Skip to main content

Vinnige Vrydagvrae aan die boheemse Boerin: Afrika-vrou Marié Beytell 

Vurigvrou, Verkleurvrou, Vryevrou, Vredevrou, Voorstadvrou. Dis kabaretster, en kreatiewe gees Marie Beytell opgerol in vyf woorde. Nie dat jy die dinamiese diva sommerso bymekaarhark nie. Daarvoor is haar eksotiese energie te elektries-gelaai, kleurryk-anders en verfrissend. Haar kreatiewe gees en kunstge skeppings waai ons vasteland en verder aan vol. Sy ploeg trots in ons moedertaal maar dink ook vars vooruit. Luister jy om ‘n vuur na haar soort stories, verstaan jy hoekom meer as ‘n handvol here blitsig ‘n ring aan haar vinger gesteek het. Net vir Marie om dit eindelik af te haal, steeds op soek na haar Mnr. Reg. Wat sy gevind en gering het, en saam met wie sy en hul twee ewe talentvolle spruite ‘n dak in die Goudstad deel. Haar wulpse voorkoms het al karnavalwaens in Rio de Janeiro dansend versier en sy knikker eweneens agter tromme of op die verhoog uit met haar heesstem en aweregse lirieke. Haar siel se saligheid gedy ook onder ons Bosveldsterre met diergeluide in haar ore. Marie erken sy sukkel om te skryf sonder rým, ritme of ’n refrein. Vermoedelik omdat sy langs ’n treinspoor gebore is … daai trein se geklak-klak, klak-klak, klak-klak … klokslag-akkuraat, terwyl die vensters van haar grootwordgesin se nederige mynhuisie dreun en ratel. Tussen mielies, kerke, opgesoepte karre, mynstof, roet en tameletjie-gebakte teer het ‘n orkaantjie in die onstuimige 1960’s ontspring. Die vyfde baba in ‘n middelklasgesin, gedoop Sharón Marié Beytell, op let wel, Vrydag die dertiende Mei 1966. In die groot groenblaarboom op die sypaadjie, het sy graag ontvlug, dáár begin skryf en dig ook. Sy kon toe al haar veelkleurige verbeeldingsvlugte met woorde beweef en beskilder, het sy aan Sonnette Lombaard vertel.

Jy het ‘n ietwat vreemde verhoognaam vir ‘n blanke eva, genaamd die Afrika-vrou?

Tydens soloreise in die natuur, tromspeel en kaalvoet dans om groot vure saam met die !gubi Xoisan familie uit Namibië, het ek my hartklop-verbintenis met Afrika herontdek. Eintlik net ontdek want ons ALMAL op aarde is afstammelinge van die Xoisan, het genetici mos al meermale bewys. Ons álmal moet ons Afrika hartklop-verbintenis soek en vind. Tromsirkels en kaalvoet dans help!

Vertel kortliks oor jou middelklas-grootword in ‘n mynhuis aan die Wes-Rand. Baat ‘n nederige agtergrond jou in die harde grootmenslewe?

Geïnspireer deur my vier ouer broers, was ek op 12-jarige ouderdom ‘n judokampioen in die Wes-Tansvaal, hokkiekaptein en eindelik hoofmeisie van ons rowwe Westonaria Hoërskool. My harde grootwordjare het my gehelp om groot take en uitdagings gedissiplineerd aan te pak. Tot vandag toe, as ek voor ‘n groot uitdaging staan en begin twyfel aan my eie vermoëns, sien ek altyd my broers in ‘n ry agter my, gereed om my triomfantlik aan te moedig, óf te koggel.

Jou smaak is eklekties en jou voorkoms gypsy-boheems. Het jou persoonlikheid altyd soveel woema gehad?

Deel van my tawwe grootwordjare was my drang om ‘n dramaturg, aktrise of sangeres/musikant te wees. Ek het GOU geleer dat die gehoor dit blitsig agterkom en belangstelling verloor as ek skaam is, of optree met selfbewustheid, pleks van om opreg en met passie myself in my lirieke uit te druk. En as ek fantasties, kleurvol of dramaties lyk, kan ek sonder vrees vir my dramatiese voorkoms en optrede, en sonder moeite toeskouers prikkel, fassineer en bowenal INSPIREER!! Dan vervul ek my doel op aarde.

