Skip to main content

Karoo-stories met ‘n Kinkel – deur Koos Roets

As jy jouself as een van die karakters herken, voel gevlei.  

Of ou Spanner dié aand net heeltemal te lank gekuier het en te hoog in die takke geraak het, en of hy regtig ‘n ontmoeting met die bo-natuurlike gehad het, dié sal ek nou nie kan sê nie. Dié soort goed bly mos maar ‘n misterie. Maar Spanner sweer hoog en laag ‘n gees het aan hom verskyn. Dit kon natuurlik net plein horries gewees het of dalk ‘n nagmerrie van een van daai wrede moorde op TV wat die ding aan die gang gesit het. Wie sal nou eintlik weet?

Spanner lê op sy deurmekaar bed en saag balke dat die huis dreun. Skielik is daar ‘n verblindende wit lig. In die middel daarvan verskyn ‘n grys ou vroutjie. Sy steek haar hand stadig na Spanner uit en raak liefdevol aan sy skouer. “Boebeltjie, my arme, arme  kind …”

‘n Goed-geoliede, deurmekaar Spanner skrik vervaart wakker. Hy sit vreesbevange regop, slaan ‘n kruis, knyp sy oë styf toe en pluk die laken oor sy kop.

“Boebeltjie …”

“Voertsek Satan! Ek beveel jou om op die daad pad te gee!”

“Dis ek Boebeltjie … dis ek,  Ma.”

Spanner loer angsbevange onder die laken uit. “Ma?”

“Ja my kind, dis ek.”

Spanner voel-voel vir sy bril op die bedkassie, hy vertrou geensins die vrede nie. Met een skrefiesoog loer hy na die verskynsel voor hom. “Vir wat blink ma so?”

“Dis my aura.”

“Ma se wát?”

Die tante gaan sit op die kant van die bed en sy steek haar hand weer versigtig na Spanner uit. Soos ‘n sku skilpad trek hy sy kop terug onder die laken in. “Wat’s ‘n aura?”

“By die hemelpoorte het Petrus dit vir ons probeer verduidelik. Glo ‘n energieveld of so iets,”

“Energieveld?” kom dit van onder die laken.

“Ja, so iets. Ek verstaan die ding self nie so mooi nie, die hemel is deesdae ook nie meer wat dit was met al die computers en goed nie.”

Spanner steek sy kop versigtig onder die laken uit en knip sy oë. “Wat soek ma hier?”

“Ek’s bekommerd oor jou. Jou Lenie het ‘n paar dae na haar begrafnis vir my kom sê dinge gaan nie goed met jou nie. Sy sê jy’s besig om jouself dood te drink … en die plaas gaan tot niet.”

Spanner frons en trek sy mond op ‘n plooi. “Word daar nou al tot in die hemel stories oor my aangedra?”

Die tante kyk streng na hom. “Los jy maar die hemel, ek praat nou van jóú!”

Spanner is nou minder versigtig. “Ek’s oraait, Ma. En ma moet ophou om die stories te glo. Ek’t net ‘n bietjie verkoue.”

Die tante is nie in ‘n bui vir Spanner se streke nie. “Jy’t nie verkoue nie, jy’s gesuip!”

Spanner raak al hoe brawer. Hy trek die laken ‘n paar duim van sy kop af. “Ma, ma loop nou op die daad terug hemel toe en sê vir Lenie sy moet haar eie business mind. Sy’t sonder waarskuwing pad gevat boontoe en my alleen gelos; beste is sy los my nou uit, ek’s oraait!”

“Nee jy’s verseker nie ‘oraait’ nie! Kyk hoe lyk jy! Jy beter daai gesuipery van jou los of die hel gaan los wees! Hoor jy my, Spanner?”

“Ja Ma, maar …”

“Niks se ge-’maar’ nie! As jy jou nie dadelik regruk nie, is dit my plig as moeder om Petrus te vra om in te gryp.”

“Wie’s Petrus?” kom dit voorbarig van onder die laken.

“Petrus by die hekke … die poorte. Hy kan dalk ‘n swerm springkane stuur om dit wat nog van die plaas oor is, op te vreet! Dan sit jy met jou dronkgat op straat en dan sal ons sien! Hoor jy my?”

“Ja Ma.”

“Nou ja toe.”

********************************************************

Dis ‘n miernes van bedrywighede by Club Paradiso. Rot met ‘n e-pos in die hand, drafstap na waar Vinni opdragte aan ‘n paar skrynwerkers gee.

“Jis Rot?”

“Ek dink ons het ‘n byt, Meneer!”

Vinni lees die e-pos en klap dan opgewonde op die vel papier. “Shit Rot, dis nie net ‘n byt nie, hierdie jafel is ernstig! Hy wil dadelik ‘n kontrak met ons laat opstel! High five!”

Rot gee hom ‘n high five. Boetie lees verder. “Kan jy glo dis ‘n boer van Oudtshoorn wat belangstel! Klein wêreldjie, hê!”

“Ken meneer hom?”

“Ek ken hom nie, maar ek weet van hom. Boetie de Wet, hy boer daar iewers naby Middelplaas.”

“Dan kan ons mos lekker ‘n ogie oor Harry … oor doktor Jesus hou.”

Vinni lag ingenome. “Nes jy daar sê, Rot! Al die eendjies begin nou mooi agtermekaar in ‘n netjiese rytjie te stap.”

Rot frons terwyl hy sy ken ingedagte vryf. “Daar’s ‘n ding wat my worry, Meneer.”

“Wat?”

“Wat gaan meneer vir hom sê oor hoekom meneer sy naam verander het?”

