Sonnette Lombaard
Al word mooi broodjies nou voor die kernverkiesing in Mei wyd en syd gebak, proe die waarheid meer bitter. Opnuut so, toe ek lees oor ons land én die wêreld se eerste bulletproof speelpark wat in Kaapstad aantog is …
Wat kan nou die stand van sake in Suid-Afrika se gefaalde demokrasie méér duidelik tuisbring as die nare feit dat ons volgende geslagte, nogal in ons buitelewe-sonskynland, agter koeëlvaste vensters moet speel?
En dit boonop in Kaapstad wat graag voorgehou word as dié modelstad in ons land. Internasionale misdaadstatistieke kaats egter nie só rooskleurige prentjie van die Moederstad nie. Dit klas stygende Kaapse moordsyfers soortgelyk aan ander berugte misdaad-en-moord-mekkas regoor die wêreld.
Nou het Gun Free South Africa (GFSA), ’n NGO wat streef na minder wapengeweld, ‘n deubraak-voorstel ingedien oor die wêreld se eerste koeëlvrye park in Mitchells Plein. Dít in ‘n stad wat eens die mensdom se verbeelding vir beter redes aangegryp het, juis ook met wêreld-eerstes. Soos hartpionier Chris Barnard se eerste, suksesvolle hartoorplanting op Moeder Aarde in 1967.
Sedertdien het baie onstuimige waters in ons see geloop en is ons ná 1994 se reënboogeuforie op wêreldskaal ook plat teen die grond. Want ons begeerde demokrasie-model het liederlik gefaal en grawe ons nou 30 jaar later in die as. Op soek na oorblyfsels om die mitiese Feniksvoël weer uit ‘n flenters-reënboog te laat herrys.
Plaaslike misdaadbestrydingsliggame het, ondanks enkele bekommernisse rakende durende bende-aktiwiteite, die koeëlvrye park in Mitchells Plein verwelkom.
Dié digbevolkte woongebied op die Kaapse Vlakte aan die Valsbaai-kus tussen Muizenberg en Khayelitsha is eens as ‘n “modelvoorstad” deur die apartheidsregering voorgehou.
Dit het egter deur die jare berug geraak vir die gewelddadige gangsterisme, bendegeweld en tikverslawing onder sy jeug wat hoogty vier. Tans is die speelparke in die geweldgeteisterde woongebied reg in die middel van skietende partye, en ook naby dwelmdele.
Gun Free South Africa het in ‘n verklaring sy voorstel vir die ontwikkeling van die koeëlvrye park in Mitchells Plein bekend gemaak.
Daarvolgens sal dit daar ‘n veilige speelarea vir kinders bied te midde van die voortdurende dreigemente en voorvalle van vuurwapengeweld.
“Die Koeëlvrye Park-projek is ons antwoord op die onrusbarende statistieke van vuurwapenverwante sterftes in Suid-Afrika.
“In 2022/’23 alleen is meer as 11 300 mense in ‘n tydperk van 12 maande met vuurwapens gedood – byna 10% hiervan was bendeverwant, en baie slagoffers is jong kinders wat deur dwaalkoeëls getref is,” lui die verklaring.
Kundiges is betrek in die ontwerp van die voorgestelde park. Dis in geheel omhul met koeëlvrye glas waarbinne kinders op tipiese speelgrondapparate soos glybane en klimrame binne ‘n veilige omgewing kan speel.
Voorts is daar veilige ingange en paniekknoppies, wat ouers en toesighouers bykomende versekering bied dat omvattende maatreëls die speelruimte beskerm teen die heersende vuurwapenkrisis en bendekoeëls wat die gemeenskap teister.
Volgens Adele Kirsten, direkteur van GFSA, sal die park in Beacon Valley verrys. “Dis ‘n gebied met baie kindersterftes weens kruisvuur-voorvalle, dikwels bloot omdat hulle op die verkeerde plek op die verkeerde tyd speel.”
In die laaste twee dekades was bykans die helfte van die kinders jonger as 12 jaar wat by Kaapstad se Kinderhospitaal opgeneem is, slagoffers van kruisvuur. Die Koeëlvrye Park is ‘n skokoplossing vir ‘n skokprobleem, het Kirsten bygevoeg.
Volgens haar is die ontwerp van die park voltooi en is dit nou in die fase van kostebepalings.
Verreweg die meeste parke en speelparke is lankal nie meer veilige besoekplekke regoor Suid-Afrika en oor kleugrense nie en beslis nie veilig vir kinders nie. Dit word lankal nie meer na behore in stand gehou nie en het ‘n saamtrek- en blyplek geword vir ongewenste en ongure mense en is dikwels reg in woongebiede geleë.
Dit, asook die uitbreidende wapenkrisis en toename in onwettige vuurwapens, nie net in Kaapland nie, is ‘n turksvy vir álle politieke partye en diegene wat ná 29 Mei in die parlement gaan sitplek inneem.
Want as koeëlvrye speelparke vir kinders met paniekknoppies drie dekades in demokrasie in – Gun Free SA het selfs koeëlvrye stewels vir jong kinders nagevors – nie ons wakker ruk nie, wat sal?