Skip to main content

Sonnette Lombaard

Dat die wêreld genoeg profete het wat nie in hul eie land of onder hul eie mense en bloedkringe geëer word nie, kan niemand betwis nie.

Die uitdrukking van ‘n profeet wat nie in sy eie land geëer word nie, kom uit die Bybel. In Johannes verklaar Jesus dit self. In Markus praat Hy weer hieroor: “’n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp, en binne sy familiekring en in sy huis.”

In al sy feilbaarheid en geveinsheid, is die mens 2 000 jaar plus later steeds ‘n gebroke, sondige wese. En om die son oor ander se koppe te gun, is toenemend taf of ‘n onbegonne strewe. Teen die 21ste eeu voer die moderne mens eerder sy oerou-swaktes soos jaloesie en afguns tot duiseligwekkende laagtes. Selfsug en selfwaan, inhaligheid en nydigheid en boosheid oorheers oraloor.

‘n Free for all want almal spring, dikwels ongenooid, in mekaar se modderbaddens en laat waai … regte-egte realiteitstelevisie in ons agterplase, jinne mense!

Soos pas toe die beleërde mynmagnaat Louis Liebenberg sy verkiesingsmanifes in die Goudstad aan die media bekendgestel het.

Wyl die dapper sakeman ambisieus poog om sy volk en ander landgenote op te hef, vuur die swak, nuwe generasie joernaliste se gifpenne galbitter. Deursigtige berigte wat onverdund drup met persoonlike agendas en moedswillige onkunde.

Vooraan is die eietydse, hip Afrikaanse joernaliste van Media24 wie se beriggewing stink. As oud-werknemer van die eens trotse Afrikaanse medialeiers sak my kop meermale in skaamte. Maar die groter hartseer hier is dat dit nie beperk is tot mediagroepe en vrot joernaliste nie.

Hierdie toedrag van sake in ons vooruitstrewende samelewing het oral ingesypel en beklad als en almal.

Want ons Afrikaanses sukkel om die son oor ons naaste te gun. Godvresend met die Bybel onder die arm, maar ons verdrink in hoogmoed en skynheiligheid en selfwaan – en elkeen van ons hordes afsplintergroepies is beter as die ander.

Louis se ope uitnodiging aan Media24-joernaliste om hom op sy myntoer te vergesel sodat die slim skrywers eerstehands kan sien hoe sy maatskappy in Namaland ploeg en woeker, val op dowe ore.

Hier is ‘n vooruitdenkende Afrikaner met durf en daad wat wil wegdraai van ou gebaande en gefaalde weë. Wie saam met landgenote oor alle grense hande wil vat. Vorentoe. Braaf genoeg om te verklaar dat hy ons land se ruim mineraalskatte terug sal sit in my en jou sakke. Dit verdien mos erkenning en applous eerder as negatiewe berigte vol afkraak en beledigings?

Ons Engelstalige en ander landgenote kraai – nogeens Afrikaners aan die baklei, oudergewoonte teen en onder mekaar.

Sondag se Rapport staan amper ‘n hele bladsy af om Louis te kasty. Selfs Trevor Manuel klim in die modderkryt met sy minagtende verwysing na Louis as ‘n “village idiot”.

Dit in ‘n Afrikaanse koerant wat sy lesers (ons volk) wil wys hoe om eietyds koel te wees. Al het die Afrikaanse PC kaders se braaivure saam met ANC-kamerade lankal gevrek.

Die geskiedenis bevestig die Afrikaner se voorliefde om taalgenote in die rug te steek, te verraai en uit te verkoop. Siestog en skaamtog!

Daar is (Boere)troos!  Van die grootste geeste nog, het dieselfde boot bevaar. Gewoonlik hulle tyd vooruit, word hulle en dit waarvoor hulle staan nie vanuit die staanspoor verstaan en/of gekoop nie. Soms moet mens ook net eers die regte roeping vind!

Steve Jobs is immers deur sy eie maatskappy afgedank. Sy grootste kompetisie in Silicon-vallei, Bill Gates, se eerste besigheid saam met Paul Allen het misluk. Waarna hulle weer met Microsoft probeer het.

Walt Disney is in 1919 by die Kansas City Star afgedank weens sy “gebrek aan verbeelding en goeie idees”. Bid jou aan, die man wat Disney World sou opdroom!

