Sonnette Lombaard
Is jy ‘n lewenslange avonturier en ewige student, gryp jy enige goue kans om intense gebeure eerstehands te ervaar en daaruit te leer. Soos ‘n bekende Kapenaar en natuurliefhebber tydens die durende stormweer bewys het toe hy (uit eie keuse) ‘n boom bestyg het om werklik die woeste winde aan eie vel te beleef.
Dr. Bruce Copley, pa van ons Hollywoodster akteur Sharlto Copley, deins g’n terug van enigiets nie, ook nie die Kaapse berugte stormweer en woeste winde wat tans dié provinsie en ander dele van die land teister nie. Dít bied dan juis unieke kanse vir nuwe ontdekkings en mensgroei, iets wat Bruce op 75-jarige ouderdom nog voluit nastreef, predik én self ook toepas.
Dis ook nie die eerste keer dat dié superfikse oud-sportproffie, internasionaal-gerekende holistiese terapeut, bekroonde spreker en veelsydige musiekman – hy bespeel meer as 100 instrumente waarvan hyself baie besit – in ‘n boom bly nie!
Bruce het Sondagoggend vroeg met die heel woeste weer nog in aantog, besluit om die ongure toestande vanuit die hoogtes te trotseer. “Dit was die perfekte kans om ‘n boom in my tuiskontrei in die Franschoek-omgewing te bestyg en iets waardevol wys te word.”
Tydens sy 35 minute in dié 1,12 m-hoë okkerneutboom het hy met die weerselemente in swang, ‘n unieke wipwarit soos min beleef, Hy kan dit sterk vir enige natuurliefhebber aanbeveel. “Terwyl ek in die boom was, is ‘n kleiner tak afgeruk – dit het dit gou tuisgebring dat die rukwinde van meer as 100 km/uur om en deur my, speel nie rond nie.”
Volgens die boomliefhebber is boomervarings nie só ongewoon nie. Hy verwys na John Muir, Amerikaanse baanbreker-omgewingskundige en vader van die bekende Yellowstone Nasionale Park in die vroeë 1900’s. Vir Muir was een van sy mees onvergeetlike ervarings om vir minstens 30 minute in die hoë takke van ‘n boom te klim en daar te sit, juis ook wanneer die wind baie sterk gewaai het.
“Muir het gepas gemeen dié ervaring kan slegs ten volle waardeer word deur regstreekse ervaring. Ná my tweede natuurlike windwipwarit vanuit ‘n boom stem ek ten volle saam met sy sentiment,” het Bruce aan Die Waarheid vertel.
Hy is eers ná sy boomervaring eergister van die erge Blaauwklippen-brand by die nabygeleë geskiedkundige Jonkershuis in Stellenbosch ingelig. Dié brand is aangejaag deur die woedende winde sterker as 130km/uur en het blitsig Jonkershuis en die Manor-huis op een van die oudste wynlandgoederye in puin gelȇ.
“Om op ‘n video te sien hoe hierdie vuur deur die wilde, weghol winde aangevuur is, was nogtans ‘n skok. In die boom was in ‘n meditatiewe toestand wyl die wind om my gewoed het. Ek het natuurlik begin bewe toe ek daar bo gedink het watter helse vuur só wilde wind kon ontketen.”
Volgens Bruce bestaan daar geen menslike brandbestrydingstrategie in die wêreld wat teen só soort inferno kan wen nie.
Hy lag net oor mense se verbasing en reaksie oor sy boomavonture. “Ek is selfs beskryf as ‘n maverick-ikonoklast wat sertifiseerbaar kranksinnig is.”
Hy meen die risiko’s wat ons in die lewe bereid is om te neem, is direk eweredig aan die potensiële winste en leerstellings wat hulle bied. Die enkele daad om soggens uit die bed op te staan, behels ‘n risiko, wat sigselwers min waarde byvoeg.
Bruce se lewensfilosofie is dat ons sonder die moed vir spronge van verbeelding, kreatiwiteit en avontuur, arm bly en nooit die lewensbevestigende opwinding van moontlikhede kan ervaar nie.
“Ek wil my lewe ten volle ervaar en leef eerder op die rand wat baie vinniger draai as by die veilige, stadiger punt by die middel. Ek het Sondag volle vertroue in my boomuitstappie gehad as ‘n moeitewerd-risiko en dit was so.”
Die woeste winde en onstuimige weer in die Wes-Kaap het nie net verwoes nie maar ook ‘n gulde kans geskep om sy diepe liefde en respek vir die natuur op ‘n unieke manier uit te leef. “Ek kon die elemente waarlik beleef – dit was ‘n baie holistiese manier om my geliefde bome se interaksie met die element van lug te ervaar wanneer dit baie gelaai en lewendig is!”
Die veelsydige Bruce wat tennis en muurbal op topvlak gespeel het, kombineer graag sy vele, en weliswaar soms vreemdsoortige talente. Hy het wêreldwyde aansien verwerf as ‘n maverick didgeridoo-speler wat ook vuur kan skep in dié 40 000 jaar oue instrument en is ook ‘n pionier in korporatiewe tromspel.
Vuur is sy passie en gunsteling natuurelement en as ‘n kenner leer hy oud en jonk landwyd oor vuur se krag en ook wonders.
As oudproffie in sportwetenskap aan universiteite plaaslik, asook in die VSA en Kanada, het hy vroeër al sy merk gemaak as formele opvoeder. Sy baanbrekerswerk met holistiese opleidingsmetodes in die informele en alternatiewe onderwys is met die gesogte British Association-medalje vir voorpunt wetenskaplike navorsing vereer.