JACQUES DE KLERK
Ontplooing van SA weermag in DRK is “nóg ’n ANC-mislukking”
Die soldate, wat in Februarie vanjaar in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) ontplooi is, moet vrede in dié oorloggeteisterde land probeer handhaaf, maar hoe op dees aarde moet hulle dit regkry as daar vir hulle geen ablusiegeriewe is nie en hulle met slegs ses toilette oor die weg moet kom?
Die presidensie het vroeër vanjaar aangekondig dat die weermag in die DRK ontplooi moet word om te help met die stryd teen gewapende groepe in die Ooste van die land. Dit maak deel uit van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se poging om vrede in die land te probeer bewerkstellig.
Maar, nou blyk dit dat ons troepies onder haglike omstandighede hulle take moet uitvoer.
Opposisie-partye meen dit is net nóg ’n voorbeeld van hoe die ANC die land en sy mense in die steek laat én op dieselfde tyd die land se beeld vernietig.
“Die troepe moet onder haglike toestande hulle werk probeer doen terwyl daar ’n gebrek aan veldkombuise, ablusiegeriewe en verkoelde vraghouers is,” sê Kobus Marais, DA-LP en-woordvoerder oor verdediging en militêre veterane.
Volgens hom is daar ook geen dokters of verpleegsters vir indien daar ’n krisis is nie en daar is geen geld om basies voorraad aan te skaf nie.
Daar is na bewering in een van die militêre kampe slegs ses toilette vir sowat 600 soldate.
Volgens Marais is dit glad nie verrassend dat die Suid-Afrikaanse weermag nie vir voorrade kan betaal nie.
“Die departement van verdediging is ’n finansiële swart gat waarin belastingbetalers se geld in verdwyn. Die departement se oudit-komitee se verslag het getoon dat departement oor die R430 miljoen op onbenullighede geblaas het,” sê Marais.
Die presidensie het vroeër vanjaar die aankondiging gemaak dat sowat 2900 soldate in die DRK teen R2.9 miljard ontplooi gaan word. Dié weermaglede sal in die land tot 15 Desember diens doen.
“Die ANC-regering het die land se weermag gebreek en tensy die probleme aangespreek word, hou die voortgesette buitelandse ontplooiing van die SANW ’n wesenlike bedreiging in vir ons eie die land se vermoë om ons eie nasionale veiligheid te verdedig,” sê Marais.