Skip to main content
PAUL C VENTER

DIE HERLEWING VAN PIERRE VAN PLETZEN

Deel Een 

 

“I said I can’t play this, the part’s too small. The producer said don’t read the lover, read the father. I thought that’s it, I’m too old, my career is over. I didn’t know the best was yet to come.”

                                                                                                                                                    Michael Caine   

 

Die hawe van St Francis met sy woud seiljagte laat almal aan ‘n Griekse vissersdorpie dink. Besoekers mors met woorde soos verruklik en awesome as hulle dit vir die eerste keer sien.

Uit een van die hawe se mooi woonstelle tree ‘n gryskopman met ‘n grys snor en mik na die wandelpad langs die see. Hy stap dit gereeld wanneer hy en sy vrou stedelike stres los en hier kom asemskep. Soos gewoonlik kry hy dit nie reg om die wandelpad alleen te bereik nie.

“Oubaaaaas!” skree iemand.

En binne minute loop Pierre van Pletzen in ‘n groot wolk opgewonde vakansiegangers, huisvrouens en vissermanne wat net aan hom wil raak. Brad Pitt se moer as hy nou hier uit ‘n kar klim, niemand gaan sy handtekening vra nie. Oubaas is die ster.

Nie te bad vir ‘n laaitie wat sy eerste gil op 1 Mei 1952 op die myndorp Stilfontein gegee het nie. Hy was ‘n skaam kind en vol drome, maar het beslis nie gedink hy gaan op 65 ‘n televisiester met ‘n huis in Pretoria en ‘n vakansiewoonstel op St Francis wees nie.  Dit was nie alles te danke aan 7de Laan se Oubaas nie; Pierre van Pletzen het na universiteit op die verhoog en later met films en televisie diep spore getrap voor Danie Odendaal, die skepper van 7de Laan, sy eksentrieke karakter Septimus van Zyl in Pierre gesien het.

Oubaas het een van die sleutelkarakters in die seep geword, en het sekerlik bygedra tot die sukses van 7de Laan. Maar dis nie al wat Pierre gedoen het nie. Hy het as regisseur een van Danie Odendaal se steunpilare geword en so help skep aan die vermaak wat die kykers geniet het.

En toe, op 65, kort nadat hy weer op St Francis deur bewonderaars toegesak is, val die byl. Oubaas se tyd is verby. Die karakter word uitgeskryf, soos hulle in televisie sê. Daar gaan nie meer ‘n Septimus van Zyl met koddige sêgoed wees nie.

Het 7de Laan se kykers nie meer van die karakter gehou nie? Nee, hulle het hom gemis toe hy weg is. Het Pierre as regisseur iets verkeerd gedoen? Nee. Danie Odendaal was natuurlik nie meer in beheer van 7de Laan nie, die nuwe base het gevoel die seep kort nuwe bloed. ‘n Besluit wat dalk die einde van 7de Laan bespoedig het, maar dis nie ‘n gesprek waarby Pierre betrokke raak nie. Nie omdat hy voel hy moet stilbly nie, hy vind die onderwerp nou vervelig, erken hy dink nie eens meer aan Oubaas nie.

Hy onthou net “ek was nie geskok nie, het dit soort van verwag, maar ek het toe twee salarisse verloor, as speler en as regisseur. En ons het skuld gehad om af te betaal, so dinge het tough geraak.”

Sandra Vaughn, Pierre se sprankelende vrou, speel ook in films en tv-reekse, en help draaiboeke skryf vir films soos Semi-Soet en As Jy Sing, maar as vryskut is sy nie altyd seker van ‘n inkomste nie. Sy kon nie alleen die wa deur die drif trek nie.

Daar was spaargeld in die bank, maar dit moes vir die ware werklose oudag hou. Pierre se twee kinders, uit sy huwelik met die aktrise Elzette Maarschalk, kon darem al self die mas opkom. Zetske speel ook, onder andere as Marcelle in 7de Laan, terwyl Pierre-Henri (almal noem hom Peach) opgang begin maak het met die rap-musiek van Bittereinder en Van Pletzen.

