Paul C Venter
HOOFSTUK VEERTIEN
Die dogters wou nie uit die slaapkamer kom nie.
Kleinhanna en Corrie het saam met Emma middagete gemaak en is daarmee kamer toe. Die kerk se skriba bel toe en laat weet hy bring sy elfjarige dogter en dertienjarige seun saam, geselskap vir die dogters terwyl die kerkvergadering aan die gang is.
Maar hulle wou nie uit die kamer kom nie.
Die skriba se dogter en seun sit toe maar op die riempiesbank in die sitkamer en blaai verveeld deur ou Uitspanne en Huisgenote. Die vergadering was nie lank nie, maar woelig. Kerksake is skaars genoem. Dit was net gruwelstories van die Mau-Mau, watter boere in die distrik wil verkoop en Suid-Afrika toe vlug, hoe lyk die moorde in Suid-Afrika, hoe ver trek haar Harald se skip huis toe, en waar is Izak Vogel as sy dogters hier bly?
Emma se antwoord, “Ek weet regtig nie,” was die waarheid. Sy het nog nie weer ‘n woord van Izak gehoor nie.
Die hoofouderling sluit toe die vergadering met ‘n gebed, almal begin groet en Emma gaan hoor gou of die dogters nie net wil groet nie.
Hulle wou om die dood nie uit die kamer kom nie.
Die klop aan Maggie se kamerdeur is toe die luitenant met die geel en grys krulle wat onder haar pet uitklim. Het die vrou nie ‘n verdomde haarborsel nie? Sy vra of mevrou Grundling wil saamry, Sloet en PJ Buys wag saam met kaptein Kerwin in die Landrover. Sy praat Afrikaans.
“Dankie,” forseer Maggie ‘n glimlag, “reken jou ryding gaan te vol wees. Ek lê bietjie, die kopseer maak my gedaan.”
Die luitenant bied pille aan. Maggie sê sy het, dankie. Die luitenant gaan weg. Maggie sluit die deur en gaan terug bed toe.
Sy wil nie, maar voel tog jammer vir die vrou. Die arme mens doen haar werk. Moet by die vyftig trek al wil die lyf dertig lyk, oefen en honger haarself sweerlik afgryslik uit.
Oom Sloet was lelik. “Klein boggie. Preek vir my ek moenie vinger wys nie.”
PJ Buys net so erg. “Kamstig ‘n rooinek. Snobs hou hulle so Engels.”
Maggie het dit van die alwetende skoolmeester verwag, maar oom Sloet kwel haar. Sy weet nie hoekom verwag sy altyd ‘n wonderwerk van hom nie. Hy is ook maar ‘n hardekwas net soos haar man Harald. Sy skiet beter as wat Harald ooit kon, maar sy mog dit vir niemand vertel het nie. Vanmôre by die karplek was oom Sloet kwaad oor sy die Chev se linkerstuur vergeet het. Hý mog vergeet; sy het hom al gesien vergeet om tandepasta van sy snor af te vee, maar ‘n vrou mog nie.
Sy is woedend vir haarself oor sy te veel vir die Jaguar betaal het. Sy wou oom Sloet wys sy is nie goedkoop nie, en nou voel sy liederlik goedkoop.
Hoekom laat sy dit toe? Oor sy lyf het? Het oom Sloet so ver geleer soos sy en kan hy so goed skiet? Wat maak dit saak hoe lywig sy is? Moet sy daaroor te lig geag word?
Miskien het sy ‘n fout gemaak om saam te kom. Miskien is haar gevoel vir oom Sloet ‘n lawwigheid. Hy het nog nooit eers aan haar hand geraak nie. Miskien is hy bang sy dink net aan slaapkamergoed. Mans verstaan vrouens nie. Al wat sy vra, en dit het oorlede Harald nooit verstaan nie, is ‘n maat wat af en toe erken sy doen ‘n ding reg en haar sag deur die donkerste van die nag vashou. Dis al. Die Woord noem dit liefde.
Sy is besig om liggies te huil toe die telefoon op die bedtafel lui. Sy antwoord en die hotel se vrou vra sal sy ‘n long distance call from South Africa accept. Sy dink dis weer Matrone en sê ja.
‘n Stemmetjie kom van ver af. “Hallo? Tant Maggie? Dis Kaatjie … hallo?”
