Paul C Venter deel sy avontuur met
DIE EENVOUDIGE BLOEKOMSTOK
Die bloekom gee mooi meubels en sy olie genees, maar hy maak nie vir my ‘n lekker kierie nie. Hoewel die boom lank lewe, boor goggas maklik in die hout. Hy is dors, suip honderde liters water per dag. Ek glo dit laat die hout gou breek.
Maar ek sal nie my beskeie bloekomstok weggooi nie. Hy het ‘n ereplek in die blink ou melkkan waarin my kieries woon.
Doer in die sewentigs loop ‘n glimlag my lewe binne. Dit behoort aan Bertrand Retief, regisseur van rolprente soos Seun van die wildtemmer, Ses soldate en Boland. Hy is ‘n kommandant in die kommando, gebore op ‘n sendingstasie in Malawi, lyk of hy heeldag muurbal speel, en glimlag soos ‘n ondeunde skoolseun.
“Skryf vir my ‘n televisiereeks,” glimlag hy, “stories oor elke faset van die weermag, vloot, lugmag, alles. Ons vlieg jou van basis tot basis, jy doen vir ‘n paar maande navorsing en Bob’s your uncle, jy ken die weermag en skryf ‘n treffer. Lekker eenvoudig en sonder fieterjasies, Bob’s your uncle.”
Lekker eenvoudig? Ek word in ‘n Mirage opgeneem en iewers oor Hartebeespoortdam dink die kapteintjie in beheer ek gaan dit geniet om onderstebo deur die klankgrens te skiet. Ek gooi in sy nek op.
Dis nie Bob’s your uncle nie.
Sonder fieterjasies? Ek word uit Langebaan op ‘n seerit met ‘n sogenaamde crash boat geneem. Toe ons die wilde water buite die strandmeer tref, begin groot golwe met ons speel, gooi ons op en af. My maag voel nie vreedsaam nie. Die luitenantjie by die stuur dink dis snaaks om nou hierdie grappie te vertel: ‘n Honger boemeloer ruik warm sop, loer by ‘n stil eetplek in en sien ‘n dronkie skynbaar uitgepass by ‘n tafel met sy gesig in ‘n kommetjie warm sop. Boemelaar glip in, sit oorkant die dronkie, gryp die sop en eet blitsvinnig met ‘n lepel. Onderin die kommetjie ontdek hy iets afgryslik wat hom woes laat opgooi. Die dronkie lig sy kop op: “Het jy ook by die dooie padda uitgekom?” Ek gooi so oor die luitenantjie se vlootjas op hy praat vir die res van die trip nie met my nie.
Dis glad en geheel nie Bob’s your uncle nie.
In daardie jare woon ek op Heidelberg teen die Suikerbosrand, ‘n uur en ‘n bietjie suid van Johannesburg. Na my landwye lyding met narvorsing vir die weermagreeks, is dit ‘n verligting om op my tuisdorp die seinkorps te besoek. Dis maklike navorsing. Hoe gaan ek hier geteister word? Dis tog net troepe wat met oorfone sit en praat.
‘n Seiner moet my rondneem. Ek het nie sy naam gehoor nie, almal noem hom Dumela. Dis hallo in Zoeloe. Dumela wys hoe praat hy deur ‘n radio: “HK aan alle basisse, HQ to all bases. Hallo, hello … en dumela.”
Dumela doen dit elke keer: “Hallo, hello … en dumela.” Sy bynaam maak nou sin. Radioman Fanus Rautenbach hoor hiervan – was nie ek nie, ek ontken dit – en toe hoor die hele land op Flink Uit Die Vere: “Dagse, groetnis … en dumela.”
Dit werk net as mens onthou dit was destyds vreemd om swart taal op Afrikaanse radio te hoor.
Dumela is ‘n goeie toergids, maar ek vermoed dit gaan sukkel om ‘n dramatiese episode oor seiners te skryf. Dis net troepe wat sit en praat. Dumela moes iets agtergekom het, en wil help: “Ons sein darem nie net nie. Ons roei ook.”
Heidelberg lê aan Blesbokspruit, water gemaak vir kanovaart. Daar is rustige lengtes waardeur ‘n kano stil pyl; wit water waar ‘n kanovaarder moet bid. Die seinkorps se kanoklub praat nie van vaarders nie, hulle is roeiers.
Ek ontwerp klaar die episode: seiners wat sein en dan ‘n avontuurlike kanovaart onderneem. Ek weet niks van kano ry af nie, die troepe beter my leer. Hulle is baie gewillig, maar ek moet ‘n kano koop en by die klub aansluit.
My vrou reken ek gaan my gat sien. Ek is dertig, draf, speel muurbal. Hoe gaan ek my gat sien?
