Skip to main content

Die ryloper – Deur Vasti Blackbeard

“Jou klein luis! Hoeveel kere moet ek jou nog vra om nie jou opdrifsels hierheen te bring nie?”

Die ou vrou se stem is geïrriteerd en Aimee probeer haar moeë oë fokus. Sy herken nie die kamer waarin sy nou is, of die bed waarop sy lê nie.

Sy hoor dan twee mansstemme wat in gedempte tone praat, maar kan nie uitmaak waaroor hul gesprek gaan nie. Haar tande klap op mekaar en sy besef dat haar klere nat is. Sy ruik soos seewater, maar weet dat dit nie moontlik kan wees nie aangesien sy in Benoni bly. Die vertrek draai toe sy haar bene van die bed af swaai.

Voetstappe kom nader, duidelik hoorbaar op ‘n houtvloer, en sy val vinnig terug op die bed, haar oë toe.

“Is sy al wakker?”

“Lyk dit vir jou so?”

“Sarkasme pas nie by jou nagklere nie. Jy weet hoekom sy hier is. Haar bloedgroep is o-negatief. Nes joune, Pa. En sodra die kwak hier is sal ons hoor of haar niere in jou liggaam sal kan funksioneer.”

“Weet jou ma hiervan?”

“Natuurlik nie. Sy dink die meisies wat ek hierheen bring is los flosse.”

“Waar is die ander?”

“Onder die garage se nuwe vloer. Die dromme het al begin stink.”

“Goed so, my seun. Goed so.”

Die deur gaan weer toe.

Aimee se tande klap weer op mekaar, maar die keer is dit van skok, nie van die nat klere aan haar lyf nie. Sy probeer onthou hoe sy hier gekom het, maar… Die ryloper! Net vir een maal in haar lewe wou sy roekeloos wees en haar ma se woorde ignoreer. Moet nooit rylopers oplaai nie! Agter diep blou oë en kuiltjies skuil daar dalk net ‘n reeksmoordenaar! “Ma kyk te veel Ruttger Hauer flieks,” het sy dan gelag. En nooit rylopers opgelaai tot vandag nie. Was dit nog vandag? wonder sy.

Die man het wragtig diep blou oë gehad, en spierwit tande wat geskitter het in sy bruingebrande gesig. Sy onthou dat hulle by ‘n winkel stilgehou het, en dat hy vir hul elk ‘n koeldrank gekoop het. Daarna… Daarna onthou sy niks!

Sy staan stilletjies op en trek die gordyn weg voor die venster. Dit is reeds donker buite en ‘n reuse basterbrak is met ‘n ketting aan ‘n draad wat voor die kamer verby lei, vasgemaak. Hy spring op en grom toe hy die beweging by die gordyn sien en sy druk dit vinnig toe. ‘Sjit! Ek sal nie hier kan uit nie,’ dink sy benoud. ‘Wat gaan ek maak?’

‘n Kardeur klap toe en sy gaan lê weer vinnig op die bed.

Die kamerdeur gaan weer oop en sy dwing haarself om egalig asem te haal al wil sy histeries gil totdat die dak lig.

“Wat het jy vir haar ingegee?” vra iemand.

“Vier van daai pille wat jy my gegee het,” grinnik die ryloper. Aimee weet dat dit hy is want sy herken sy stem.

“Is jy gek? Een is genoeg om ‘n os uit te klap. Die vrou gaan slaap tot oormôre. Dalk is dit beter so. Kom ons trek gou bloed dat ek dit kan ontleed.”

Aimee voel die prik in haar arm en forseer haar gedagtes na iets anders.

“Daar’s hy. Ek is oor sowat twee ure terug. Is jou pa in staat om tot by my spreekkamer te kom as haar niere geskik sal wees?”

“Ek sal hom self bring. Dit is immers my skuld dat sy liggaam die huidige skenkerniere verwerp.”

Die kamerdeur gaan weer toe en Aimee sluk senuweeagtig. Twee ure! Dis nie baie tyd nie!

Sy hoor ‘n kar se enjin wat in die verte verdwyn. Tien teen een die dokter, dink sy.

“Waar dink jy gaan jy heen?” skel ‘n ouvrou se stem êrens in die huis.

“Ma, nie nou nie. Ek het dinge om te gaan doen voordat die … my vriend terug kom.”

Hoekom wil hy nie vir sy ma sê dat die man ‘n dokter is nie? Sy hoor ‘n tweede voertuig vertrek en maak die kamerdeur stadig oop. Daar is niemand in die gang nie en sy trek die deur saggies agter haar toe. Die houtvloer kraak onheilspellend toe sy ‘n tweede treë gee en sy staan gevries. Haar hart klink soos tromme in haar ore.

