JACQUES DE KLERK
Talle welsynsorganisasies in Gauteng in gedrang omdat staat platsak is
Verskeie welsynsorganisasies, wat die lewensboei vir derduisende minderbevoorregtes is, gaan noodgedwonge hulle deure moet sluit omdat hulle geen hulp van die staat ontvang nie.
Dit is ná die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling se aankondiging dat sy begroting nie toelaat om aan alle niewinsgewende organisasies finansiële hulp te bied nie.
Van die 1350 welsynsorganisasies wat in die 2023/24-finansiële jaar wel fondse ontvang het, het verskeie reeds hul deure gesluit en maatskaplike werkers afgelê.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling het welsynsorganisasies onlangs in ʼn mediaverklaring gesê dat hulle 1732 aansoeke vir finansiële hulp ter waarde van R11,4 miljard ontvang het. Die departement het net ʼn begroting van R5,5 miljard.
Volgens die departement moet daar nou bepaal word wie gaan ’n stuk van hierdie klein begroting ontvang om honger mense te voed en dakloses skuiling te gee.
Die niewinsgewende organisasies het almal dieselfde boodskap – hul deure sal noodgedwonge moet sluit want hul koskaste is leeg.
“Van die organisasies het reeds naasbestaandes in kennis gestel om, indien fondse nie spoedig ontvang word nie, ander planne te maak vir die versorging van hul familielede,” sê Amanda de Lange, VF Plus-LPW in Gauteng.
Volgens haar is bejaardes in tehuise, wat afhanklik is van maatskaplike toelaes, die kwesbaarste omdat hulle gesubsidieer word.
“Hulle het nie meer geld om by te dra nie. Tehuise sal ook genoodsaak wees om maatskaplike- en verpleegpersoneel af te lê,” sê sy.
Met die Gauteng-begroting vroeër vanjaar, is aangedui dat die departement se 2024/25-begroting met 3% gesny is. Dit terwyl die nood onder gemeenskappe daagliks groei weens die hoë werkloosheid in die provinsie.
Amanda meen dié probleem moet voor die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se deur gelê word.
“Belastinggeld kan nie aangewend word om Lesufi se ‘Ama-Panyaza’-projekte en verkiesingsbeloftes te befonds terwyl die provinsie afstuur op ʼn tweede Life Esidimeni nie.
“Dit gaan lankal nie meer vir Lesufi oor die belange van inwoners of die ekonomiese vooruitgaan van die provinsie nie, maar oor sy eie politieke beeldpoetsery om sy politieke loopbaan te bevorder.”