Skip to main content

Sonnette Lombaard

Only when you drink from the river of silence shall you indeed sing.

And when you have reached the mountain top, then you shall begin to climb.

And when the earth shall claim your limbs, then shall you truly dance. – Kahlil Gibran in The Prophet

Interessante vraag. Hoeveel troumakieties woon jy by waar ‘n liefdesgedig of aanhaling van een van ons groot Afrikaanse digters voorgelees word, in die kerk of by die onthaal? En hoeveel waar Rumi of Kahlil Gibran, veral vanuit sy immergewilde Die Profeet lofryk oor die liefde aangehaal word? Selfs van ons pionier Afrikaner-oumas het die slagspreuke van die minder bekende (by ons) Persiese poet en wysgeer Omar Khayyam teen hulle mure gehad.

Maar ons is ver van enigste op Moeder Aarde wat nie genoeg kan kry nie van die ou Persiese en Midde-Oosterse wysgere se ryk nalentenskap van die woordkuns en/of wetenskap. Een van die gewildstes, Kahlil Gibran, se lywige werk word nie verniet beskryf nie as “‘n artistieke nalatenskap aan die mense van alle nasies”. Beroemdes haal hom graag aan in van politieke toesprake tot by begrafnisse.

So, wat betower ons so van die superkoel Persiese poets en hul Midde-Oosterse eweknieë se tydlose suiwer sê-dinge en raad oor menswees en dit wat ons rig, soos die liefde? Want terwyl die Grieke op die filosofie en geskiedenis gefokus het en die Romeine op argitektuur, was die Persiërs (vandag Iraniërs) gretig om die literatuur verder te neem.

Boonop het die koninklike families in Persië ook digters en kunstenaars aangemoedig, want geletterdheid was belangrik vir die detydse Perse. En poësie was ‘n handige manier om hul gevoelens uit te druk. Hulle voorloop-voorbeeld sou deur tyd reis en ander kulture het hierdie fyn woordkuns van gevoelens uitdruk oraloor begin volg.

Baie van die Persiese poets was ook meer as net digters en diepsinnige lewensfilosowe en/of andersins veelsydige, hoogsgeletterde mense. Soos die einste Khayyam wat o.a. ook wiskundige was. Onder die destydse digters was daar ook fisici, chemici, skilders, ens.

Die skrander Khayyam (1048 – 1131) was ‘n blink ster sy tyd vooruit met enorme bydraes tot die wiskunde, sterrekunde, filosofie én poësie. Gebore in Nishapur, die ou hoofstad van die Seljuk-ryk, het hy onder die bewind van die Seljuk-dinastie, gedurende die Eerste Kruistog, geleef.

As ‘n wiskundige is hy veral bekend vir die klassifikasie en oplossing van kubieke vergelykings, met geometriese oplossings deur kruisings. Hy het ook bygedra tot die begrip van die parallelle aksioma. As ‘n sterrekundige kon hy die sonjaar se duur met merkwaardige presisie en akkuraatheid bereken. Dit het gelei tot die Jalali-kalender, ‘n sonkalender met ‘n presiese 33-jaar siklus, wat die basis van die Persiese kalender vorm – dis bykans ‘n millennium later steeds in gebruik.

Voorts word Khayyam ook gesien as die vader van poësie geskryf in die kwatryn-vorm. Dit het wye bekendheid geniet en ook gewildheid verwerf in die Engelse leeswêreld.

Ene Jalāl al-Dīn Muḥammad Rūmī, kortweg Rumi (1207 – 1273), sou daarna die oog en oor wyer vang. Dié 13de-eeuse digter was ’n Islamitiese geleerde, teoloog en Sufi-mistisikus, en oorspronklik afkomstig uit Khorasan in groter Iran.

Rumi se werke is hoofsaaklik in Persies geskryf, maar hy het ook Turks, Arabies en Grieks in sy verskuns gebruik. Sy Masnavi (Mathnawi) word geroem as een van die grootste gedigte in die Persiese taal.

