Die polisie is na ‘n plaashuis naby Glen ontbied en het ‘n grusame ontdekking gemaak. Die lyke van ‘n bejaarde egpaar is sowat 300-meter van die plaashuis aangetref.
Saterdag het ‘n bekommerde buurman die Glen-polisie gebel nadat hy nie sy medebure op hul selfone in die hande kon kry nie.
Met aankoms op die plaas het die polisie ontdek dat die deure oop is. Toetrede tot die eiendom het gelei tot die ontdekking van bloed op die vloer. Die huis is deursoek, maar die bejaarde egpaar was nie in die huis nie.
‘n Multidissiplinêre aktiveringsplan is onmiddellik in werking gestel en ‘n soektog na die verdagtes en beide bejaardes is deur die nag van stapel gestuur. Die 76-jarige man se lyk is sowat 300-meter van die plaashuis af gevind, en sy 73-jarige vrou se lyk is in die septiese tenk by die plaas gevind. Tydens die soektog is hul voertuig, ‘n Toyota Land Cruiser, naby Majwemasweu (Brandfort) gevind.
Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat albei slagoffers oop steekwonde aan die bolyf opgedoen het en is op die toneel dood verklaar. Gereedskap en elektroniese items is uit die huis gesteel
Glen-polisie ondersoek sake van huisroof en moord.
Tot dusver is niemand in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting word versoek om kolonel Ben Bolsiek van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade te kontak by 082 466 8530, die polisie se misdaadlyn te skakel by 08600 10111, of ‘n anonieme wenk op die MySaps-toepassing te gee.