden. Ons deel min of meer dieselfde siening oor liefde en verhoudings. Ek dink in die 21ste eeu vat mense minder twak wanneer dit by die liefde kom – ons het die moed om tradisies te bevraagteken, self te besluit wat ons uit ‘n verhouding wil hê en daarin te bly vir die regte redes. Die tyd van by iemand bly ter wille van kinders, die gemeenskap se oordeel of ander ouderwetse redes is verby. Die lewe is te kort om in ‘n platoniese of ongelukkige verhouding te wees en ek dink ons generasie laat ons minder voorskryf oor wat ons mag en nie mag doen nie. ‘n Verhouding is tussen twee mense en dit behoort so te bly sonder vriende, familie, kerke, ens. se onnodige menings en inmenging.
Wat wink op jou horison?
Ek en Zack Mtombeni is besig met die teks vir ‘n opkomende vollengte fleik wat ons saam met Kaz vervaardig vir ons maatskappy, The Third Law. Hierdie projek kom al ‘n lang pad, so dit is heerlik vir ons al drie om dit te sien realiseer. Ek en Kaz begin ook nou weer repeteer aan sy eenmanvertoning, Stuur Groete vir die Moot, waarvan ek die teks geskryf het en die regie behartig. Ons tree in Junie daarmee op by die Wilge Teater in Pretoria en in Julie by die Vrystaat Kunstefees.
Tussendeur gee ek steeds ook klas by PALI Incubation vir eerste en tweedejaar dramastudente en help af en toe uit by ons jeugafdeling, PALI Youth. Juis terwyl ek hier tik, is ek op ‘n vliegtuig oppad na Kaapstad om tieners te vergesel na die Proscenium Dramakompetisie.
In verkiesingsjaar, is jy hoopvol oor ons wankelende demokrasie, en moedertaal?
Ek is maar altyd hoopvol, al is ek bekommerd. Ek hoop vir verandering met hierdie verkiesing, maar terselfdertyd is ek teleurgesteld oor die hoeveelheid mense van my ouderdom en jonger wat nie gaan stem vanjaar nie. As jy nie stem nie mag jy nie kla nie, meen ek. Wanneer dit kom by ons moedertaal is ek baie lief vir Afrikaans, maar is altyd ywerig om te leer oor ander tale en kulture. Ons land het soveel diversiteit en erfenis. Ek dink ‘n groot hoeveelheid van die konflik en probleme in ons land kan opgelos word as mense mekaar beter verstaan en sodoende ‘n beter begrip het van hul mede-mens. Respek, goeie leierskap, empatie en beter kommunikasie is van die goed wat ons as Suid-Afrikaners nodig het om as ‘n nasie vorentoe toe te beweeg.