Skip to main content

Die Gqeberha Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof het Christo De Jager (60) op Maandag op 595 aanklagte van bedrog skuldig bevind. De Jager was ‘n vlootadministrateur by Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) wat in Gqeberha gesetel is.

Gedurende die tydperk tussen November 2014 en Maart 2021 is die diensverskaffer met die naam Autotrust gekontrakteer om motorbakherstelwerk vir VWSA te doen. Die maatskappy Autotrust het glo bedrieglike fakture by VWSA ingedien vir dienste wat nie gelewer is nie en De Jager het die maatskappy as administrateur bygestaan om die vervalste fakture vir betalings deur te voer. Interne ouditering het ‘n paar teenstrydighede ontdek in die fakture wat ingedien is. Die saak is toe by die Gqeberha-gebaseerde Ernstige Kommersiële Misdaad Ondersoek van die Valke aangemeld vir deeglike ondersoek.

Die ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat Autotrust en De Jager inderdaad gedurende die tydperk altesaam vyfhonderd twee-en-sewentig bedrieglike fakture ingedien het wat daartoe gelei het dat VWSA met ‘n bedrag ter waarde van meer as R12 miljoen benadeel is. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat Autotrust sowel as De Jager saamgespan het om VWSA te bedrieg en gevolglik het De Jager gereeld betalings vir persoonlike gewin van Autotrust as terugbetalings ontvang.

Op 10 Maart 2023 is De Jager uiteindelik in hegtenis geneem deur die Gqeberha-gebaseerde ondersoekspan van SCCI en het op dieselfde dag by die Gqeberha-handelsmisdaadhof verskyn en is later op waarskuwing vrygelaat. De Jager het verskeie hofverskynings gemaak totdat hy deur die Gqeberha Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof skuldig bevind is. Die saak is toe tot 22 Mei uitgestel vir vonnisoplegging.

Leave a Reply

error: Content is protected !!