Dis nooit te laat vir niks nie, rank lankmoedig deur skrywer en reisende oudonnie Matty Strydom se lewe. Die late bloomer was immers die enigste laat kind van ouers van Marquard. Maar ‘n ingebore veggees maak van Matty ‘n brawe buksie wat op 63 steeds bruis met energie. Dit vuur haar onuitputlike avontuurlus en voed haar kreatiewe gees wat oorvloei in uithaler skryfkuns, kosmaak, onthaal, kleremaak, mosaïekkuns, pottebakkery en wat nog. Haar Vrystaatse plattelandse wortels ten spyte, was sy jonktyd al ‘n nuuskierige agie wat wyer wou loer en beleef. Sy en haar akademiese regsghoeroe-wederhelf Hennie en hul twee dogters het ook in Duitsland gewoon. Matty het laat op haar eie begin reis, eers pelgrimstogte, daarna wyer draaie. Na ‘n halfeeu op Moeder Aarde, span sy toe ook haar onderwysgraad in om buite landsgrense in verre plekke skool te gaan hou. Juis as afspringplek vir reise om die onderskeie lande en inwoners te leer ken, wat nou neerslag vind in haar treffende reisjoernale. Haar debuutboek Hier waar ek nou is, is in 2020 met lof begroet. Daarin vertel sy hoe reis haar help heel het na haar jongste dogter Jessica se skok-selfdood. Haar oudste Clea en Yank-skoonseun woon in sy tuisland. Matty en Hennie het drie jaar gelede Johannesburg verruil vir aftrede op ‘n bekoorlike Karoo-plasie wat hulle Gwarrieson roep, in VanWyksdorp in Kannaland. Sonnette Lombaard het die interessante en veelsydige vrou gepols oor haar reise deur donker na lig.
Skop jy nou tuis vas in die Karoo na jou onlangse, soveelste swerftoer oorsee, waartydens jy nogeens skoolhou met reis en ontdek kombineer het?
Onderwysers het ‘n rakleeftyd en my skoolhoutyd is verby. Ek was besonder bevoorreg om eers in my vyftigs vir ‘n jaar op die eiland Borneo in Suidoos-Asië skool te kon hou, daarna weer ‘n jaar lank in China en toe ná 60 ook as vrywillige onderwyser in Jaipur, Indië en as aflosonnie in die noorde van Thailand. Dis goed om nou terug te wees by huis en baard. Ek het soveel beleef en wil dit eers deurskryf in ‘n reismemoire. Ek staan op ons Karoo-stoep en kyk uit oor die Langeberge en voel tevrede gewortel.
Hoe het ‘n kleindorpse boorling en latere stadsiel, in die middel van die Karoo beland? Jy kies ook verre skoolhouplekke vanwaar jy die hinterland ontdek. Is jy ‘n plattelander of stadsiel?
Ek is aanpasbaar en maak my maklik tuis waar ek ookal is. Of dit in die wêreldstad Shanghai is, of die Chinese plattelandse dorp Longshan. Of Johannesburg, of ons stofdorpie in Kannaland.
Hoe het julle op VanWyksdorp besluit as aftreeplek en hoe gaan dit met die inburgering daar? Skakel jy in by die dorpslewe en kontrei se inwoners?
Ons kyk terug na foto’s van drie jare gelede van ʼn leë erf en sien nou ʼn swart skuur en wit huis, die uitspattige kleur van syselbos en Kaapse Kamferfoelie, ʼn jong boord met opgeskote granate en olywe. En ʼn groentehok en kloekende hoenders. Die lewe van ‘n opstaller is toe besig! (‘n Opstaller is ‘n “homesteader” soos op Pinterest gebruik!)
Semigrasie het ons Karoo-stofdorpie, wat voorheen ‘n landbougemeenskap was, laat gedy. Ons geniet die diversiteit van die dorpsinwoners en ek slurp almal se komvandaan-stories op. By die kroeg Stowwerige Hond word gereeld musiek gemaak en bietjie gedans. By Buffelfontein Gallery is ‘n verhoog vir poësie en musiekprogramme. ‘n Boerneef-aand, Dit reën in die Klein-Karoo en ‘n voorlesing van Nataniël-sketse is daar op my inisiatief aangebied.
Wou jy altyd skoolhou en vanwaar die reisluste? Wat was jou lekkerste ontdekking(s)?
Nee, ek wou nie skoolhou nie. Ek wou ʼn joernalis wees, soos jy! Pleks daarvan kry ek toe ʼn nommerpas driekuns-kombinasie. Skoolhou is verrykend, dit bied ook geleenthede om te reis deur oorsee te gaan werk en jy het boonop dan sommer iets om oor te skryf!
Op watter plek, by wie of waar voel jou swerfsiel rustig? Hoe ontspan jy?
Goethe, die groot Duitse kultuurmens, het in Italië gesug en gesê: ”Hier is ek mens; hier durf ek wees.” Op reis, maar ook tuis, is daar momente wat ek dit so ervaar. Ontspan? Ek bly ‘n baie besige bytjie. Om saam met my man ʼn vleisie te braai en onderhoudend te gesels is kosbare ontspanning.
Mettertyd het jou woordkuns begin blom. Jou debuutboek in 2020 is ‘n andersoortige reisjoernaal, gebore uit diepe, persoonlike trauma. Die Engelse e-boekweergawe daarvan is nou uit. Wat is volgende?
In Hier waar ek nou is, skryf ek oor ʼn ma se reise ná haar kind se dood. Die bittere rou-reis het dit ontlont, maar ook gelei tot my energie-gewende, fassinerende reise daarna in Suid-Oos Asië. Tans skryf ek oor my belewenisse op reise in die Filippyne, China, Laos en Thailand. Ibn Battuta, die Marokkaanse reisiger in die 14de eeu, skryf: “Traveling leaves you speechless and then turns you into a storyteller.” Dis waar – reis kan jou ontneem van woorde maar maak daarna van jou ʼn storieverteller. My tweede boek moet tussen olywe inlê, tuinmaak, ʼn bouprojek, pottebakkery en naaldwerk voor die einde vanjaar klaar kom.
Watter groot lewensles het jou pad gekruis en wat maak die lewe steeds die moeite werd?
Hoe ouer ek word, hoe meer lê die sin en die lekker in die kleiner dinge. Soos die hoenders se gesprekke hier by die stoep waar ek sit en skryf.
In verkiesingsjaar het jy hoop vir ons wankelende demokrasie, asook ons moedertaal en volkie?
In 1986 het ek en my gesin vir twee jaar in Duitsland gaan woon vir my man se studies. Voor ons vertrek, het ek met ʼn rooi lipstiffie op die spieël geskryf: “Sonder hoop gaan ʼn mens nie terug nie.” Wel, sonder hoop kan ek ook nie bly nie. Met die verklarings van Afrikanerwees, stoei ek egter weer opnuut met ons volk se wees. Ek is nie altyd deel van die eng “ons”-afbakening nie. Afrikaans is die moedertaal van ʼn diverse groep mense. Ek het nie die alleenreg daarop nie. Reis het my horisonne verbreed. My land en haar tale en mense is my na aan die hart.