Sonnette Lombaard
Die vurige kerkdiens was al meer as ‘n uur in swang toe sy haastig binnekom. Windverwaaid en skraps geklee met hare nog vars deurmekaar gewoel, het sy met ‘n vasberade tred haar tussen die sowat 100 gemeentelede na reg voor gebeur.
Tot by die groot, goue kruis waar sy haarself onbeskaamd op die marmervloer neergewerp het, gesig na onder en hande uitgestrek. Belydend en aanbiddend … vir vergifnis? Vermoedelik. Weerklink warm in my geloofsiel! Want is geloof soos ‘n kind nie toenemend die mees pryslose ding in ons raserige bestaan nie?
Die ongewone kerkganger se binnekoms by die erediens het geensins die Russiese priester voor ontstig nie. Hy het onversteurd voortgepreek. Nie ‘n enkele gemeentelid het ‘n oog geknip nie, hulle het bly fokus op hul eie, binne-belewenis van die bebaarde kerkvader se indringende stadsboodskap.
Dié aangrypende toneel van ‘n Russiese “rent girl” in die heilige wit-en-goue Russiese Ortodokse kerk in Midrand sal hom ewig bybly, vertel ‘n Kaapse vriend.
Kan jy dink watter hoe-ha só “losse” vrou se onbeskaamde, openbare aanroep in enige van die Afrikaanse kerke sou ontketen, verwoord hy hardop my gedagtes in oor-en-weer geselse.
Hy het tot onlangs gereeld die twee uur-lange Sondag-diens in die Russiese kerk bygewoon. Ons deel ‘n intense belangstelling in Ortodokse gelowe – saam met die Katolieke en Protestante een van die Christendom se drie bakermat-gelowe.
“Alles is in Russies, jy staan die hele tyd en verstaan g’n snars nie. En tog het ek nog op min ander plekke die Here só hard en duidelik en suiwer hoor praat met my,” bieg hy verder.
Sy ongewone geloofstorie van hoe ‘n “hoer” in die Russiese kerk net hier anderkant gaan bely en om vergifnis gesmeek het, beland oor die pasafgelope Pase in my stroom … ruik mos na pure, lewensles kruislangs?
Die eva met oënskynlik losse sedes se aangryplike boetedoening het reg voor sy oë ontvou. Dit gee my toe ‘n pasella paaseier om te lê, want só intense prentjie laat jou blitsig opnuut bestek neem oor geloofstameletjies. Helaas is nie almal van ons gewillig-bekeerbare skapies wat soos lammers kan glo en vreedsamig aanwei nie (weliswaar ‘n erg aanloklike beeld, gee ek ruim toe).
Vir die ewige studente wat die lewe ondersoekend en nuuskierig bereis, is die groter kernvraagstukke soms tawwer. Veral as ateïswees g’n opsie is nie, want my oerinstink koop dit bloot nie. Terselfdertyd sorg soms se agnostiese strepe wel dat jy nooit “oorgerus” en ‘n slapgat Christen raak nie – volgens my verstaan ook ‘n sonde!
Net vir duidelikheid: die klarigheid oor ‘n groter mag luier lankal gemaklik en diep binne my. Maar my siel bly dors na kennis oor die groter onbekendes. Begryp ons nie juis met oudword hoe MIN ons eintlik weet en verstaan van net mooi áls nie? En die ontwykende Misterie agter en van alles, juis ook van geloof, beloof vars ontdekkings!
Vroeg al het die onbetwiste wete van net twee heilige strewes op ons Aardse pelgrimstog in my rusplek gekry: die liefde en geloof. Beide louteringsprosesse wat in suiwerste vorm, ons ongetwyfeld na die piek van menswees verplaas.
Helaas ís geloof ook deur mensswaktes en sondes verdraai, afgewater en beklad. Hartseer genoeg, is dít nêrens meer opvallend as binne kerke en in gelowiges se omtes nie. Vir my altans. Ek brand graag kersies en kniel enkeld en alleen.
My gees gun ook ander húlle sieninge oor geloof en liefde – ek leer selfs uit ander maniere van daarmee omgaan. In hierdie besige en vloeibare millennium is mensgedeelde soeke na waarheid, sin, rus en vrede durend, dan nie?
Só stoot vroue wat eenkant wil aanbid, my as ‘n “outydse” feminis nog nooit af nie. Mans en vroue se emosionele bedrading verskil eenmaal en geloof, ‘n ten diepste sielestorie, kan gemaklik vra vir aparte afsak in die heilige knielaksie. Voorts vind ek die lawaai oor Moeder Maria ‘n leeftyd lank vreemd.
Vir sommige soekers bied iets soos panteïsme meer klinkbare sien-is-glo-gerusstelling – die Aarde en die natuur word as goddelik en heilig geëer. Mos maklik om die natuur en geloof gelyk te stel – dis juis die een plek waar min bestand is teen God se mag en krag en kan dit nie daar ten aanskoue ontken nie!
En wyl die Russiese kerk hier figureer, laat dit my dink aan een van hul groot, moderne vernuwers se geloofsuitkyk: “I believe in the cosmos. All of us are linked to the cosmos. So nature is my god. To me, nature is sacred. Trees are my temples and forests are my cathedrals. Being at one with nature,” het Mikhail Gorbachev gepreek.
Self kan én wil ek nie die bestaan van God ontken nie, maar die lewe in volomtrek en gebrekkige mensverstaan bly ‘n ontembare misterie enduit. Vriendin Riette van Piketberg se Bybelse raad troos en reis saam met my: dat ‘n mens moet streef na daai vrede wat álle verstand te bowe gaan.
Terug na ons ootmoedige suster op die kerkvloer. Ek deel dié sonderlinge storie met like-minded geloofsiele.Verbaas haar nie, laat weet Elna uit die Wes-Rand. Lees ons dan nie in die Bybel hoe Jesus hom ontferm het oor die sg. hoere en slette nie?
Ons twee het saam op Brakpan uit die NG kerk gekatkiseer. In die apartheidsjare toe die Broederbonders ook die drie susterkerke met ‘n verwaande vuis regeer het. Toe die skynheilige kerkbroers gehoer en rumoer het en swanger susters uit gemeentes gewerp het … en vroue oraloor op grond van hul geslag skandelik van sekere kerkvoorregte ontneem is!
As ‘n hooffees van die Christelike kerk, herdenk Paasfees juis die opstanding van Jesus Christus ná sy kruisiging. Een vrou met sg. “losse sedes” se aandoenlike kruisbelydenis op ‘n Sondagoggend op Gautengse marmer is tog ‘n tydige les vir ons sondige siele se vlees- en vele swaktes?
Jesus se ope uitnodiging aan almal wat belas en bemoeid is, geld juis vir háár ook. Dis dan juis wat die Kruis vergestalt, verlossende voordele en eindelose hoop vir almal … altyd.