PAUL C VENTER
Deel Twee (Slot)
“My relationship with God is a personal matter. I do believe in leaving the heavens to those who want to interpret the heavens as they see fit.” Tom Hanks
Hans Steek Die Rubicon Oor is nie Rudie van Rensburg se eerste boek nie. Die begaafde skrywer en kunstenaar het ‘n string romans agter sy naam, maar sy reeks oor Hans is dalk die gewildste en het glo van die rakke afgevlieg.
Pierre van Pletzen haat clichés, maar praat met hom oor sy vrou en hy erken ruiterlik hy glo Sandra is die volmaakte maat vir hom. “Ons het saam op die verhoog en in televisie gewerk. Sy’s mooi en slim.”
Daar is ‘n taamlike ouderdomsverskil tussen Pierre en Sandra, maar hy voel nie dit was ooit ‘n probleem nie. “My seun was nege en my dogter ses toe ons getroud is. Sandra het soos ‘n ouer suster vir hulle geword. Sy gee om.”
Dat hulle as span kon saamwerk, was ‘n groot pluspunt nadat Pierre die veilige inkomste van 7de Laan verloor het. “As armoede by die voordeur inkom, hol liefde by die agterdeur uit,” was nie ‘n cliché van toepassing op hulle nie.
Hulle het hartseer van die woonstel in St Francis se hawe afskeid geneem, en by familie op ‘n landgoed buite Stellenbosch ingetrek: om hulle wonde te lek, die kat behoorlik uit die boom te kyk en werk te soek.
En tyd met die kinders te bestee. Zetske kan soms wegglip van haar loopbaan as speler en vennoot in Halo, ‘n klerereeks wat goed vaar. Pierre erken hy is mal oor haar seuntjie Alexander. Hy is duidelik ook trots op sy seun Peach wat as voorsanger van Van Pletzen veral in België en Nederland opgang maak.
Saans het hy ook kans gekry om tyd aan Bybelstudie te bestee. “Ek het 20 jaar gelede daarmee begin, die Bybel al drie keer deurgelees. Ek fokus op temas: byvoorbeeld die Skepping, reuse, heidense bagasie in die Christendom, en ek stel stambome saam.”
Werk as akteur het uiteindelik begin kom, films soos Meerkat-Maantuig, maar dit was maar drupsgewys. Pierre onthou ‘n gesprek met twee dames wat ook nie meer spring chickens is nie … ervare spelers … en hulle het saamgestem vandag se vervaardigers sien die ou akteurs net in die rolle wat hulle beroemd gemaak het.
“Daar sit ons toe en betreur ons lot,”lag hy, “drie ou mense wat worry wanneer kry ons weer ‘n job.”
Dit gebeur natuurlik nie net in Suid-Afrika nie. Peter O’Toole, die Ierse rolprentster wat dalk die grootste indruk as speler op Pierre gemaak het, het op 80 gekla hy kry nie meer goeie rolle nie, “but I don’t measure up to my own expectations either.”
O’Toole was Lawrence of Arabia. Hamlet. The Lion In Winter. King Lear. The Merchant Of Venice. Lord Jim. “I don’t measure up to my own expectations” se dinges.
Maar elke donker wolk het soms ‘n silwer randjie, beslis in Pierre se geval, al haat hy ook clichés. Dis toe nie heeltemal waar dat alle vervaardigers ouer spelers in ‘n boksie van die verlede prop nie.
“Ek moet eenvoudig my engele se name noem,” se Pierre dankbaar. “Die regisseur Nina Swart, Die Boekklub en Fraksie se Louis Pretorius en Albert Snyman, Corné en Rene van Rooyen wat reekse soos Alles Malan gemaak het. Hulle was daar toe ek werk nodig gehad het.”
Voor in die wapad het Corné van Rooyen se lig ook vir Pierre gebrand; hy het dit nog net nie geweet nie. Corné was al besig met ‘n draaiboek oor Rudie van Rensburg se Hans Steek Die Rubicon Oor. Hy het Tobie Cronje oorweeg vir Hans, maar Tobie het gevoel hy gaan nie werk as ‘n leierfiguur wat ‘n rebellie in ‘n ouetehuis moet lei nie.
