Dit is nie onmoontlik dat die diamantmyner en filantroop Louis Liebenberg hom tot die hof kan beroep nadat die Vryheidsfront Plus verlede week soos ‘n ou tannie met ‘n nat broek stories by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gaan aandra het nie.
Liebenberg, wat geregistreer is om in die komende verkiesings in vier provinsies as onafhanklike kandidaat te staan, is gister deur die OVK in kennis gestel dat sy kandidatuur in Mpumalanga en Limpopo opgeskort is.
Dit volg nadat die OVK Liebenberg aanvanklik weens ‘n administratiewe probleem van die voorlopige lys weggelaat het. Nadat sy veldtogbestuur die OVK op die oorsig gewys het, is hy wel op die finale lys geplaas.
Die VF+ se leier, Pieter Groenewald, het by die nasionale ondertekening van die OVK se gedragskode by Gallagher Estate ‘n vloermoer gegooi oor die herstel van die fout. Sy groot beswaar was dat Liebenberg se kandidatuur nie aan die beswaarproses wat in die kieswet voorgeskryf word, onderwerp is nie.
Die OVK het ‘n vergunning aan die VF+ gemaak deur hulle toe te laat om die Liebenberg-veldtog se nominasiedokumente te bestudeer. Van die handtekeninge op hierdie dokumente kom klaarblyklik nie ooreen met waar daardie kiesers geregistreer is nie. Honderde handtekeninge is byvoorbeeld van Limpopo en Mpumalanga se lyste verwyder, en by Gauteng gevoeg.
“Die kieswet skryf ook voor dat die OVK ‘n kandidaat se veldtogbestuur op so ‘n probleem moet wys en hulle die geleentheid gee om die oorsig reg te stel. Die spertyd vir daardie proses het reeds verstryk, maar dit is net regverdig dat daar, soos vir die VF+, ‘n aanpassing gemaak moet word,” het Liebenberg se verkiesingskantoor gereageer.
Die verkiesingspan het reeds ‘n versoek aan die OVK gerig om die vermeende foutiewe handtekeninge te bestudeer. Teen spertyd het hulle nog op ‘n antwoord gewag.
Liebenberg het gesê dat hy hom tot die hof kan wend as onderhandelinge met die OVK nie die gewensde resultaat oplewer nie.
• Groenewald het in die verlede ongeprovokeerde aanvalle op Liebenberg van stapel gestuur. Hy het byvoorbeeld in die Parlement gevra dat Liebenberg se sakebelange ondersoek moet word.
In 2021 se munisipale verkiesings het Liebenberg die National Economic Fighters in Namakwaland gesteun en baie lede van sy huidige verkiesingspan het vir die NEF-veldtog gewerk. Uiteindelik het die NEF die VF+ in verskeie munisipaliteite in die streek ‘n verwoestende nederlaag toegedien.