Skip to main content

Die stukkende windpomp op Hermansdrift – Deur Marinda Swanepoel

Arno Groenewald byt op sy onderlip. Hy het nou omtrent al elke onderdeel op Oom Herklaas se windpomp vervang, maar die silinder-suier wil net nie aan die gang kom nie. Die voetklep is in ‘n uitstekende toestand, en dit is die enigste ding wat die suier se werking kon kortwiek.

“Daar is tog genoeg ghries,” mompel hy. Hy het gekwoteer om die windpomp in een dag aan die gang te kry, en as dit hom langer gaan neem, gaan hy op ‘n verlies werk.

Hy klim weer teen die stellasie op, en gaan elke liewe dingetjie wat kan of moet beweeg, na. “Dit maak nie sin nie,” sug hy. “Elke part draai op sy eie, maar die spul wil nie saam funskioneer nie. Iewers moet iets fout wees…”

Hy loop met sy selfoon in ‘n sirkel totdat hy sein kry. “Jacob, dis Arno. Nee goed dankie, en daar?” Hy luister ‘n rukkie na Jacob, en sê dan: “Ek is hier op oom Herman Stander se plaas. Hy het my gevra om na sy windpomp te kom kyk.” Dan verduidelik hy wat hy gedoen het.

“Dis oor dit die twintigste Februarie is. Daai ding gaan nou vir presies drie dae so stilstaan. En dan gaan dit weer sommer self aan die werk kom. Jy sal sien,” sê Jacob senuweeagtig.

“Wat bedoel jy?”

“Ek was laasjaar ook gevra om na die pomp te kom kyk. Ek was drie dae aanmekaar daar, en het die hele ding uitmekaar gehaal, en weer aanmekaar gesit. Twee keer. En op dag drie begin die kop toe net skielik self draai. Ek kon sweer ek het ‘n jong meisie hoor lag, maar dit moes my verbeelding gewees het. Of dalk sonsteek, want daai pomp staan in die middel van nêrens,” sê Jacob.

“En wat het oom Herman gesê?”

“Niks. Net sy skouers opgehaal en my betaal. Nes hy met Frikkie die jaar voor dit gedoen het.”

“Wil jy my vertel oom Herman doen dit elke jaar?”

“Dit lyk my so,” sê Jacob.

Arno pak sy gereedskap weg terwyl hy na die windpomp kyk. Hy ry stadig daar weg, sy gedagtes by dit wat Jacob hom meegedeel het, en hou dan by Herman se huis stil.

Dié sit op sy enorme stoep, ‘n beker tee in die hand. “En toe, Arno-tjie? Draai sy al?”

“Oom, wat weet oom van die windpomp af wat oom met niemand deel nie?” val Arno met die deur in die huis.

Herman verstik aan sy tee. “Nou wat bedoel jy dan nou?”

“Oom kry blykbaar elke jaar iemand uit om na die windpomp te kyk. Op dieselfde tyd.” Hy kyk reguit na Herman.

“My magtie, Arno. Ek het dit nooit eers besef nie,” jok Herman met ‘n reguit gesig. “Wag, ek haal gou my kwitansieboek om seker te maak oor die datums.” Hy staan moeisaam op en verdwyn by die voordeur in. Dan keer hy terug met ‘n stok-ou boek. Hy blaai van agteraf vorentoe. “Jip, laas jaar…” Dan blaai hy weer. “En die jaar voor dit.” En so gaan dit aan.

Arno hou telling totdat Herman voor in die boek kom. “Sestien kere! Wil Oom vir my vertel dat die herhaling van die datum nooit verdag voorgekom het nie? Die windpomp het sestien jare in ‘n ry op dieselfde tyd opgehou werk. Ek wil weet hoekom.”

Herman se bokbaardjie bewe soos wat hy na woorde soek. “Nee jimmel, boetie, ek is mos nou nie ‘n waarsêer nie. Hoe sal ek weet?”

“As alles wat Jacob gesê het, waar is, dan sal die windpomp self weer begin werk op die twee-en-twintigste. Nie waar nie?” Hy kyk na Herman. “Nes elke jaar.”

“Mm, dit is omtrent reg.”

“Weet oom of die windpomp dieselfde gedoen het in die jare voor die kwitansie boekie? Oom is mos nou die derde geslag van Hermans wat hier boer.”

“Interessante vraag, daardie.”

Maar dis ook al wat Herman sê voordat hy sy tee klaar drink. “Jinne, kyk waar staan die tyd! Ek moet gou dorp toe,” brom hy en loop weer by die huis in.

Arno pers sy lippe saam. “Ek gaan nie rus voordat ek agter die kap van die byl kom nie.” Hy bel weer vir Jacob toe hy op die hoofpad kom en vertel hom wat hy wys geword het.

“Wat vertel jy my nou!” fluit Jacob. “Minstens sestien jaar?”

“Dis net ongehoord,” sê Arno.

“Gaan jy môre weer terug om te kyk of die windpomp draai?” vra Jacob.

“Niks gaan my keer nie,” belowe Arno. “En oormôre gaan ek heel dag daar sit en net vir die windpomp kyk om te sien of dit self begin werk.”

Daardie aand aan tafel praat Arno met sy ma oor die windpomp.

“Februarie?” sê sy ingedagte. “Ek wil my verbeel dat daar iets op daardie plaas gebeur het. Donkiejare gelede. Maar of dit nou Februarie was sal ek nie kan sê nie.”

“Wat het gebeur, Ma?”

