Karoo-stories met ‘n Kinkel – deur Koos Roets
As jy jouself as een van die karakters herken, voel gevlei.
Die son het so pas oor die vlaktes van die Karoo opgekom en dis reeds aan die warm kant. Sersant en Dorothy, albei nog in hulle nagkabaais, kom met bekers koffie by die sydeur van die poeliesstasie op die stoep uitgestap. Net voor hy in sy stoel wegsak, vang sersant iets uit die hoek van sy oog. “My magtig!”
Dorothy kyk verskrik na waar sersant wys. Slange op die stoep is nie ‘n ongewone verskynsel nie. “Wat?”
Eenkant, toegedraai in ‘n gehawende kombers, sit-lê oorlede Henri teen die stoep se muur. Sersant wys in Henri se rigting. “Hy’s wragtag terug.”
Dorothy kyk verbaas na hom. “Wie?”
“Henri!”
Dorothy verstaan nie. “Wat maak hy híér?”
Sersant stap nader en lig die kombers; daar is ‘n briefie aan Henri se hemp vasgesteek.
Hy roep Dorothy nader. “Hier’s ‘n briefie. Kom lees bietjie hier, ek’t nie my bril by my nie.”
Sy stap nader, neem die briefie en lees. “Ek’t toe maar Sersant se raad gevat en ‘n taxi vir Henri gekry. Sersant skuld R250 vir die taxi en R650 vir die koerier (handling of merchandise). Hulle sal môre by sersant kom collect. Lekker dag, Daantjie.”
********************************************************
Vinni is op die agterstoep van Jemima’s Restaurant besig om sy ontbyt te eet, toe Rot daar aangesit kom. Dis bloedig warm en die sweet tap albei in stroompies af.
“Ek dink ons het moeilikheid, Rot. Groot moeilikheid.”
“Hoe so, Baas?”
Hy beduie vir Rot om te sit. “Mamma wil daai gatkruiper hiernatoe laat kom.”
“Dis nou meneer se broer?”
Die enkele kere wat Harry kom kuier het, het Vinni aan almal wat wou en nie wou hoor nie, verduidelik dat Harry net ‘n halfbroer van hom is. “My halfbroer, Rot, my halfbroer!”
‘n Opgewerkte Vinni smeer ‘n skon so driftig dat dit in stukkies breek en met ‘n stuk moerbeikonfyt op sy skoot beland. “Shit!”
Sy poging om die skade met ‘n servet te probeer ongedaan maak, ontaard in ‘n groter gemors. Hy smyt die taai servet vies eenkant neer. “Die ou lady het soort van gedreig hy’s in as ek nie daai verdomde lisensie kry nie! Ons sal daai klein stront moet stop voor hy alles hier kom staan en opdonner.”
Rot dink ‘n oomblik na, dan spoeg die tor ‘n voorstel uit. “Moet ek vir Klein-Freek op standby kry en …?” Hy trek sy vinger oor sy keel.
Vinni skud sy kop. “Nee, niks so bloederig soos dit nie!”
Rot is teleurgesteld. “Ai, ek wou nog altyd graag Engeland toe om Buckingham Castle en Piccadilly … “
Vinni val hom geïrriteerd in die rede. “Ja, ja, ja Rot! En dis Buckingham Palace, nie Buckingham Castle nie!”
“Ekskuus Meneer, ek sê maar net.”
Hy steek sy hand uit om ‘n skon te vat, maar Vinni tik hom geniepsig met die bottermes oor die kneukels.
“Sheesh!” Hy vryf sy hand.
“Wat se job doen hy in Engeland, Meneer?”
“Skypilot.”
Rot is beïndruk. “Ek’t nie geweet hy vlieg nie.”
“Nee man, predikant. ‘n Skypilot is ‘n dêm predikant.”
“O. Nou waar preek hy?”
“Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat hy ‘n assistant-lekeprediker van ‘n sekte is of iets was. Mamma sê hy’t ‘n hengse begeerte om sendeling te word.”
Rot se oë rek. “Sendeling, Meneer?”
“Ja, die poepol glo hy’s op hierdie aarde gesit om die gospel onder die armsaliges en ellendiges van veral Afrika te kom verkondig.”
Rot skud sy kop. “Daar’s mos nie geld in so-iets nie!”
Vinni knik instemmend. “Ja Rot, dis net daai gladdebek Amerikaanse predikers wat dit regkry om die rykes se beursies oop te preek.”
Vinni smeer ‘n dik laag perskekonfyt op ‘n nuwe skon en hap. Dan skielik gloei al die lampies helder in sy boonste verdieping. “Wag ‘n bietjie!”
