Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die manne in Blou het hulle knap voor die koue winter ontferm oor leerders van die Kleinzee Sentrum vir Leer en Ontwikkeling (KSLO), in Namakwaland.

Hierdie gebaar is deel van ’n uitreikingsprogram van die polisie, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (sektor 3) en die gesamentlike taakmag van die Noord-Kaapse Bateljon.

Lede van die polisie, onder aanvoering van luit/kol Monwabisi en lede van die Weermag, onder aanvoering van luit/kol Tuelo Kgaje, het skoolskoene vir 41 leerders gekoop, volgens polisie-woordvoerder, sers Molefi Shemane.

Die span het ook sanitêre doekies aan die dogters geskenk. Voorts het alle leerders toiletware (wasseep en lyfroom) ontvang.

Liz Clark is die skoolhoof van die KSLO wat ongeveer 224 leerders akkommodeer. Dis ‘n spesiale skool met ‘n verskil, want dit akkommodeer ook leerders van hoofstroomskole. Sy was baie dankbaar vir die polisie en weermag se mooi gebaar.

Volgens haar kom 80% van die leerders uit mindergegoede huishoudings, of is leerders met enkelouers of voogde.

“Die skoene het ons uitgedeel volgens behoefte van die leerders. Hiervoor is ons baie dank verskuldig aan die polisie en weermag.  Dit is nie aldag nie dat so ‘n meevallertjie ons beskore is. Die gebaar het definitief ‘n glimlaggie op almal se gesigte gelaat,” het Clarke gesê.

Die provinsiale kommissaris in die Noord- Kaap, luit/gen Koliswa Otola het die lede geloof vir hulle mildelike en onbaatsugtige skenkings.

Leave a Reply

error: Content is protected !!