“Herman se jongste suster het en of ander ongeluk gehad. Net daar op die plaas. Sy was nog een dag by die skool, en die volgende dag het sy net nie opgedaag nie. Ons het weke later gehoor dat sy oorlede is. Haar lyk is drie dae nadat sy dood is eers gekry. Niemand wou sê hoe sy dood is nie.” Sy ma sit haar vurk neer. “Jy kan altyd begraafplaas toe gaan. Die sterfdatum sal mos op die grafsteen wees.”

Die volgende oggend ry Arno via die begraafplaas na Herman se windpomp toe. Annetjie Stander is dood op twintig Februarie negentien-ses-en-sewentig. Sy was maar veertien.

Die windpomp was steeds stram. “Draai tog!” skel hy hardop en word yskoud toe hy ‘n meisie hoor giggel. Hy kyk om hom rond. Daar is niemand nie. Dan stoot hy sy ken uit, haal diep asem, en sê: “Annetjie, ek weet dis jy!”

‘n Sterk wind steek skielik op en stoot vasbeslote teen die windpomp se lemme. Staal skuur teen staal soos wat die lemme protesterend briek aanslaan.

Arno vererg homself, en klim met die stellasie na bo. Hy was vasbeslote om iemand ‘n les te leer – wie, weet hy nie –  en druk met sy volle krag teen een lem. “Draai nou!” sis hy.

Die lem gee skielik mee, alle weerstand van vroëer verlore. Arno weet wat volgende gaan gebeur, en daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Hy tuimel in stadige aksie agteroor, en tref die droë grond met ‘n dowwe geluid. Net vir ‘n oomblik voordat hy sy bewussyn verloor, kan hy die meisie duidelik sien. Haar oë was vol trane. Sy wou hom keer, maar kon nie. Dan word alles swart.

***

Herman ry versigtig nader aan die windomp. Hy kan Arno op die grond sien lê, en klim uit sy bakkie. Hy druk sy hand teen Arno se nek. Sy hart klop nog. Ons sal sien vir hoe lank, dink hy.

Annetjie leun teen die leer langs die windpomp. “Vat hom hospitaal toe, Herman. Jy kan hom nie laat doodgaan soos wat jy met my gedoen het nie!”

Herman gooi sy bakkie se sleutels na Annetjie. “Jy het gesoek daarvoor!”

“Wat bedoel jy?”

Herman grinnik. “Ek het gehoor pa gaan my onterf en die plaas vir jou los. Ek moes ‘n plan maak. Geen simpel meisiekind sou haar kloue op my erfgrond lê nie…”

“Is dit hoekom jy van Grieta … ontslae geraak het? Sy wou van jou skei en dan sou jy die plaas moes verkoop?”

“Net so,” lag Herman. “Soos ek gesê het, geen vrou sal my van dié grond af vervreem nie.”

Arno kan hoor hoe Herman se bakkie vertrek. Hy maak met moeite se oë oop. Daar was geen teken van Annetjie nie. Dan rol hy stadig tot op sy sy. Hy kreun van die pyn en weet instinktief dat ‘n hele klomp van sy ribbes af is. Die skuiwery na die bakkie was tydsaam. Sentimeter vir sentimeter beweeg hy totdat hy langs die bakkie lê.

Jy moet op, Arno. Of hulle kry jou ligdag dood hier, dink hy. Elke beweging is ‘n marteling en hy kan uiteindelik by sy selfoon uitkom. Hy bel dadelik vir Jacob.

“Waar is jy? Ek het jou seker al twintig keer gebel,” skel Jacob.

“Die windpomp,” fluister Arno voordat die pyn te veel raak en hy weer sy bewussyn verloor.

Hy word in die hospitaal wakker, en sien sy ma in ‘n stoel langs sy bed sit.

Elma vlieg op. “Suster! Hy is wakker!” roep sy opgewonde. “Jy het my ‘n groot skrik gegee, hoor,” raas sy. “Jy het by die dood omgedraai. Ses gebreekte ribbes, jou een long het platgeval, en van jou rugwerwels is gekraak. Hoe jy nie dood is nie, weet niemand nie…”

Toe Jacob kom kuier vertel Arno vir hom wat hy gehoor het.

“Nee man, ‘n spook wat praat? Is jy seker?”

“Hoe sal ek weet wie Grieta is?” vra Arno.

“Ook weer waar.” Jacob skud sy kop. “Wragtie, ‘n spook wat praat,” prewel hy verbaas voordat hy loop.

‘n Hengse kabaal vind plaas in die ongevalle afdeling, en Jacob staan nuuskierig nader. Maar dis mos…

“Herman Stander,” sê die ambulansman uitasem. “Dit lyk of sy oorpak in die ratwerk van sy windpomp verstrengel geraak het. Dit het hom gewurg, en hy het geen pols gehad toe ons hom gekry het nie. Ons sukkel al van die plaas af om hom aan die lewe te kry, maar dit is definitief ‘n kode blou, P4.”

“Wat is ‘n kode blou, P4?” vra Jacob vir die een verpleegster.

“Iemand wat oorlede is, en nie gered kan word nie,” lig sy hom in.

Jacob staan net vir ‘n oomblik stil voordat hy na Herman se plaas toe ry. Hy knik sy kop tevrede. Die windpomp draai weer. Vanself.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Deel van die Kontreibundel kompetisie: Skryf ‘n storie oor:. Sluitingsdatum 6 Augustus 17:00. Plaas op die blad en e-pos vir elsabedebeer8@gmail.com

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!