“Pst!”

Aimee swaai om en sien die ou vrou aan die ander punt van die gang. “Kom hiernatoe! Maak gou!” fluister sy.

Aimee is nie seker wat om te doen nie.

“Die ou man is in die kombuis. Hy sal jou sien!” sis sy.

Aimee wil omkap van benoudheid en draai na die ou vrou toe.

“Roer jou maer gat!” beveel sy en maak die deur waar sy staan oop. Sy staan opsy dat Aimee voor haar kan ingaan en druk die deur weer toe.

“Waar het hy jou gekry?” vra sy sag.

“Gekry?” Aimee verstaan nie wat die ou vrou bedoel nie.

“Waar kom jy vandaan?”

“B-Benoni, Tannie,” sê Aimee.

“Dêmmit, dis ver. Die ander was almal hier langs gevang.” Sy kyk na Aimee met waterige ogies. “Ek skat dat ek nie ‘n ander keuse het nie.” Sy druk haar voorvinger oor haar lippe en verdwyn by die deur uit.

Dit voel soos ‘n ewigheid voordat die ou vrou terugkeer. “Kom, ons het nie baie tyd nie!” Sy gryp Aimee aan haar pols en sleep haar agterna. Hulle drafstap met die gang af, deur die kombuis waar ‘n ou man op sy arms lê, en by die agterdeur uit. Sy gooi Aimee se karsleutels deur die lug. “Ons beter wikkel. Toe, toe!”

Aimee se hand bewe en sy steek die sleutelgat ‘n paar keer mis voordat sy dit uiteindelik draai en die Jetta TDi se enjin hoor brul. “Waarheen?” vra sy benoud.

“Draai links by die hek uit. Ons sal die agterpaadjies vat.” Die ou vrou giggel. “Ek hoop nie dat jy omgee om ‘n pasassier te hê nie?”

“N-nee glad nie! Dankie vir die hulp!”

“Gmf, dis niks. Abel en Eben dink ek is onder ‘n kalkoen uitgebroei.” Sy beduie na haar tas op die agterste sitplek. “Ek is nou klaar met hulle.”

“Wat bedoel Tannie?” vra Aimee terwyl sy jaag dat die gras langs die pad geskok neerlê wanneer sy verby blits.

“Jy is nie die eerste een nie. Daar was ses meisies voor jou. Eben se niere is gefok. Dwelms en drank is nie goed vir mens nie, maar wat weet ek? Die dokter wat jou bloed kom trek het, is die een wat vir Eben op dwelms gekry het. En nou moet hy pa staan vir peperduur operasies.”

“Hoekom help Tannie my?”

“Die smaak en reuk van vleis wat verrot. Ek proe dit elke dag op my tong, al is hulle onder sement. En my bygeloof oor die nommer sewe,” grinnik sy. “Moenie worry nie, teen die tyd dat Abel of die dokter terug kom, sal die polisie daar wees. Eben sal van niks weet nie. Ek het sy medikasie gedokter met arseen.” Sy kyk op haar polshorlosie en vryf sag oor die gekraakte glasie.  “Teen dié tyd is hy bokveld toe. En die res van die arseen is onder Abel se kopkussing gebêre.” Sy draai na Aimee. “Ek het dit in ‘n botteltjie gegooi waar daar ‘n etiket van dokter Ayoub op is. Hulle staan nie ‘n kans nie. Draai nou hier voor regs en na sowat twee kilometer sal jy die bord sien wat ons op die highway Joeys toe sal vat.”

Aimee wil opgooi maar hou haar gesig reguit. Die ou vrou is mal soos ‘n haas! En nou is sy boonop saam met my op pad huis toe!

So ry hulle vir ongeveer twee ure sonder om verder te praat. “Sal ons ‘n bietjie musiek luister?” vra Aimee. “Ek is bang dat ek dalk aan die slaap sal raak agter die stuurwiel.”

“Gooi hom, Mammie,” glimlag die ou vrou ingenome.

‘En hier volg die nege uur nuus. Die polisie in St Lucia is op die toneel waar ‘n hele paar moorde plaasgevind het. ‘n Dokter en man in sy vroeë dertigs is in hegtenis geneem vir minstens twintig moorde. Dit is sover die aantal menslike kopbene wat in die huis se solder ontdek is. Die ondersoek duur voort. En nou vir nuus uit die buiteland…”

Aimee hou haar gesig op die pad gerig, en sy kan uit die kant van haar oog sien hoe die ou vrou se kop in haar rigting draai. “Oeps, ek het van daardie ander vergeet,” sug sy. “Het ek jou al vertel dat jy nes my oorlede dogter lyk? En ook van my bygeloof oor die getal ‘sewe’?”

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!