Jy het al in die beroemde Rio-karnaval in Brasilie gedans en tromme geslaan in Afrika. Hoe was dit?

Om in die RIO KARNIVAL te dans in asemrowende kostuums, was van die heel beste ervarings in my lewe. Om deel te word van daardie oorweldigende ekstase, die vreugde om te WEES, te BESTAAN, terwyl nimmereindigende tromme ons optog hipnoties vorentoe dryf …

Jy het ook groengeluk-vingers en sonder jou soms af in die natuur. Wat beteken dit en stilte vir jou?

Elke liewe keer as die lewe se vele uitdagings my gemoedsrus treiter, verdwyn ek OF kaalvoet tussen my vetplantjies, of ek gaan kuier by my niggie innie Wildtuin. Seekoeie wat steun, jakkalse wat tjank en tuinmaakplesiere is my perfekte terapie!

Jy is ook tuisblyma en wederhelfte in die Joburgse suburbs. Hoe versoen jy al jou uiteenlopende kante?

Hahaa! Ek noem myself juis “Hektiek eklektiek!”. Ons twee kinders skud soms net hulle koppe vir my, en my stil, private man het my al baie berispe: “Staaadig met die drama, liefie!” Dan sug ek en verstel maar my volume-knoppie … liefde is ‘n beslúít, nie ‘n gevoel wat kom en gaan nie. Dis só maklik aan die begin van ‘n mens se lewe om liefde (en lig) outomaties te kiés, maar dit word weliswaar moeiliker en moeiliker soos die jare aanstap, verál as ouerword se grille, geite en gravitasie áls in dít se vermoëns doen om skadus te werp waar daar eers opwipwoema was! En sit AF daai lig! Vet lyk net eenvoudig báie beter in skemerdonkerte.

Beste raad nog?

My doepa vir die probleem van blou Maandae is gewaarborgde raad wat werk: Speel die RISE! album van Herb Alpert so luid as wat jou buurt dit kan absorbeer sónder dat iemand jou met blikke gooi óf die polisie bel. Ek wáárborg lig, liefde en ‘n huppel in jou stap!

Waarop is jy die trotste in jou lewe?

Eerstens, om geboorte te kon gee aan twee wonderlike kinders: Mira (19) is vanjaar eerstejaar vir ‘n BSC-graad met toegepaste wiskunde, rekenaarwetenskap en fisika en het laasjaar die ABRSM Graad 8 klaviereksamen met onderskeiding geslaag. Loutjie (17) is reeds ‘n bekende mesmaker en noem homself LOKI_BLADESMITH. Tweedens, my Prikkelpot kabaret wat ‘n kans gegee is in die Pretoriase Staatsteater in 2011. Derdens, die drie visse wat ek gevang het in Hentiesbaai by Sêra se Gat tydens springgety – blykbaar net beginnersgeluk … gmff!

Dis verkiesingsjaar. Het jy hoop vir ons land en ons moedertaal?

Ek het hoop dat die kultuur van korrupsie uiteindelik sal plekmaak vir goeie leiers wat DIEN, nie REGEER nie. Intussentyd help ons RRA gemeenskapsorganisasie se lede mekaar met wàt ook al fout gaan. Ondersteuningsnetwerke is die redding van ons land se mense, nié die vetkat-soustrein nie! Oor ons taal is ek passievol. Solank as wat die miljoene MOEDERS in Suid Afrika, Afrikaans in al haar kleure, geure en GOEMA fasette gebruik in ons huise, sal ons taal voortleef, ondanks énige arrogante pogings in die verlede én die hede, om haar eksklusief te besit, te reguleer OF selfs te verban. LANK LEEF AFRIKAANS!

Foto’s geneem by airbnb.com/h/writersretreatonurbanfarm, gereël deur Merwelene van der Merwe. Fotograaf: Mark Buckingham.

* Marie is op Vrydagaande by die tromsirkel by Kya Sand in Johannesburg betrokke. Bel haar by 083 448 4737 vir besprekings vir tromsirkels en ander optredes.

Leave a Reply

error: Content is protected !!