Vinni dink ‘n oomblik na. “Sekuriteitsredes.”

Rot verstaan nie. “Sekuriteitsredes?”

“Ja, jy weet tog self die boere hier in die Karoo laaik nie die Engelse so baie nie.”

Rot verstaan steeds nie. “Is dit nog oor die Boereoorlog, Meneer?”

“Dit seker ook ja, maar eintlik, eintlik oor die rugby.”

“Sheesh, ek dink nie hy gaan dit koop nie, Meneer.”

Vinni en sy tor dink vir ‘n oomblik na. “Okei, ek sal hom ‘n storie spin en sê dit was om vinnig ‘n werkspermit te kry.

Rot is steeds nie oortuig nie. Hy skud sy kop skepties. “Nee Meneer, ek weet darem nie so mooi nie.”

‘n Geïrriteerde Vinni beduie. “Hou net op worry! Worry los nie probleme op nie.”

“Dan is dit reg so, Meneer … dink meneer hy sal darem ok met ‘Jesus’ wees’?”

“Harry is so keen om die gospel in Afrika te kom verkondig; ek dink nie hy sal omgee as ons hom ‘Boris die Bobbejaan’ noem nie!”

*************************************************************

As daar moeilikheid is, is Winston Montgomery se kantoor altyd die eerste stop voor en na Klaarstroom Hotel se Ossewa Bar. Sersant Jantjies was skaars die oggend op kantoor of ‘n bedremmelde Spanner kom snik-snik daar aangesit.

“Heiland Spanner, dit lyk asof jy deur ‘n spul doringdrade gesleep is!” Hy wys na sy bril met sy dik, vuil, lense. “Kan jy my ooit deur daai bril van jou sien?” Sersant haal ‘n servet uit die laai en gee dit vir Spanner wat staan en bewe. “Dê, vee die dêm ding af!”

So tussen die rou snikke deur word die bril se glase skoongevryf. Sersant skud sy kop, draai om,  haal ‘n botteljie brandewyn uit die brandkluis en skink ‘n drievinger-dop in ‘n erdebeker.

“Hierso Spanner, ek hou maar altyd ‘n botteljie vir noodgevalle soos dié.”

Sersant Winston hou die beker na Spanner uit, maar dié deins terug asof hy ‘n geelslang aanbied is. Hy wuif afwerend met sy hande. “Nee, nee-nee. Nee dankie, Sersant …”

Jy kan sersant met die spreekwoordelike kanarieveer omtik! “Wassit nou met jou?”

“My lippe raak nie weer aan daai verfoeilike goed nie!”

“Nou toe nou! En van wanneer af nogal?”

Spanner gee ‘n droë snik. “Vandat ek ‘n ontmoeting met my oorlede moeder gehad het!”

“’n Ontmoeting met jou ma?” Sersant glo nie wat hy hoor nie.

“Ja, eintlik haar gees.”

“Haar gees?”

“Ja …” kom dit stamelend tussen die snikke deur.

Dinge raak nou interessant en sersant hou van ‘n goeie storie. “En toe?”

“Toe’t ek my bekeer.”

‘n Geskokte sersant sluk sommer self die dop af.

********************************************************

Manie Coetzee, die plaaslike prokureur, is nou nie iemand wat jy as ‘n skraal mannetjie sou beskryf nie. Hy sit agter ‘n tamaaie lessenaar en luister aandagtig na Boetie terwyl hy sy notas maak. Twee groot elektriese waaiers draai reg voor hom in ‘n wanhopige poging om die hitte effe draaglik te maak.

“ … en doktor Ferguson sal in diens geneem word vir ‘n tydperk van twee jaar.”

Boetie lig sy vinger. “Maak dit liewer drie jaar, Manie. Ek wil nie hê daai verdomde klomp kommuniste by die skool moet van hom hoor en hom dan kom wegrokkel nie.”

Piston lê nou ook sy eiertjie. “Dis net wat hulle sal doen ook! Daai agterbakse klomp barbare het mos geen dêm skaamte of ordentlikheid in hulle nie!”

Manie draai die waaiers ‘n paar klieke op. Boetie moet nou kliphard praat om bo die gedreun hoorbaar te wees. “Hoekom kry jy nie vir jou aircon soos al die ander kantoormense nie? Ek kan jou skaars hoor!”

Manie kyk op en vee sy gesig met ‘n bloedrooi sakdoek af. “Aircon gee my ‘n vieslike puisie-uitslag.”

Manie bestudeer eers weer ‘n slag sy notas voor hy voortgaan. “Okei laat ons nou sien … ons maak Ferguson vas vir twee jaar …”

Boetie praat hard teen die nog harder gedruis van die waaiers in. “Ek’t gesê drie jaar, Manie!”

“Jammer my fout …”

“G’n wonder jy maak foute nie, demmit! Jy kan my verdomp nie hoor nie. Die spul waaiers raas erger as ‘n blêddie Boeing!”

Manie gaan rustig voort. Hy’s lankal reeds gewoond aan Boetie se uitbarstings. “Het Snakes en die ander manne al geteken?”

“Nee.“

Manie kyk gestoord op. “Nog nie?”

“Ek werk daaraan; ons het juis net na lunch ‘n vergadering met hulle.”

Manie tik met sy pen op die lessenaar. “Jong, hierdie Engelsman gaan jou en Piston ‘n kleinhuisie vol geld kos. Is jy seker jy doen die regte ding?”

Piston knik. Hy kyk in Boetie se rigting. “Dis wat ek ook wil weet!”

Boetie glimlag meewaardig. “Ek weet hy’s duur, maar ons kry moerse waarde vir ons geld.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!