Drama op drama het sedert Dinsdag afgespeel nadat “Hopefield Gemeenskap Eerste” (HGE), ‘n nuutgestigde gemeenskaporganisasie se lede besluit het om ná die hulproep van bekommerde ouers op te tree.
‘n Lid van die Good Party het egter probeer om die vergadering te kelder met ‘n stemboodskap op ‘n WhatsApp groep vir ouers.
Volgens Shaun Jackson, ‘n lid van dié Nie-Regerings-Organisasie, gaan die bohaai oor kinders wat by Weston Senior Sekondêre Skool in Vredenburg skoolgaan. Kinders moet óf in die koshuis bly, of ten duurste met taxi’s skool toe en terug reis.
Kinders wat in die koshuis bly se probleme is egter erger in vergelyking met kinders wat reis. Die probleme strek al oor jare heen, en ouers het nou genoeg gehad. Hulle eis busse van die Onderwysdepartement.
Dinsdagaand, tydens ‘n gemeenskapvergadering, het me. Gaika, ‘n verteenwoordiger van die Onderwysdepartement, die ouers toegespreek. Die Waarheid het die vergadering bygewoon, en skokkende vertellings van ouers aangehoor.
Gaika het egter belowe dat daar dadelik aandag aan die vele klagtes gegee sal word.
Pas nadat die vergadering Dinsdag-oggend op Facebook geadverteer was, is ouers deur Mynie Claassen (voorsitter van die koshuiskomitee) ingelig om nie die vergadering by te woon nie. Claassen het mense vertel dat dit ‘n politieke vergadering is vir die werf van stemme. In haar stemboodskap het sy ook gesê “julle weet mos waar om julle kruisie te trek”.
Die boodskap het mense warm onder die bors gemaak, omdat hulle kinders as slagoffers gebruik word vir politieke speletjies. Ouers is egter deur ‘n gemeenskap-Facebookblad ingelig dat die vergadering voortgaan.
“Al was dit ook ‘n polities gedrewe vergadering, solank ons ouers en kinders kan gehelp word,” het ‘n gefrustreerde ma gesê.
Alhoewel baie ouers die vergadering bygewoon het, het twee ouers gister hul misnoeë met die media gedeel.
“Ons het nie die vergadering bygewoon nie, omdat Bjorn Witbooi, (proporsionele raadslid) op die Good Facebookblad geskrywe het die vergadering is afgelas.”
Die Waarheid het ook gister die koshuis in Vredenburg saam met lede van HGE besoek. Die waarnemende skoolhoof, ‘n mnr Prins het egter die span ingelig dat slegs die koshuisvader toestemming kan gee vir die besoek.
Mr Newman, die koshuisvader het wel toestemming gegee, maar toe verander die skoolhoof weer sy wysie en weier dat toegang tot die koshuise verkry word.
Die grootste verrassing vir die besoekers was toe brandweer-inspekteurs ook die koshuise besoek. Volgens een van die inspekteurs met wie ‘n lid van HGE gesels het, was die skool ‘n maand gelede ingelig dat daar verskeie brandpunte is wat reggemaak moet word. Die skool het egter nie aandag gegee aan die probleme nie.
Die waterpype op die boonste vloer waar die meisiekinders bly lek glo, en dieselfde vloer is in so ‘n toestand dat dit kan sak of ineenstort. Om daardie redes is al die meisies van daardie vloer af verwyder, maar nou bly tot ses saam in een kamer.
“Volgens die inspekteur het hulle dus nie ‘n keuse nie, maar sal die koshuis gesluit moet word vir die veiligheid van die kinders.” Die bestuurslid se dogter woon ook in die koshuis, en wou eerder anoniem bly.
As drastiese stappe geneem word en die koshuis om veiligheidsredes gesluit word, sal die onderwysdepartement nie ‘n keuse hê nie. Busse sal dadelik beskikbaar gemaak moet word vir die 160 leerlinge van Hopefield.
Die Waarheid kan bevestig dat baie kamers se ruite uit is, en vensters verskriklik vuil is. Waterpype is byna oral stukkend, en in een geut groei ‘n groot boom.
HGE het die Departement dertig dae gegee om antwoorde te verskaf.
Me Gaika het belowe dat daar dadelik aandag aan die probleme gegee sal word.