Maggie se maag trek ‘n knop. Iets is verkeerd. PJ Buys se Kaatjie bel haar nie so uit die bloute nie.
Aggie en Mutugi help Karimi na die sinkhuisie se agterkamer waar ‘n ou geskropte houtblad op drome staan. Alles is silwerskoon in die lig van ‘n sterk gaslamp. Skerp goed blink op ‘n tafeltjie. Daar is ‘n buitedeur van yster, groen geverf. Maitu draai ‘n wit lap om haar gesig tot net haar swart oë wys, en praat sag met Karimi in Kikoejoe asof hy ‘n kind is. Hy fluister in dieselfde taal.
Aggie vra nuuskierig wat praat hulle.
Sy praat deur die lap. “I told him the bullet is still in there, it missed the heart. I think it hit and broke the collar bone. That could be why it did not come out the back. I gave him my word I will not hurt him.”
“You never hurt,” prewel Karimi swak.
‘n Gryskopman, Indiër soos Maitu, kom in met ‘n bottel wat lyk of dit vol water is. Aggie kan taamlik vinnig lees. Die plakker aan die bottel gil ‘Chloroform, Do Not Swallow!’
Die man maak ‘n goor grap. “Please, you must believe me, I do not keep this in the shop fridge with the meat. You can ask my wife.”
Niemand lag nie. Sy vrou vat die bottel, gee sy hand ‘n druk en hy gaan uit.
Aggie hou niks van Maitu se man nie, en dis net nie oor hy tien teen een ‘n skelm shopkeeper is nie.
Maitu drup chloroform op ‘n stukkie watte. “Karimi, you are going to sleep for a bit. Dream about me.”
Karimi probeer glimlag. Maitu druk die watte oor sy neus en mond. Hy raak aan die slaap. Sy kies die dun, vlymskerp dolk op die tafeltjie.
“I want you to hold him, in case he wakes up.”
Aggie hou Karimi se kop vas en Mutugi sy bene. Maitu sny die tou wat die sokkie in Karimi se bors hou en verwyder die sokkie. Dis kliphard van die bloed. Die wond self bloei nie eintlik nie.
Die swart oë kyk na Aggie. “I hope someone like you are there when I get shot.”
Dis die mooiste ding wat iemand nog ooit vir hom gesê het.
Maitu druk die dolk in die wond en begin vaardig sny, al in die rondte, soos jy ‘n wurm uit ‘n appel sny. Nou loop die bloed. Blitzen und donner … dit borrel.
Mutugi praat in Kikoejoe, klink kalm.
Maitu bly sny en antwoord in dieselfde taal, ook kalm. Mutugi knik, los Karimi se bene en gaan uit.
Die oë bokant die wit lap wys niks, haar stem bly kalm. “Achtung, you must listen to me. I sent him to fetch warm water from my husband’s shop. He will be back in maybe fifteen minutes. You must leave right now, go out the back door. He says you are going to die for this.”
Aggie praat nie, gee haar arm haastig ‘n dankbare druk wat vingermerke kan los, vlieg by die agterdeur uit en hol tussen hutte deur veld toe voor hy weer regtig helder dink. Hy maak in die hardloop ‘n wilde belofte aan homself: Hy weet nie wanneer nie, hy weet nie hoe nie, maar hy sal Maitu weer sien en hy gaan haar wegvat van haar gryskopman af.
Vater in himmel, so soll es sein! sweer hy plegtig.
Aandskemer in die pastorie.
Kragopwekker brom buite, ligte brand al. Sloet klop aan ‘n deur. Agter hom hou Emma Bakker asem op. PJ Buys en kaptein Kerwin wag op die riempiesbank in die sitkamer, luitenant Becky Johnson-Cloete by haar Landrover.
“Kleinhanna? Cornelia? Maak oop hierdie deur.” Sloet hou sy stem streng.
Dis stil in die slaapkamer.
“Die Vader weet, hulle voel dit verskriklik, Oom. Hulle wil by hulle pappa wees.”
“Mevrou Bakker, daar is so ‘n ding soos goeie maniere.”
Sloet wil weer aanklop, die deur vlieg oop. Corrie bespring Sloet en gryp hom om die nek, Kleinhanna trippel en huil. Hy trek haar ook met ‘n arm nader, te aangedaan om te praat.
Oupa en kleindogters klou mekaar vas asof hulle nooit weer gaan los nie.
