Skip to main content

George April

 Terwyl politieke partye oor hulle voete val om kiesers te oortuig om vir hulle te stem, word mense op Hopefield miljoene rande belowe as hulle nie gaan stem nie.

Die Waarheid het onlangs ‘n gemeenskapvergadering bygewoon waar geld en grond belowe is.

Die Aboriginals, soos die Khoisan groep bekend staan, het in ‘n stampvol saal beloftes gemaak wat self vir Kersvader sal laat bloos.

Die Weskus se streek-“hoofman” het verduideling waar die geld vandaan kom, en hoeveel nulle aan die eerste syfers gekoppel is.

Volgens die Khoisan leier is dit trustgeld van die Aboriginals se koningin wat einde Mei beskikbaar gaan word.

“Heel gerieflik, na die verkiesing,” het ‘n vrou wat glo dis ‘n scam agterna aan die media gesê.

“Bedrae van R5m per persoon is ter sprake, maar mense moet nie gaan stem nie,” het die vrou laggend vertel.

Inwoners is gevra om nie te gaan stem nie, want dan stem hulle vir ‘n regering.

“As u gaan stem, gee u erkenning aan die bestaande regering, en die aboriginals erken net hul eie Khoisan wette,” het die hoofman mense vertel.

“Ek het ook ‘n vorm ingevul; as dit waar is val ek ook in die millions,” het die antie geterg.

“Moet tog nie my naam noem nie, netnou word die droom waar,” het die vrou laggend gesê en weggestap.

Behalwe beloftes van miljoene rande, is mense ook grond belowe, waar hulle hul huise kan bou. Beloftes van besighede op Hopefield en ander plekke, het sommige mense oortuig dat dit ‘n werklikheid gaan word.

Een vrou het opgestaan, gedans en aan die hoofman gevra: “Kan ons nie ‘n optog hou om ons blydskap te vier nie?”

“Kom ons wag tot die geld in ons rekeninge is, dan gaan vier ons fees,” het die hoofman egter ernstig gesê.

Die media het verskeie inwoners na die vergadering gevra of hulle nou gaan stem of nie?

“Hoe kan ons gaan stem?” het ‘n man en sy vrou gelyk gevra? “Die mense gaan mos sien ons is by die stembus, dan gaan ons mos nie ons geld kry nie,” het die vrou geantwoord.

Alhoewel baie inwoners se menings is dat dit ‘n spul snert is, het ‘n vrou egter ernstig gesê: “Ek was in elk geval nie van plan om te gaan stem nie, en dis nie te sê ek glo die geld-storie nie,” het sy sonder oortuiging gesê.

Die Waarheid kan bevestig, dat met die 2021 munisipale verkiesing is mense ook deur ‘n Khoisan groep grond en vele ander beloftes gemaak.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!