“Weet jy wie moet Hans speel?” se Tobie toe. “Pierre van Pletzen; hy’s gebore om Hans te speel.”
Dit het Corné glo laat dink aan ‘n koerantfoto wat hy van Pierre gesien het. Dis geneem op ‘n perskonferensie nadat Pierre finaal uit 7de Laan gestap het. Die uitdrukking op sy gesig het Corné getref.
Intussen het Pierre en Sandra weer getrek, die keer na ‘n oulike strandhuis op Kleinmond naby Hermanus. Dit behoort aan Sandra se pa, ‘n afgetrede brigadier in die polisie, en hier kon hulle honde weer lekker jakker. Virginie, die Jack Russell, is twaalf jaar oud en kan regtig al op Van Pletzen as haar van aandring. Spartacus, heelwat jonger as Virginie maar aansienlik groter, het nou nie so ‘n spesifieke bloedlyn nie. Hy is ‘n Golden Retriever. En ‘n skaaphond. En ‘n paar ander honde … sy ma was te besig om behoorlik te kyk watse honde.
“Spartacus was skreeulelik en ondervoed toe ons hom gekry het,” glimlag Pierre, “maar toe groei hy met ‘n spoed en word Joseph and the Technicolor Dreamcoat; hy’s ‘n blonde, bruin, wit, swart maar tog adellike hond. Hy is slim, ‘n ware karakter, almal in die buurt groet altyd en vra hoe gaan dit met hom.”
Pierre wonder oor mense wat troeteldiere wil aanhou, maar dan raak hulle skaars aan die diere. “Ons druk en vryf ons honde gedurig, hulle gee ons liefde en ons gee dit terug.”
Toe Pierre by Corné van Rooyen hoor hoe oud moet die karakter Hans wees, het hy gevoel hy moet net noem hy is nog nie naastenby so oud nie. Toe vertel Corné hom van die foto wat op daardie perskonferensie van Pierre geneem is.
“Hy sê ek het weerloos gelyk, en dis presies wat hy in Hans soek.”
Dis ook presies wat Pierre vir Corné in die rol gegee het. ‘n Weerloosheid wat jou hart raak, en natuurlik comedy timing wat jou maag laat ruk soos jy lag. In Corné het hy ook ‘n skrywer en regisseur gevind wat hom die ruimte gegee het om die krane van sy ervaring en talent as speler oop te draai.
Ná die vrystelling van Hans Steek Die Rubicon Oor, kom erkenning toe betreklik vinnig. Pierre wen die Silwerskermtoekenning as beste akteur. En toe seker ook die heel beste erkenning vir enige speler: die applous van gewaardeerde kollegas in die bedryf, en die sukses van die film by kykers.
Maar nog was dit het einde niet: Los Angeles se Motion Pictures International Film Festival gee die 2024-toekenning vir best performance aan Pierre vir sy werk in Hans Crosses The Rubicon. Corné van Rooyen wen die feestoekenning as beste regisseur, en die rolprent die beste filmprys. Dis in die oorspronklike Afrikaans met Engelse onderskrifte in die buiteland versprei.
En nee, die paartie is nog nie oor nie: Pierre en Corné word genooi om in Mei vanjaar as eregaste ‘n filmfees in Rusland by te woon. Dit word gehou langs die Swart See, en die uithangkuier word soms die Russiese Cannes-filmfees genoem. Hans Steek Die Rubicon Oor sal ‘n inskrywing op die fees wees.
“Ek is chuffed!” lag Pierre. “Mense jok as hulle voorgee hulle raak naderhand gewoond aan erkenning. Dis vir my nog so lekker soos die eerste toekenning wat ek 47 jaar gelede vir P.G. du Plessis se Nag Van Legio gewen het.”
Wanneer ‘n gryskopman met ‘n grys snor deesdae die wandelpaaie by Kleinmond aanpak en mense herken hom, groet hulle: “Dag, Pierre, dag, Spartacus, hoe gaan dit vandag?” Hy en sy bont hond is chuffed daarmee.
einde