Sonnette Lombaard
“Elkeen van ons kry ‘n pakkie potlode, jy moet joune ag en reg gebruik om jou lewe te kleur en navigeer.” – Portchie
Predikers kom in alle vorms, kleure en gedaantes. Bogenoemde raad is sý lewensles aan ander, sê die gewilde en bedrywige kunstenaar-entrepreneur en prima mensbederwer, Portchie.
Gebore met ‘n kop propvol idees en ‘n flinke brein, ploeg Portchie ruim met sy gevierde, kreatiewe talente. Die eertydse vervoerekonoom het egter eers op 30 sy kunsvlerke begeesterd gelig …
Vandag is Portchie een van ons gewildste skilders wie se kleurvolle skilderye mure landwyd en die Aardbol oor versier. Sy borsbeelde, almanakke, koelsakke, koffiebekers en dies meer, versier met sy vrolike herken-prentjies, is ewe in aanvraag.
En hoewel hy lank reeds Kapenaar is, is Portchie net so lank geliefde volksbesit. In November laas jaar het sy aanneemdorp Stellenbosch tot stilstand gekom met sy spesiale kunsuitstalling om sy sestigste verjaarsdag swierig te vier. Met die orkes van sy alma mater Paul Roos Gimnasium wat deur die strate gemarsjeer het, het meer as 8 000 mense waaronder 500 van oorsee vir die kleurryke okkasie ingevlieg om sy reuse-uitstalling in die stadsaal te besigtig.
Prominent daarin was sy ode aan potlode, wat hom van jongs bekoor. Hy glo elkeen van ons word by geboorte met ‘n eiesoortige potloodpakkie geseën. Waarmee gewoeker moet word. Hy lei in voortreflike voorbeeld en doen self wat hy predik!
Die joviale kunstenaar het Sondagmiddag grepe uit sy nuwe biografie: Portchie: Van Tweeling tot Trafalgar Square in Pretoria gedeel. Menlyn se Atterbury Teater was volgepak en het entoesiasties hul waardering vir die lewende legende gewys.
Vanaf die verhoog het Jak de Priester ‘n pittige onderhoud met hom gevoer. Tussendeur het die gewilde sanger sy eie-gepende lewensliedjies gesing wat ook Portchie se lewensreis vernoot.
In sy memoir (‘n sagteband-biografie van 176 bladsy) vertel Portchie hoe hy aan sy unieke naam gekom het. Gebore met die familiename Jan Hendrik Viljoen, ken sy huismense hom as André – sy aweregse ma Ria het nie van sy doopname gehou nie.
As koshuisbrak by Paul Roos Gimnasium is hy herdoop na Portugees (sy Boergesin het ‘n groentewinkel op Tweeling gehad). Dis gou afgekort na Portchie en klou sedertdien.
Nou as gevierde kunstenaar na 34 jaar, dawer die syfers sy suksesstorie. Meer as 20 000 van sy oorspronklike werke is wȇreldwyd verkoop. Tel daarby ‘n miljoen afdrukke plus! Sy laaste bronsbeeld – almal is van figure uit sy skilderye – is vir R1,1 miljoen opgeraap.
Sy werke bly toeneem in waarde en bly gewild, tot in top versamelings wêreldwyd. Groot versamelaars besit meer as 70 daarvan. En ná 2016 en 2018 se suksesvolle uitstallings neffens Londen se befaamde Trafalgarplein, het Portchie gewis sy uitreik na mense met sy kuns was die regte hartsbesluit.
Die mensch-kunstenaar se talente – van skilder en beeldhouer, gallery- en gastehuis-eienaar tot musikant, dekorspesialis, kok en almal se gawe vriend – is inderdaad ‘n sonderlinge getuigskrif van ‘n lewe wat aangegryp word.
As die “tipiese middelkind” tussen twee susse, het die gesin rondgetrek. Eindelik vasgeskop in Tweeling in die Vrystaat toe Portchie vyf was. Waar hulle ‘n groentewinkel en ‘n kafee op die dorp gehad het.
“Ons was nie ryk of brandarm nie … daar was ook swaar tye,” onthou Portchie. “My ma met net St. 8. was ‘n merkwaardige mentor. Mense het haar lewenswyse teenwoordigheid opgesoek.”
Sy ouers is albei in hulle vroeë vyftigs oorlede. Hy en sy twee susse kyk na mekaar. Beide ousus Helena en Surona bestuur sy gallerye.
Sy sg. “eenvoud-kuns” sonder pretensie is kleurvol joviaal, nes sy ruim persona. Dit boor ‘n vrolike volksaar raak en pronk tussen Africana kuns.
Ná matriek het hy by Spoornet as leerling argitek-tekenaar ingeval. Gou gewis, hy wil studeer ook. Met ‘n lening behaal hy by Maties sy BComm met vervoerekonomie en bedryfsekonomie as hoofvakke.