Hy draai opgewonde na Rot. “Ons kry vir hom ‘n job waar hy voltyds na die lammes, luies en ellendiges moet omsien! Dit sal hom weghou van Mamma af!”
“Waar Meneer?”
“Hier op Oudtshoorn, net hier, waar ons ‘n oog oor hom kan hou! ‘n Kerk of ‘n hospitaal of ‘n plek waar hy so ‘geroepe’ voel dat hy nie nog tyd sal hê om oor Club Paradiso te worry nie!”
Rot is beïndruk. “Sheesh, meneer dink ook aan alles!”
Vinni knik ingedagte. “Kakspul is … hy’s nie baie slim nie, akademies maar so-so. Hy’t net matriek gemaak voor hy saam met een of ander skepsel weg is sendingsveld toe.”
Dan verander die lampies in sy kop eenklaps in ‘n massiewe 10 000 watt spotlight! “Wag ‘n bietjie Rot, hang on! Ek gaan vir hom ‘n CV skryf wat hom so smart sal laat lyk dat hulle hom sommer die job as chief rabbi van Jerusalem sal aanbied!”
Hiervan is Rot nie so seker nie. “Hy sal dit mos nooit toelaat nie, Meneer.”
“Wat sal hy nie toelaat nie?”
“Dat meneer vir hom so ‘n nuwe ding skryf nie.”
“Vir wat sal hy nie?”
”Hy sal mos dink dis cheating en meneer weet hoe heilig daai skyfliers is!”
“Skypilots, Rot! Skypilots! Ek dink hy sal so blêddie keen wees vir die kans om die blye boodkap hier in donker Afrika te kom verkondig dat hy enigiets sal doen!”
“Sheesh.”
Vinni is nou op ‘n missie. “Ons begin met ‘n nuwe naam vir hom.”
Rot sukkel om sy verbasing weg te steek. “‘n Nuwe naam, meneer?”
“Ja, Harry is hopeloos te common”.
“Die koning se seun se naam is dan Harry, Meneer.’
“I rest my case.”
Die tor in Vinni se kop begin nou ook om saamspeel. “Wat van … hoe klink Hartwig-Taylor? Of Terrence Wilbur-Cline? Die Engelse is groot op dubbeldoor name.”
Rot skud sy kop en waag. “Te lank, Meneer.”
Die tor het nou teruggeklim op sy prop en Vinni laat waai. “Alexander Fleming? Daar was mos so ‘n dude waarvan die Bybel net altyd goeie dinge gesê het”.
Rot is verbaas. “Die Bybel, meneer?”
“Ek verbeel my so iets, ja.”
Vinni krap sy kop. “Los daai een maar vir eers … Robert? … J vir Julius? … James? Nee ek dink ons moet by iets Bybels bly … Lazarus? Nebukadnesar? Simon van Sirene?”
Rot het nie juis erg aan die name nie en skud met elke probeerslag van Vinni sy kop. Die tor skop nog ‘n naam uit.
“Paulus? Paulus van Nazaret? Nee dit lê heeltemal te swaar op die asem.”
Dan kom dit. “Ferguson?”
Vinni plak sy mes opgewonde neer. “Ja Ferguson klink dêm classy! Wat van Paulus Ferguson?”
Rot knik instemmend. “Ferguson! Ja Meneer, ek like Ferguson!
Vinni dink weer na. “Okei Ferguson is bakgat, maar Paulus werk nie vir my heeltemal so lekker nie. Wat van … wat van …” Hy dink ‘n oomblik na. “Ek het dit!”
Rat kyk hom vraend aan. ” Meneer het wat?”
“Jesus Ferguson!”
Rot is uit sy geloof uit geskok. Hy rek sy nek nog langer uit, sy mond hang oop, sy oë is so groot soos pierings en sy stem ‘n paar toonlere hoër. “Haai nee, meneer kan hom mos nie Jesus noem nie!”
“Vir wat nie?”
“Jesus is mos die Main Man in die Bybel!”
“So?”
“Dis mos godslastering, Meneer!”
“Hou op simpel wees, Rot! Elke tweede Latin-American se naam is Jesus! Dis soos Piet en Gert en Koos hier by ons!”
Rot is glad nie oortuig nie. “Ek weet darem nie so lekker nie.”
Vinni is nou in hoogste versnelling en teen dié tyd het ons geleer dat Vinni, nes brandewyn, nie brieke het nie.
“Ek sê jou wat! Ons maak hom sommer ‘n doktor ook! Doktor Jesus Nebukadnesar Robert Ferguson!”
Vinni dink ‘n oomblik na, skud dan sy kop. “Te lank, ons drop Nebukadnesar. Net Jesus Robert Ferguson! Dit klink mos ‘n hengse lot beter as Harry bleddie Jones!”