Paul C Venter onthou
DIE GEVEG MET DIE APPELKIERIE
Kom ons praat oor die kwessie van hout. In meubels, aan deure en rame, in kieries. Hout gaan deur mensehande voor dit word wat ons gebruik. Nie altyd ten goede nie: ek het met my eie oë gesien hoe verf my eerste vrou se broer ‘n antieke geelhoutkis oranje.
Ek het ‘n kierie van appelhout. Sy is net die regte lengte vir my, hou lekker vas as ons loop. Natuurlik is sy vroulik. Haar kop is ‘n kunswerk van appelhout en imbuia, maar ‘n skoonseun van my ken glo sy hout en sweer haar been is gewone dennehout, nie wildeappel uit Yorkshire nie. Dis glo waarom die hout donker is, kan nie net varnish wees nie. Ek weet nie hoekom het my dogter nog nie die man gelos nie…
In die Engelse somer van 2003 woon ek en my tweede vrou op West Heslerton, ‘n mooi ou village in die noorde van Yorkshire. Ons en ‘n paar miljoen hase; die village behoort aan ‘n hertogin wat niemand ooit sien nie, maar haar ladyship is mal oor hase en niemand mag ‘n haas van haar jag nie. Al gesien wat doen gulsige hase in een nag aan ‘n tuin? My vrou Dalene en ander tuinhekse bestee tyd en geld op die maak van doepa wat onskuldig lyk maar hasie haastig na die Great Garden In The Sky sal stuur.
Die gevaarlike bestanddele van hierdie doepa koop my vrou by ‘n kruiewinkel op Thirsk, ‘n village wes van ons waar die wêreldbekende veearts Alfie Wright gewoon het. Hy het onder die skuilnaam James Herriot ‘n reeks boeke oor sy lewe as veearts geskryf en was duidelik nie ‘n dom man nie: Alfie het die waenhuis agter sy huis en dierehospitaal in ‘n filmateljee omskep en self sy boeke as rolprente en reekse soos All Creatures Great And Small en The Lord God Made Them All vervaardig. Dis nou ‘n museum en ek geniet dit om daar rond te dwaal.
Terwyl ek in diereliefhebber James Herriot se wêreld kuier, koop my Dalene hier om die hoek kruie wat sekere diere van hulle aardse bestaan gaan verlos. Behalwe op ‘n Saterdag. Dis markdag op Thirsk. Dan geniet Dalene dit om tussen al die stalletjies rond te dwaal, en ek pyl op die stalletjie met die ou boeke en plate af.
Dis toe waar ek haar een Saterdag raakloop. Die stalletjie het besluit om sy spasie met ‘n bebaarde ou beeldhouer te deel, ‘n verweerde rots van ‘n Yorkshireman. Die man werk net in hout, beelde van woudgeeste, vreemde maskers en pragtige kieries. En daar staan sy toe, in ‘n bos stokke, en sy skyn soos ‘n heilige boom.
Dis afskuwelik om met ‘n Yorkshireman oor ‘n prys te knibbel. In die eerste plek praat hy ‘n Engels wat ‘n dronk Skot verstaanbaar laat klink. Tweedens het die skelm ou Yorkie klaar gesien ek is verlief. Hy belowe my hy het haar uit ‘n tak van ‘n baie, baie ou wildeappel gesny. Die boom groei agter sy plaashuis net buite Thirsk, hy kan my die ou wond gaan wys waar die tak was.
Ek glo hom.
Dalene los my amper toe sy hoor hoeveel betaal ek vir my nuwe kierie. Ek besit klaar ‘n klomp kieries en ons is veronderstel om spaarsamig te leef. Dit was duur om Suid-Afrika te verlaat en naby ‘n geliefde dogter en kleinseun te kom aftree. Eintlik is ons te jonk en arm om af te tree. Dalene doen vertaalwerk en ek probeer maar my ambag as draaiboekskrywer in Engels voortsit. Ons ly nie honger nie, maar ons is ook nie juis oorgewig nie.