Ek koop ‘n kano; Dumela en sy klubmaats leer my. Daar is een probleem met leer kano roei: Jy verdrink knaend. Om my lewe te probeer red, leer Dumela-hulle my die Eskimo doen: As jou kano met jou een kant toe omslaan, roei jy sterk onder water om die kano na die ander kant toe regop te bring. Met ander woorde jy voltooi ‘n sirkel met jou kano – deels onder water – en Bob’s your uncle, dan roei jy net voort.
Nee, jammer, ek vermoed ek weet hoekom die Eskimo’s nie na wense aanwas nie. Dis nie net te koud nie, hulle versuip.
Nietemin, Dumela-hulle besluit ek is gereed vir my eerste klubvaart stroom-af. My vrou bid hardop, kom sien my met ‘n dogtertjie aan elke hand langs die Blesbok af, sodat hulle pappa vir oulaas kan sien.
Ek vorder aanvanklik nie sleg nie. Kano slaan nie om nie. Dis mooi op die water. Jy raak aan vinknesse wat oor die water hang. Ek het nie geweet Heidelberg huisves likkewane nie; hier glip drie voor my in die water weg.
Die Blesbok kronkel wes deur plase, al die pad Vaaldam toe. Ons gaan nie so ver nie. Iewers voor die dam gaan troepe met lorries vir ons en ons kano’s wag.
Ek hou in die middel van die groep roeiers, voel veiliger. Op plekke versnel die stroom nogal, maar nie skrikwekkend vinnig nie. Ek vind die ervaring asemrowend.
En toe, om ‘n draai, versnel die stroom skrikwekkend vinnig. Ek hoor hoe versnel hy. Dit klink of die Blesbok kwaad is.
Dumela en sy maats verminder spoed met hulle roeispane en dryf wal toe. Ek probeer dieselfde doen, maar my spaan voel vere vir my en die kano skiet blitsig stroom-af. In die verbygaan hoor ek Dumela skree: “Potas! Potas!”
Wat de vloek beteken potas? Ek is seker ek hoor verkeerd, wat het my situasie te make met die wit poeier wat my pa op die plaas vir bemesting gebruik?
‘n Lang en reguit glybaan van ‘n ent verder, toe ek rotse wit sien skuim en die waterval hoor, gaan daar ‘n lig in my aan: Nie potas nie, aap. Portage, Franse uitspraak. Portage wat skree tel jou kano op en dra die ding anders gaan jy jou dinges sien!
Ek sien hom toe.
Maak nie saak hoe maklik laat Indiana Jones dit lyk nie: ‘n trip oor ‘n waterval is nie Bob’s your uncle nie. Die kano breek nie net middeldeur nie, my enkel gaan ook.
Ek kruip deur modder na ‘n wal vol bloekoms. Al die pad soontoe vloek ek die kanoklub en myself oor ek geluister het na laaities wat laasjaar nog in matriek gesit het.
Onder die bloekombome lyk dit soos dit onder bloekombome lyk: ‘n scrapyard van dooie takke en krullende repe bas. Ek weet nie of ek hier moet wag nie. Gaan hulle my kom soek? Ek het ver gevlieg nadat ek hulle laas gesien het, dalk kilometers ver.
My enkel pyn vir ‘n wen en ‘n plek. Ek beter by ‘n plaashuis kom. Hier moet ‘n plek wees waar ek kan bel. Julle weet daar was toe nog nie selfone nie?
Ek begin in die bloekoms se scrapyard soek. ‘n Tak, ‘n stok, iets wat my kan stut. Ek kan nie op die enkel trap nie. Uiteindelik, na baie dooie takke, kry ek ‘n tak wat slank maar stewig lyk. Klein sytakkies groei uit hom. Ek breek hulle maklik af en Bob’s your uncle, ek pak die reis met een been en ‘n bloekomkierie aan.
Moenie vra hoe ver weg was die plaashuis nie. My seer enkel het my kopseer begin gee. Ek het by ‘n telefoon uitgekom en my vrou kon my kom haal. My eerste vrou. Snaaks, sy het nie in haar skeibrief die avontuur met die kano genoem nie.
Ek het die televisiereeks geskryf, Bertrand Retief het dit glimlaggend gemaak. Opdrag was die titel. Ek het nog die bloekomstok. Hy is regtig nie mooi nie, maar ek waardeer hom, al staan hy langs ‘n beeldskone appelkierie wat ‘n pofadder … whoa, ek dink daai storie moet eers wag.
(Ja, ek versamel kieries. Wat versamel jy? Laat weet my by venterpaulc@gmail.com – wie weet, dalk is daar ‘n storie in jou versameling)