Hy moes sy paar pennies dun sny, vakansies werk vir ekstra geld. Terug as vervoerekonoom by Spoornet in Johannesburg, begin hy in sy vrye tyd skilder. Kleure en teksture fassineer hom vanaf kleintyd. “My ma wat ook ‘n ruk ‘n klerewinkel gehad het, het graag materiale se grein bevoel.”
Groente uitstal in hulle winkel, soos wortels en beet langs mekaar wat dan beter verkoop, het sy besigheidsin begin prikkel.
Sy eerste kunsuitstalling in buurvroue se Goudstad-woonstel oortref verwagtinge en nog vriende bied hul blyplekke aan. In ses woonstelle verkoop hy al 100 van sy werke vir R60 000.
By sy eerste groot uitstalling in 1994 in Johannesburg verkoop al sy werke uit. Hy groet sy saai spoorloopbaan, trek terug na Stellenbosch en vriende leen hom ’n meenthuis. Hy omskep dit in ‘n gastehuis wyl hy in die motorhuis bly. Sy kunswerke versier slim die mure en verkoop blitsig.
Teen die middel 1990s is Portchie en sy prentjies landwyd herken en word hy ‘n wen-uitstaller by skoue en feeste, ook die Nampo-boerekongres en binnehuisversiering-mekka Decorex. “Dis harde werk – die vrugte pluk jy tien jaar later,” verklap Portchie.
Hy leer ook wanneer ons volkie van jou kennis neem, volg geliefdheid. “Mense sien jou as eiegoed … uit eie bodem, raak lief vir jou.”
Portchie se eenvoudkuns verbeeld alledaagse aksies met tydlose aanklank waarvan hy nie wil afwyk nie. “Goed waarmee mense identifiseer, soos fietsry, lees, windpompe, varke, hoenders, blomme en lugballonne.”
Hy het vrede met diegene wat meen sy soort naïewe kuns vergelyk met plaaslike kitsch-muurkuns soos Tretchikoff, die drie eendjies en Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder. Meesterstukke soos die Mona Lisa is immers tydloos-geliefde kitschkuns.
Sy kunswerke versier van koffiebekers, kalenders tot inkopiesakke en koelsakke. Hy maak ook juwele met krale en metale wat hy in Indië uitsnuffel.
Reis is ‘n groot en gereelde bederf. Indië en Mexiko is geliefde bestemmings. Met 20 besoeke het hy die Indiese subkontinent deurkruis. Sy gunsteling aandoenplekke verskaf voortdurende inspirasie. “Nuwe ontdekkings maak kop skoon, bekonkel jou kreatief.”
Terug tuis bly hy een van Stellenbosch se geliefste inwoners. Vanjaar is sy Red Teapot Gallery in die dorp se hartjie 21 jaar oud.
Sedert hy sy gewilde gastehuis verkoop het, bewoon hy ‘n praghuis op die Eersterivier se walle in die dorp se ou deel. “Dis reg oorkant my skool. Ek het baie vanuit my koshuiskamer daarna gestaar.” Volsirkel dus.
In sy huisateljee begin hy laatoggend werk, stop soms eers laatnag. Sy gul gasvryheid onder hierdie dak is wyd gesog.
Eensaamheid kry g’n vatplek nie. Sy huis is nooit leeg nie en oud en jonk kom en gaan daar. Sy saamsing-musiekaande is in aanvraag. By sy lang, keurig-versierde tafel stel die huisheer se heilsame huiskos en tuisgebak ook nooit teleur nie.
Agterna die bonus wanneer die huiseienaar agter die klavier of orrel inskuif of sy trekklavier nadertrek. Hy speel klavier op gehoor – sy Steinway vollengte-vleuelklavier het eens in Pretoria se Brooklyn Teater gepryk.
“Ek leef met ‘n oop hand en hart en deel maklik. Grootword in ‘n klein dorpie bring jou vroeg in diens van mense,” bieg Portchie laggend. Sy oop hart en hand vir liefdadigheid is welbekend.
Laas jaar was onverwags taai. Sy aortaklep moes weens ‘n nare swaminfeksie vervang word. Hy het by die dood omgedraai, was net-net betyds reg vir sy verjaardagvieringe.
“Skielik was my kunsprestasies en gerieflewe niks teenoor gesondwees nie.”
Hy kyk dankbaar terug op sy ses dekades … wis van oorleef met genade. “Dit was ‘n goeie leerskool. Ek kan net wees wie ek is.”
Die paletprestasies van die Eikestad se plesierige Potloodprins wys sy eie kleurpotlode is skerper as ooit. Vir ‘n hartlike mensreus soos Portchie, weergalm sy getroue aanhangers se applous en liefde welverdiend.
* Portchie: Van Tweeling tot Trafalgar Square word deur Tafelberg uitgegee. Die sagtebandboek kos R295.00 en is by bekende boekhandelaars en aanlyn beskikbaar.