Die saak teen die sogenaamde Groblersdal Vier asook ‘n oudburgemeester van Groblersdal is gister in die Groblersdalse streekshof tot 9 Mei uitgestel.
Devon Hofmeyr, die jeugleier van die UIM en seun van die sanger Steve Hofmeyr, staan saam met Willem Petzer, Francois van der Merwe en Tewie Wessels tereg op aanklagte wat met openbare geweld verband hou. Dries Olivier, oud-landdros en burgemeester van Groblersdal, het homself op 13 Maart aan die polisie oorhandig en is dieselfde dag op R5 000 borgtog vrygelaat.
Al vier is in Februarie na ‘n uitgerekte borgtogaansoek op R5 000 borgtog vrygelaat. Die saak teen die vier volg op ‘n betoging by die Groblersdal-landdroshof, waar ‘n groep van sowat 100 betogers geëis het dat Piet Groenewald en Stephan Greeff vrygelaat word. Groenewald en Greeff staan tereg op ‘n saak wat verband hou met die aanranding op ‘n werknemer.
Daar was gister weer ‘n groot polisieteenwoordigheid buite die hof, waar ondersteuners van verskeie politieke partye aan protesaksies deelgeneem het.
Hofmeyr jnr het op sosiale media ‘n beroep gedoen op ondersteuners om by te dra tot die regskostefonds.
Olivier, ‘n oud-landdros, verdedig homself terwyl Petzer en Wessels albei deur adv. Piet Pistorius verteenwoordig word. Adv Izak Herbst verteenwoordig Hofmeyr en Adv Wayne Gibbs tree op vir Van der Merwe.