Ook Oprah Winfrey het kleigetrap en is as nuusverslaggewer afgedank omdat sy nie haar emosies van haar stories kon skei nie. JK Rowling, die skepper van Harry Potter, moes Amnesty International groet oor sy gereeld stories op haar werkrekenaar sou skryf.

Ná ‘n optrede in Nashville, is Elvis Presley deur die konsertsaalbestuurder aangeraai om na Memphis terug te keer en weer vragmotors te bestuur!

Onder die hedendaagse sterre is Lady Gaga deur ‘n groot plaatmaatskappy na net drie maande die deur gewys. Madonna is self op haar eerste dag by Dunkin ‘Donuts in Times Square laat gaan nadat sy vulsel oor ‘n kliënt gespuit het.

Modelagentskappe het Marilyn Monroe aanvanklik aangeraai om ‘n sekretaresse te word. Robert Redford is in 1954 as ongeskoolde werker by Standard Oil afgedank omdat hy in ‘n olietenk wat hy moes skoon maak, geslaap het.

Selfs roemryke uitvinders soos Thomas Edison kon vasval. Western Union het hom in 1867 afgedank nadat hy suur tydens geheime eksperimente gemors het, wat deur die vloer gevreet het.

Albert Einstein wat eers teen vier jaar begin praat en op sewe begin lees het, is aanvanklik skooltoelating in Zurich geweier.

Charles Darwin wou weer wetenskaplike wees, omdat sy pa hom as “lui en dromerig” gebrandmerk het. Volgens hom het al sy meesters hom as gewoon, onder die algemene standaard van intelligensie, beskou.

Isaac Newton was weliswaar superslim in wiskunde, maar het onderpresteer op skool en gefaal toe hy sy gesinsplaas moes bestuur. Hy is na Cambridge gestuur en die res is geskiedenis.

Sokrates se visionêre wysheid word steeds geag, maar sy innoverende idees destyds was ‘n “immorele voorbeeld vir die jeug” en sou tot sy doodvonnis lei.

Abraham Lincoln het voor hy die VSA se president geword het, telkens as sakeman misluk.

Vincent van Gogh het gedurende sy leeftyd slegs een skildery verkoop – aan ‘n vriend vir ‘n klein bedrag. Hy het aanhou werk en sy kunswerke sou van die beroemdstes en duurstes word.

Terwyl hy geleef het, is Claude Monet se werk ook bespot en deur die artistieke elite verwerp.

Ironies is rolprentreus Steven Spielberg drie keer deur die Universiteit van Suid-Kalifornië se Filmskool geweier. Hy het later regie elders gaan studeer.

Bobaasskrywer Stephen King se beroemde debuutboek, Carrie, is 30 keer geweier. King het dit weggegooi, maar sy vrou het die boek uit die vullisdrom gegrou en hom oorreed om weer in te dien.

Die Britse kinderboekskrywer Rudyard Kipling is in 1889 by die San Francisco Examiner afgedank omdat ‘n redakteur gemeen het hy weet nie hoe om die Engelse taal te gebruik nie!

Die basketbal-superster Michael Jordan som sukses slim op. “Ek is uit my hoërskoolspan gegooi. Ek het 9 000 doele gemis in my loopbaan en byna 300 wedstryde verloor. Bykans 30 keer is ek vertrou om die wen-doel te neem, en het gemis. Ek het herhaaldelik in my lewe gefaal. En dis hoekom ek suksesvol is.” Sela!

2 Comments

  • George April says:

    Die aanval op Louise deur media24 verslaggewers het ek as individie nogal verwag.. en as oud-vryskut skrywer ivan dieselfde media platvorm vir 28 jaar, is dit nie ‘n verrassing nie.

  • Ivan Faught says:

    Om Louis Liebenberg met al daardie groot name te wil vergelyk is darem maar effe arrogant.

    Louis het nog niks werklik kon bereik behalwe om mense se geld te gebruik vir ander dinge as wat hy hul eers laat glo het.

    Louis het self erken hy bedryf ‘n Ponzi skema. Hy kan maar net nie vertrou word nie en is absoluut geen voorbeeld vir enige nuwe geslag nie.

    Sy kieringtjies is besig om te braai en goed ook so.

    ‘n Mens steel nie by ander om jouself te verryk nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!