Die psigedeliese elektroniese poprocker en liriekskrywer, Egmond, is nou weer terug op die radiospeellyste met ’n nuwe enkelsnit, Everything we say.
Everything we say is reeds agt jaar gelede geskryf as die opvolg op die 2017 enkelsnit Better days, wat selfs vroeër vanjaar wêreldbekend geword het toe Don Letts, Britse musikant, klubjoggie en rolprentmaker, dié liedjie se remix-weergawe by sy BBC6 Spotify-speellys ingesluit het.
Egmond het amper op sy rug geval toe hy dit sien, want hy glo dat die oorspronklike studio weergawe van Better days soveel beter is. “Ek moes lekker kopkrap omdat die hermengde weergawe van dié snit en nie die oorspronklike weergawe op sy speellys beland het nie. Ek moes regtig daaroor gaan nadink, en het besef eenvoudiger is dalk beter!’’
Everything we say elektro-pop al ’n baie lang pad saam met Egmond; dit is nou al twee keer hergemeng en verpak, waarvan die onlangse 2022 weergawe ook gespog het met die stem van Australiaanse nagtegaal Kaley. Egmond en die platejoggie Algorrid3m (ook bekend as Anty Viruz) het met hul eerste Engelse samewerking die vrugte gepluk en sukses behaal met Better days in 2018, waar dit op radiostasies se toptrefferlyste geboer het.
Dit het selfs die nommer 1-posisie op Hosa-radio beklee….
Dit sou egter ’n hele paar jaar duur voordat Everything we say, die opvolg enkelsnit, op die dansbane sou eggo. Egmond en Sandy Robbie, voormalige lid van die popgroep Clout, wat ook die musikale produksie van sy Afrikaanse snit, Pyn, behartig het, het die snit weer hermeng toe die elektroniese dansweergawe van Better Days skielik op dansbane in Amerika, Engeland en self in Rusland gehoor is.
Net soos met Egmond se vorige snitte, word dié elektroniese klanke gerugsteun deur sterk lirieke wat iewers aan die onderbewussyn bly torring. ’n Snit vol towerwoorde wat die luisteraar self moet interpreteer.
Egmond, wie se musiekloopbaan op ’n skoolverhoog in Bela-Bela in die Limpopo-provinsie begin het, se musiek is as koeksister-elektropop beskryf deur Musiekkenners. Musiek en klanke wat suikersoet op die tong en oor val. Dit is waarom sy vorige album Koeksister Pop ook ’n Afri-Indi-nominasie vir beste volwasse kontemporêre enkelsnit ontvang het.
Daar het al verskeie enkelsnitte en vollengte albums uit sy pen verskyn. Hoewel hy oorspronklik net in Engels geskryf het, het hy homself ook met sy Afrikaanse snitte as ’n sterk lirieksrywer gevestig.
Hy het sy eerste liedjies reeds op hoërskool geskryf, maar het sy eerste snit eers jare daarna opgeneem. “Woorde,” sê hy, “borrel soos ’n fontein uit my uit.”
Hy put sy musikale inspirasie uit stories met ’n sterk (of slim) einde. “Karakters wat sterker aan die einde van hulle reis is, laat my glo dat daar vir almal hoop is.’’
Everything we say is ‘n radiovriendelike popliedjie wat by jonk en oud byval sal vind. Egmond se stem is baie veelsydig en soos hy met sy ander snitte bewys het, kan hy in enige genre sing.