Ronald Hart – As die storm kom
Vir die eerste keer sedert Bles Bridges en Manie Jackson hulle toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het, het ons nou weer ’n minnesanger.
Ronald Hart het onlangs gedebuteer met sy enkelsnit, As die storm kom, en ’n mens kan sommer hoor dat hy sy inspirasie uit die minneliriek- en musiek uit die tagtigerjare geput het.
Hoewel Ronald nie self die lirieke vir As die storm kom geskryf het nie, verleen sy stem en persoonlikheid hom daaraan toe om van die snit ’n geslaagde treffer te maak. Die lirieke is pasknap vir sy stem. Hy is ook, soos oumas altoos sê, sag op die oog en met daardie tikseltjie Bles-minnetwang gaan hy vroue se knieë lam maak.
Die snit handel oor ’n letterlike storm wat oor ’n dorp of stad losbars. Dit beskryf die donker wolke, reën en koue, maar dit kan ook ’n spreekwoordelike storm wees waar ’n minnaar “die sambreel van liefde” word wat sy geliefde teen die lewe se storms beskerm. Hy verklaar dus ook sy liefde: Moenie vir die storms vrees as ek by jou is nie. Ek sal daar wees om jou te beskerm.
Ronald is in Kempton Park gebore en het ook dáár grootgeword. Hy vertel dat sy liefde vir musiek uit sy kinderdae kom. “Die radio was altyd aan en so het ek kunstenaars soos Rina Hugo, Laurika Rauch en Gé Korsten leer ken.”
Ronald het eers op hoërskool in die skoolkoor begin sing en het op vyftienjarige ouderdom sy eerste enkelsnit opgeneem. “Ek het tot in matriek sanglesse geneem, maar na skool het my paaie my nie dadelik na die verhoog geneem nie,” sê hy. “Ek het rekenaarwetenskap studeer en het vir ’n paar jaar op my beroep gefokus.’’
Tydens sy studentejare het hy gereeld op Kempton Park se kuierverhoë opgetree. Hy het ook later musieknaam by privaatfunksies gemaak, maar soos hy sê: “Die veeleisende beroepslewe eis soms sy tol en ’n mens kan nie altyd jou drome uitleef nie.”
Ronald het so ’n paar maande gelede besluit dat die verhoog en die opname-ateljee roep en hy het drie liedjies geskryf. “Ek het besef dat musiek altyd deel van my sal wees; dit is iets wat ek nie kan ontken nie. Ek het intussen ook weer sanglesse begin neem.”
Infinity Studios in Pretoria het die snit opgeneem en tegnies versorg en Drienie Joubert-Kelly het die liedjie geskryf.
As die storm kom is nostalgies, dog baie hedendaags. Dit is ’n liedjie wat die boodskap oordra dat ’n mens nooit alleen deur die storms hoef te gaan nie.
Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:
Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za