Skip to main content

ISAAC CLOETE

Dit het twee weke geneem om ‘n voortvlugtige, Wouter Pieterse (31), van Kenhardt vas te pen.

Volgens die polisie-woordvoerder, sers Timothy Sam, was hy Sondagaand aangekeer. Hy kon sedert 9 Maart nie gevind of gevang word nie.

Die het vroeër bekend geword dat Pieterse en sy meisie, Makoline Gous, in ‘n woordewisseling betrokke was. Net hierna het Pieterse sy baba gegryp, in ‘n rugsak gesit en verdwyn.

Hy was vir twee weke voortvlugtig nadat sy baba (later bekend as Victor), raaiselagtig gesterf het. Hierna het ‘n grootskaalse en deurlopende soektog na hom begin.

Dit het die gemeenskap, ‘n private sekuriteitsmaatskappy, Mackey Securities asook die polisie ingesluit. Laasgenoemde behoort aan Johan Mackey wat aanvanklik R2000 beskikbaar gestel het om Pieterse te vang.

“Pieterse was Sondagaand teen middernag by ‘n golfbaan deur ‘n plaasboer, Johan Hugo en sy werkers, gevind. Hulle het sy spoor gesny en uitgevind hoedat hy beweeg. Nadat hy gevang was, is hy aan die polisie oorhandig,” het John se seun, Leroy, wat instrumenteel was by die soekery, gesê.

Volgens die ondersoekbeampte, AO Elrich Mienies, kon hulle al lankal vir Pieterse vasgetrek het as hulle meer hulpbronne en mannekrag gehad het.

Hulle het vir twee weke met twee skofte polisiebeamptes aaneen probeer om vir Pieterse te vang. Later moes hulle die hulp van die boereverening en boere van die omgewing inroep, volgens Mienies.

“Die boerevereniging en plaasveiligheidsafdeling het ons baie gehelp, nadat ons besluit het om ‘n lokval vir Pieterse te stel. Ons het vooraf ouens aangesê wat om te doen as hy weer by die golfbaan, waar sy nefie bly, opdaag,” sê Minies.

“Hy het later dwelms gesoek en toe het ons met iemand gereël vir wanneer Pieterse dit kon kom optel. Toe hy daar opdaag, was hy honger. Hulle het hom gekos gegee en vasgebind terwyl hy geëet het. So was hy gevang.”

Mienies het ten slotte saamgestem dat die verdagte die ruwe area geken het, want hy was glo al van kleins af iemand wat vir tye in grotte gaan wegkruip het.

Behalwe dit, was Pieterse met ‘n mes bewapen en dit het die gemeenskap afgeskrik om hom aan te vat.

Hy het weer op die 3de April in die Kenhardt-hof verskyn en bly in aanhouding.

Leave a Reply

error: Content is protected !!