JACQUES DE KLERK
Polisiebeamptes kry slegs ’n tik oor die vingers vir geslagsgeweld-klagtes
Teen die tyd is dit geen geheim dat geslagsgeweld ’n reuse probleem in ons land. Op ’n daaglikse basis word honderde vroue en kinders slagoffers van dié kwessie wat soos ’n kanker in ons samelewing versprei het.
Wat dinge nóg erger maak, is dat die polisiebeamptes wat dié weerlose groepe moet beskerm, self skuldig is aan die misdade en nie vervolg word nie.
Tydens ‘n onlangse portefeuljekomitee oor polisie het die Burgerlike Sekretariaat vir Polisie (CSPS) berig dat tussen April en September 2023 165 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as oortreders van geslagsgeweld geïdentifiseer is.
Dít terwyl die jongste misdaadstatistiek vir die laaste termyn van 2023 aangedui het dat 10,516 vroue verkrag is en ’n skokkende 14,401 vroue aangerand is.
Uit die 165 lede wat van geslagsgeweld aangekla is, is slegs 93 van die polisiebeamptes vervolg. Uit die 93 wat vervolg is, is slegs drie van hulle afgedank.
“Wat nog meer skokkend is, is die feit dat van die polisiebeamptes wat skuldig bevind is, slegs ’n verbale waarskuwing gekry het,” sê DA-LP en die party se adjunkwoordvoerder oor polisie.
Volgens hom het ses van die polisiemanne ’n finale skriftelike waarskuwing ontvang, wat aandui dat hulle al in die verlede drooggemaak het.
Slegs agt van die 165 beskuldigdes is geskors en vir ’n kort tydperk van twee maande.
“Hierdie syfers dui op die totale gebrek aan aanspreeklikheid binne die polisiediens en sy bestuur se skokkende minagting van die erns van hierdie aanklagtes. Die einste beamptes wat die taak het om die wet te handhaaf, oortree dit op die mees gewelddadige manier,” sê Okkie.