Pierre en Sandra besluit toe om die huis in Pretoria te smous en permanent op St Francis nes te skop. Sandra sou skryf en speel waar moontlik, Pierre sou weer die werksoekende pad van die vryskutspeler aandurf.

Deon Opperman het Pierre as Sakkie in Getroud Met Rugby gebruik, maar dit het nie ‘n rol geword wat hom ‘n vaste inkomste kon gee nie. Sandra het haar bes probeer, maar hulle het na die vreedsame skoonheid van St Francis begin kyk deur syfers wat eenvoudig nie wou klop nie.

Toe begin Pierre se ou laai weer. As hy nie ‘n vaste verpligting het wat hy elke môre moet nakom nie, is hy geneig om sy dag en nag om te draai. Dit kom al van sy skooldae af.

“Ek wil nie gaan slaap nie,” vertel hy. “Ek hou van die nag. Die stilte. Ek dink beter, ek werk beter.”

Daar kom ‘n tyd wanneer mens jou kop moet neerlê. Eers probeer hy sy kop leeg maak, wil nie kreatief dink nie, wil nie worry nie; dit het hy gelukkig afgeleer, want wat kan jy in jou bed omtrent enigiets daarbuite doen?

“Ek probeer ‘n afwesigheid van gedagtes handhaaf,” verduidelik hy ernstig, maar met ‘n sjampanje-vonkel in sy stem. “Werk dit nie, sal ek byvoorbeeld dink aan die reeks wat ek en Sandra gisteraand gekyk. Of ek sal dink aan die boek wat ek lees. Werk dit ook nie, begin ek aan Bybelse stambome dink. Ek kyk hoeveel van hulle onthou ek voor ek die Bybel moet oopmaak.” Iewers daar draai hy van sy linkersy op sy rug, vir hom die regte slaapposisie. “Maar nou ontstaan twee vrae in my kop. Een: Wanneer gaan ek aan die slaap raak? En twee: Wanneer gaan ek wakker word? Want eintlik wil ek nie slaap nie en ek wil nie wakker word nie, die wêreld lyk te wreed in die môre!”

Pierre bieg dit was swaar toe hulle die woonstel moes opgee. “Ons St Francis-plan het nege maande gehou, toe besef ek en Sandra die spaargeld gaan ‘n hengse knou kry as ons nie ‘n ander plan maak nie.”

Dit was asof die meeste vervaardigers van films en reekse hulle teen die Oubaas-karakter blind staar, asof almal vergeet het van die Pierre van Pletzen wat nie net as akteur op dekades van sterk rolle kon terugkyk nie, maar as regisseur uitgeblink het en homself ook as administrateur van ‘n suksesvolle toneelgeselskap bewys het.

Die gryskopman met die grys snor het die wandelpad by St Francis nou voos geloop. Dink net wie was dit almal wat so koponderstebo geloop het: was nie net Oubaas nie, dit was Spike in Orkney Snork Nie, Hertzog in The Fourth Reich, Tjaart Viljee in Konings en Silas Reynders in Sterk Skemer, die bose karakter waarmee hy ‘n prys as beste byspeler gewen het. Om maar enkele van dosyne rolle te noem. Hy was ook regisseur van treffers op die verhoog, onder andere Ek, Anna van Wyk, Babbelkous, ‘n knap verwerking van Sleuth, The Buddy Holly Story waarvoor hy ‘n prys vir best musical gewen het, en verskeie dramas deur Chris Vorster. En dis maar die oppervlak van sy ervaring, hy het ook toneelstukke vertaal en reg gebeitel, basies oor alles besluit wat die gehoor sien as die gordyn ooptrek.

Moet só ‘n talent saam met Oubaas dood wees?

Iewers in die Kaap, terwyl Pierre en Sandra wonder wat gaan van hulle word, is ‘n skrywer genaamd Rudie van Rensburg toe besig om ‘n karakter te ontwikkel en hy noem hom oom Hans.

VOLGENDE KEER: Lewe na die dood.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!