Skip to main content

Allergieë, hoewel algemeen, word dikwels verkeerd verstaan. Dit lei tot ongemak en frustrasie vir miljoene individue wêreldwyd.

Die Waarheid het ondersoek ingestel na skaars allergieë.

Hooikoors is ‘n stuifmeelallergie wat een uit elke vier mense affekteer. Elkeen wat hierdie berig lees, ken tien teen een ‘n persoon wat aan hooikoors ly.

Daar is egter allergieë wat uniek is, en baie raar.

Aquageniese urtikaria, oftewel ‘n allergie vir water, is een van hierdie rare toestande. Lyers wat in aanraking kom met water, se velle begin dadelik jeuk en pynlike rowe vorm kort daarna oral oor hul liggame. Daar is geen geslaagde genesing vir hierdie allergie nie, maar die simptome kan wel beheer word.

Oefening-geïnduseerde anafilakse en urtikaria is ook ‘n uiters seldsame, dog ernstige allergiese reaksie wat deur harde oefening veroorsaak word. Lyers hieraan se simptome wissel van erge uitslag oor hul velle, gastro-intestinale probleme of selfs anafilakse, wat lewensgevaarlik is. Sodra ‘n lyer anafilaktiese skok ervaar, moet hul onmiddelik ‘n adrenalieninspuiting kry om simptome soos lighoofdigheid, lugwegvernouing, of selfs ineenstorting te verlig.

Wil jy glo dat daar mense is wat allergies is vir onder andere muntstukke? Dit gebeur as die lyers allergies is vir nikkelsulfaat. Hulle sal dadelik ‘n uitslag ontwikkel waar hul velle in aanraking was met munte, deurhandvatsels, juweliersware, sigaretaanstekers, of enige ander metaal-items wat nikkelsulfaat bevat.

Die ergste allergie vir Die Waarheid is dermografisme, of menslike aanraking. Daar is geen bekende genesende behandeling vir hierdie toestand nie, maar antihistamiene kan help om die simptome te verlig.

Allergie vir die son is nes dermografisme, ‘n vorm van urtikaria. Let wel … dit is nie dieselfde as hitte-uitslag nie. Lyers se liggame word oortrek met ‘n uitslag sodra groot dele aan son blootgestel word. Antihistamiene en sonskerm help om ‘n erge reaksie te voorkom. Daar is geen bekende genesende behandeling hiervoor nie, alhoewel sommig lyers dit wel ontgroei het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!