Vir die meeste buite-inkykers is die koel berekende finansiële wêreld ver verwyderd van die emosie- en passiegevulde klassieke kunsarena, Dit vat ‘n Brakpan-boorling (natuurlik!) soos Andries Aldrich om dit op die kop te keer. Dié gekwalifiseerde boekhouer by die Rand Lughawe werk aan sy graad in rekeningkunde. Hy is ook ‘n klassieke pianis, klavieronderwyser en as klassieke sanger ‘n bekende gesig op die operaverhoog waar sy stemtipe (liries/kavalier bariton) in aanvraag is. Die gemoedelike Andries wat in Augustus 30 word, is die jongste van pa Nico en ma Heleen se vier kinders. Die veelsdyige raakvatter organiseer sy eie konserte en bestuur homself as ‘n kunstenaar en tree gereeld saam met ons bekendste groot name op. Sonnette Lombaard het hom met ‘n paar vrae gepeper.
Brakpan en sy mense is deel van ons volkspottery. Hoe is dit rêrig om ‘n bewoner van só befaamde dorp te wees?
Wie geniet nou nié ‘n tong-in-die-kies Brakpan-grap nie? Die lewe is soms swaar en donker en moet jy net lekker kan lag en dinge in ‘n ligte luim aanvat. Ek bewonder die humorsin van ons Brakpanners! Meer ernstig, ek is baie trots op my dorp. Daar is eie uitdagings, soos alle plekke het, maar hier sien jy nog menslikheid tussen die inwoners. Dis vir my belangrik dat jy nog vriendelikheid kan beleef in Brakpan. My ouma was ‘n inwoner vir meer as 50 jaar en het altyd gesê: “As jy eenmaal van Brakpan se water gedrink het, sal jy altyd terugkom vir nog”. Brakpan is ‘n lekker plek!
Waar en wanneer het die musiekgogga en veral klassieke een jou gebyt?
Musiek speel ‘n groot deel in my lewe vanaf kleintyd. My oorlede suster Susan het goed klavier gespeel, asook my ouma aan my pa se kant en ook my ouers – by hulle het my liefde vir klasieke musiek begin. Ek het op sewejarige ouderdom begin met klavier as primêre instrument en die res is geskiedenis. Van opera het ek eers bewus geword op 16 jaar. Musiek is so deel van my menswees dat ek my nie ‘n lewe daarsonder kan indink nie.
Voldoen operasangers in die werklikheid aan hul buite-beeld van ruim geeste, van fisies groter vanaf stem, figuur tot lewenstyle?
Enige kunstenaar het tot eie reg ‘n groot beeld, ongeag watter kuns beoefen word. Operasangers in die algemeen is groot persoonlikhede wat die lewe voluit aanpak, ondanks wat. As klassieke kunstenaar, glo ek ook ons beleef dinge in ons lewens meer intens omrede ons baie meer sensitief is. Operasangers het ‘n “teenwoordigheid” wat mense kan aanvoel wanneer hulle in dieselfde vertrek en wanneer hulle op die verhoog is – hulle eis jou volle aandag!
Is snaakse gewoontes soos bygelofies deel van die operakultuur?
Haha, ek glo nie eintlik aan baie van dié bygelowe nie. Sommige wil dit hê dat Macbeth ongeluk bring, ens, maar ek het nog net groot sukses behaal met die arias wat ek daaruit sing. Ek kan wel noem ek eet nie voor ek moet sing nie – dit maak my stem swaar.
Wie is jou mentors of inspireer jou en hoekom? En saam met wie sou jy net eenmaal wou sing?
Ek is bevoorreg, want diegene wat my inspireer en na wie ek opkyk, is deel van my lewe en loopbaan. Ek het dus die ongelooflike voorreg om te leer by my absolute helde. Ek het twee keer saam met onse Mimi Coertse gesing – ‘n hoogtepunt – en my droom optrede sou wees saam met een van my grootste heldinne, Maria Callas.
Wat is die belangrikste menseienskap en beskik jyself daaroor? En jou lewensmotto?
Sjoh! Ek sou sê nederigheid en empatie teenoor jou naaste is dié grootste en belangrikste eienskappe van menswees. My naastes kan antwoord of ek self daaroor beskik, ek hoop en glo met my hele hart dis wel so. My lewensmotto is: “Die son sal môre weer skyn”. Komende van iemand baie spesiaal en diep in my hart. Hy is ook my held, oftewel my ouboet Hermanus, wat dit vir my op ‘n baie jong ouderdom geleer het. Maak nie saak wat gebeur nie, môre sal ons aangaan en die lewe weer voluit aanpak, ongeag hóé maklik of moeilik dit mag wees. Sy raad kry my deur álles in die lewe.
Wat sou jy anders doen indien jy nie kon sing en speel nie?
O, ek sou beslis ‘n juwelier wou wees (ek is mos soos ‘n kraai, as dit blink, wil ek dit hê én dra) of ‘n antieke handelaar – ek het ‘n vreeslike groot liefde vir oudhede.
Die plaaslike opera-arena is klein – is daar afguns en ongure dinge of staan julle mekaar by in die oorlewingstryd?
Enige veld het uitdagings en afguns maar tot dusver is ek baie gelukkig met diegene saam met wie ek werk – almal help en staan mekaar by en wil die beste sien vir mekaar.
Die lekkerste van Afrikanerwees in 2024?
Om Afrikaner te wees is uniek en lekker – ons kan vir mekaar lag en ons kan saam huil en mekaar ondersteun. Ek is trots om te sê ek is ‘n Afrikaner en my wortels lê diep in ons pragtige land, Suid Afrika.
- Andries se eerste solo-uitvoering Many faces of a baritone word op Saterdag, 4 Mei om 15h00 by die deftige Rand Club in Johannesburg gehou. Hy neem die gaste op ‘n musikale reis van die Duitse, Italiaanse en Afrikaanse kunsliedere deur die barok-era tot by die groot opera waar die ongelooflike sopraan Sonica Rickinson saam met hom van die bekendste operaduette sal opvoer. Daarna besoek hy die ligte operette-wêreld en sing treffers uit musiekblyspele. Die legendariese Paddy Jeffery begelei hom op klavier. Die flinke MC is Harald Sitta van dié geselskap SittOpera. Kaartjies beskikbaar by Quicket. https://www.quicket.co.za/events/253136-rand-club-saturday-4th-of-may-3-pm-many-faces-of-a-baritone/?ref=events-list#/