Terug by die huis wil ek onmiddellik deur die eikewoud langs ons village gaan stap. My appelkierie kort dringend ‘n spin. Dalene dink sy is snaaks, stel voor ek verbeel my dis ‘n moerse knuppel as ek hasies sien. Mens moet blind wees om nie in ons akkerbos die roofsugtige soft toys te sien nie, maar ek terg ek skei haar voor ek hierdie kierie as slaanding beseer en met hasebloed onteer.
Toe hoor Aidan van die nuwe kierie.
Hy is die punt van my hart, my Engelse kleinseun. Aidan is Iers vir ‘n klein vlammetjie. Die agtjarige warrelwind verbrand omtrent energie. Moenie hom vra om Afrikaans te praat nie, dis pynlik. Die kind sak inmekaar van die lag as hy die woorde “vrot sokkies” hoor. Hy weet nie mooi wat dit beteken nie, maar hy weet dit klink skreeusnaaks.
Ek wys hom die nuwe kierie, spog dis wild apple. Die boom se vrugte is te klein en bitter om te eet, maar sy hout is die hardste hout in Engeland. Ek dik nog verder aan: die legendariese staffs waarmee Robin Hood en Little John baklei het, was staffs van wild apple.
Die lig van oorlog skyn uit Aidan en hy gryp een van my ander kieries. “You wanna piece of me, Saxon?”
“I will spill your blood, Norman!” dreig ek terug, my appelkierie omhoog soos ‘n knuppel. “Meet me at the castle!”
Nie een van ons het ‘n clue waaroor die Normans en die Saxons in die ou dae baklei het nie, maar ons het saam die movies op TV gekyk en ons weet die goed spill mekaar se blood altyd op die trappe van ‘n castle.
Ek en Aidan s’n is ‘n regte kasteel. Oftewel die oorblyfsels. Die murasie troon twee verdiepings hoog op ‘n afgrond bokant die Noordsee by Scarborough, die grootste hawe naby ons village. Die eerste keer toe ek en Dalene vir inkopies soontoe inry, trek ons spontaan soos Simon en Garfunkel los: “Are you going to Scarborough Fair?”
Mens kan nie verniet tot die dood by Scarborough Castle veg nie. Ek betaal vir ons om in te gaan. Dis ‘n grou middag, reën is al weer naby.
“Yield, Saxon!” skree Aidan aan die voet van die kasteeltrappe, kierie gereed.
“Yield yourself, Norman!” skree ek terug, appelkierie gereed.
Hy val aan. Ek steier agteruit, die grys trappe op, maak of ek na hom slaan en mis. Hy kom verwoed agter my aan, kuifie wip soos hy hardloop. Ek laat toe dat hy my hoër opdryf. Ons moet mooi trap. Die klip onder ons tekkies is glad geskuur deur sewe of agt honderd jaar se voete.
Dit begin reën. Aidan bly kom, jaag my tot waar die trappe doodloop. Ek bly maak of ek misslaan. Groot druppels klap in my gesig. Ek sien nie die hou kom nie. Sy kierie tref my in die maag en ek gaan sit plat. Hy hurk by my, bekommerd oor sy oupa.
“I’m fine,” lag ek, “don’t worry.”
Die reën loop oor sy wange. En hy kyk na my met my dogter se oë. “You took it like a man, Norman, you didn’t want to hurt your new staff.”
Ons gee mekaar ‘n drukkie.
‘n Maand later hoor ons Dalene se kanker is gevaarlik terug en sy wil liewer in haar geliefde Karoo wees as die chemo nie werk nie. Ons verkoop alles.
Aidan en sy mamma kom kuier op Hanover en hy klim saam met my ‘n steil rant in die Karooveld agter ons huis. Ek wys hom die rotstekening van ‘n kameelperd waarvan ek hom op die foon vertel het. Hy kyk stil en stip daarna, ‘n warm wind vat aan sy kuifie.
Sy magie wil werk en hy koes agter ‘n rots weg. Iets laat hom giggel. Ek vra wat is so snaaks.
“You know what, Oupa,” proes hy, “I’m going to tell my teacher I left my DNA on a mountain in Africa!”
En hy skaterlag asof iemand “vrot sokkies” gesê het, hierdie dierbare klein engel op sy hurke onder ‘n ontsaglike blou en gevaarlike hemel.