Rumi se invloed en aanhang het uitgetroon bo nasionale grense en etniese verdeeldhede: Iraniërs, Afghanese, Turke, Koerde, Grieke, sentraal-Asiatiese Moslems, sowel as Moslems van Suid-Asië gebruik sy spirituele erfenis reeds oor sewe eeue. Sy poësie het nie net die Persiese literatuur verryk nie, maar ook die literêre tradisies van die Ottomaans-Turkse, Koerdiese, Urdu en Bengaalse tale.

Rumi se werke word vandag steeds wyd gelees in hul oorspronklike taal. Sy vertaalde gedigte in baie wêreldtale bly supergewild, ook hier by ons. Hy word beskryf as die gewildste digter in o.a. Turkye, Azerbeidjan en Suid-Asië, en het oor tyd ook een van die digters met die beste verkope in die Verenigde State geword.

Maar hoewel die koms van die kuberruim Rumi se aansien en gewildheid ook in Suid-Afrika tot nuwe hoogtes voer, klop niemand ons volkie se liefde vir die Midde-Oosterse profeet Kahlil Gibran nie. Sy tydlose topverkoper The Prophet bly ‘n boekuitsondering in ‘n geriefsera waarin lees ‘n bedreigde aktiwiteit is.

Gibran Khalil Gibran (1883 – 1931) was ‘n Lebanees-Amerikaanse skrywer, digter en visuele kunstenaar, Hy het die titel van filosoof aan hom toegeken, verwerp. Sy bekendste werk The Prophet is eerste in die VSA in 1923 gepubliseer. Dit bly sedertien een van die topverkopende boeke van alle tye en is in meer as 100 tale vertaal, ook in Afrikaans.

Hy is gebore in ‘n Maronities-Christelike en brandarm gesin in Bsharri, ‘n dorp in die Ottomaanse Lebanon. Die jong Gibran emigreer in 1895 saam met sy moeder en sibbe na Amerika.

By ‘n skool in Boston is sy kreatiewe vermoëns om hom uit te druk en sy siening oor die lewe, ook in sy sketse, vinnig opgemerk. Op 15 stuur sy familie hom terug na sy geboorteland om in Beiroet te studeer. Ná die dood van sy jongste suster in 1902 keer hy terug na Boston, waar hy sy ouer halfbroer en moeder die volgende jaar sou verloor. Hy oorleef met hulp van sy oorblywende suster, ‘n kleremaker.

In 1904 word Gibran se tekeninge vir die eerste keer uitgestal in Boston, en sy eerste boek in Arabies is in 1905 gepubliseer. Van 1908 tot 1910 studeer Gribran kuns in Parys, waar hy in kontak met Siriese politieke denkers en rebelle kom wat sy werk sou beïnvloed – die Ottomaanse owerhede verbied daarvan.

In 1911 verhuis Gibran na New York, waar sy eerste boek in Engels, The Madman, in 1918 gepubliseer is. Hy was reeds besig met The Prophet of The Earth Gods. Sy visuele kuns is teen 1914 by verskeie kunsgalerye vertoon. Saam met mede Mahjari-digters, stig hy in 1920 die Pen League.

Met sy dood op die jong ouderdom van 48 jaar aan longtuberkulose in 1931, het sy letterkundige roem wyd oor die Atlantiese oseaan gestrek. The Prophet was reeds in Duits en Frans vertaal.

Gibran se liggaam is na sy geboortedorp Bsharri in Lebanon geneem – dit rus in ‘n museum wat aan hom en sy werk gewy is.

Hy het verskillende temas en uiteenlopende literêre vorme ondersoek. Wyd geëer as ‘n mensheld, word hy as “die enkele belangrikste invloed op Arabiese poësie en literatuur in die eerste helfte van die 20ste eeu” beskou.

Hoe ironies vir ‘n man wie met sy aankoms in die VSA in ‘n spesiale immigrante-klas geplaas is. Hy is “vuil” genoem omdat sy vel donker was, en hy onverstaanbaar, omdat hy skaars Engels kon praat. Hieroor skryf hy: Uit lyding het die sterkste siele na vore gekom; die reus-karakters is gebrandmerk met littekens.

Kahlil Gibran was lewenslank vurig uitgesproke teen korrupsie en skynheiligheid. Hy het geglo in liefde, vrede en begrip. Dit bied tans tydige troos in ‘n omgekrapte wêreld.

Leave a Reply

error: Content is protected !!