Emma moet haar onderlip byt om nie te huil nie.
In die sitkamer vra Kerwin mooi PJ Buys en Sloet moenie so terrible met luitenant Johnson-Cloete wees nie.
“Kerwats, hierdie opregte Christen het nie ‘n terrible haar op sy kop nie. Ek praat nie eers met haar nie, Sloet nog minder.”
“Presies. Ek wil haar môre vervang en julle maak dit nie bloody easy nie, please.”
“Sy gaan haar job verloor?” vra PJ Buys verbyster.
Becky leun in die skemer teen die Landrover en rook driftig ‘n sigaret. Dit help vir muskiete. En keer dat sy haarself nie uit haar uniform eet nie. Sy is die oudste van East Africa Command se vroue in uniform en die ander het almal honeybee figures. Van hulle oefen net elmboog lig in die officers club en boude in die bed. Nie een van hulle het al in kraam gegil nie.
Sy het. En haar daarna leeg gehuil oor die brose klein lykie. Haar baba se dood was ook haar huwelik se dood. Die army het haar gered. Sekere vrae word nooit in die army gevra nie, jy moet net wys jy wil dien.
Sy het gedien. In die noorde teen die Italianers en Duitsers. Sy moes dispatches deur ‘n hel van vuur en rook aflewer, selfs oor lyke ry om dringend info by die Generaal te kry. Sy en die Generaal het een nag in ‘n loopgraaf gedink hulle gaan vannag sterf, ‘n foutjie saam gemaak en nooit weer daaroor gepraat nie. Hy is getroud met ‘n bloody engel van ‘n vrou. Becky sal weer deur vuur en rook vir hom loop.
Die Generaal gaan terribly ashamed voel as kaptein Kerwin vir iemand anders vra. En deeply disappointed in haar. Sy vat sommer die rewolwer op haar heup en druk dit teen haar kop.
‘n Motorkar se ligte kom aan. Becky laat haar stompie val en trap dit dood. Sy rook nie in uniform voor ander nie. Die kar stop, ligte doof. Dis die Jaguar en Maggie Grundling klim moeilik uit.
“Die naam op die posbus,” steun Maggie, “is Harald Bakker. Dis die predikant?”
Becky tel die stompie op, steek dit in haar borssak. “Ek dink so.”
Maggie bly stil. Is hierdie Harald so hard en selfsugtig soos haar Harald was?
“Mevrou moenie in die aand alleen ry nie,” sê Becky, “die land is in ‘n emergency.”
Maggie wonder of die luitenant so goed soos sy kan skiet. Miskien moet sy daardie groot rewolwer leen en haar wys.
“Ek het geweet ek gaan veilig wees,” sê sy, “want jy is hier. Niemand hoef te worry nie, Becky Johnson-Cloete is hier.”
Becky weet hoe lyk ‘n surprise attack as sy dit sien. Sy weet net nie hoekom word sy aangeval nie.
Sy hou dit kalm. “Ek lei af tante se kop is nog seer.”
Maggie weet Becky skiet nou terug. “Luitenant, ek is nie jou donnerse tante nie.”
“Ek vra om verskoning as ek tante te na gekom het. Ek is goeie maniere geleer. Jy moet vir ‘n bejaarde ou mens tante sê.”
Maggie wil nog taal gebruik wat sy as kerkganger nie mog gebruik nie, maar die luitenant staan so reg soos ‘n ratel wat ‘n slang inwag en dis nogal koddig.
Sy onderdruk ‘n laggie. “Becky, ek weet nie hoekom baklei ek met jou nie, my probleem is met ‘n mansmens.”
Becky maak eers doodseker dis nie ‘n sarsie oor haar kop om haar sag te maak nie, glimlag dan wrang. “Tante is nie die enigste een nie.”
“Maggie, asseblief. Was Sloet Steenkamp weer lelik met jou?”
“Dis nie die Cape rebel nie, Maggie.”
“Dis PJ Buys; dink altyd hy weet als.”
“Dis nie slimjan Buys nie.”
“Agge nee, nie James Kerwin nie, hy’s so ‘n gentleman.”
“Die gentleman soek ‘n ander gids en drywer. Ek is nie goed genoeg nie.” Becky wil nie bitter klink nie, maar dit skemer deur.
Maggie kyk haar geskok aan. “Né? Dit sal nog ‘n donnerse dag wees.”
WORD VERVOLG