Skip to main content

JACQUES DE KLERK

Nuwe kykNET-dramareeks, Juffrou X, wil outentieke kant van die onderwys wys

Hok toe met jou! Hoeveel van ons het as kinders nie dit gehoor as die skoolvakansie tot ’n einde kom nie? Vir baie van ons was ons skooldae ’n bittersoet ervaring.

Party van ons dink terug aan dit as sorgelose dae van skooldanse, vriendskappe en skoolliefdes. Ander is te dankbaar daai dae van eksamens en skooluniforms is verby.

Hoe dit ook al sy, jou skooldae het ’n blywende indruk op jou as kind gemaak en meeste van ons ken een of ander onnie wat jou gedurende jou skoolloopbaan gemotiveer, geïnspireer en ondersteun het.

’n Splinternuwe kykNET-dramareeks wil juis die outentieke kant van die onderwys wys en plaas die fokus op die uitdagings wat onderwysers in die gesig staar.

Juffrou X handel oor die fiktiewe Victory Heights Sekondêre Skool waar die eindeksamen net één van die uitdagings is wat kinders in die gesig staar.

Wanneer ’n nuwe, dodelike dwelm die plattelandse dorp tref, word dit ’n saak van lewe en dood. Juffrou X, die wiskunde-onderwyseres, bevind haarself in die middel van ’n oorlog, met die skool as prys. Sy begeef haarself al dieper in die wêreld en rol van ’n vigilante, totdat sy sélf moet veg vir haar lewe.

Die draaiboek is deur die Hertzogpryswenner Tertius Kapp geskryf en deur Meerfout Films vervaardig.

Volgens Tertius was die inspirasie agter Juffrou X sy eie suster.

“Die oorspronklike vonk was my suster, ’n onderwyseres wat soos Juffrou X ongelooflik baie doen vir haar kinders – alles van beursaansoeke tot matriekafskeidrokke. Die storie is egter daarvandaan as fiksie ontwikkel,” sê hy.

Trix Vivier vertolk die hoofrol van Inge Bester, ’n hardekwas-wiskunde-onderwyser wat toegewyd is aan haar werk en kinders. De Klerk Oelofse, Brendon Daniels en Sean-Marco Vorster is ook in die reeks te sien.

Volgens Tertius het hy sekere van die akteurs in gedagte gehad toe hy die draaiboek geskryf het.

“Ons het redelik wyd gekyk en ’n paar groot rolle het gegaan aan mense wie se werk ek nog nie voorheen geken het nie.  Dit was ’n baie interessante legkaart om te bou en uiteindelik ’n ongelooflike rolverdeling.”

Daar is ook oudisies in George gehou en van die byspelers is self nog op skool.

Die reeks is in George, Hoekwil en Touwsranten verfilm.

“Ons wou stereotipes wat mens tipies in ’n stad soos Kaapstad kry vermy. Ons wou ook ‘n nuwe omgewing uitbeeld,” sê Tertius.

Juffrou X begin op Dinsdagaand 30 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!