Skip to main content

IS MY OUDAG WAT EK VERWAG HET?

Deel drie en die slot van Paul C Venter se gesprek met homself en beroemdes oor die ouderdom

“I suppose when they reach a certain age some men are afraid to grow up. It seems the older the men get, the younger their new wives get.”

Elizabeth Taylor

Ek het my eerste regte kortverhaal in standerd ses of sewe geskryf. Ek dink dit was vir die jeugtydskrif Patrys. Dalk ‘n bladsy of twee lank, kan nie onthou nie. Onderwerp was tien teen een bendes. Seuns wou graag in ‘n bende wees met ‘n bendewapen en  bendewette en allerhande avontuurplanne.  So onskuldig. Wat het van daardie mooi onskuld geword? En die onskuldige skrywer?

Van ons het ‘n sekere mate van onskuld behou, moenie my vra hoe nie. Wanneer Brumilda van Rensburg, Brums vir haar pelle, opkyk en glimlag kan jy die onskuldige dogtertjie nog in haar sien. Sy is nie meer ‘n kind nie, Louwna van Egoli trek al in haar sestigs, maar sy laat my aan Hollywood se Elizabeth Taylor dink omdat sy ‘n soort sexy skoonheid behou het.

“Jy weet, ek verwag niks van my oudag nie,” vertel sy, “ want elke dag is vir my nog ‘n NUWE  dag en nie ‘n  OU dag nie. Ek vat alles wel ‘n bietjie rustiger en dis lekker. Ek vra en vertrou net dat ek my oudag asseblief pynloos en sonder siekte sal ervaar.”

Marko van der Colff hoop ook die lyfpyne bly weg. Marko het in die skadu van Tafelberg opgegroei maar is na universiteit noorde toe om verhoogakteur te word. Televisie het later gelok. Hy was onder andere in Arende en Die Vallei Van Sluiers te sien, en is ook ‘n ervare regisseur met ‘n ongelooflike radiostem. Mens sou dink dis nou genoeg, maar raai wat doen hy toe hy oud begin word?

“Ek was al diep in my sestigs toe die skryfgogga my behoorlik byt. Ek het voorheen daaraan gedink, maar eers op 65 besluit dis nou of nooit.”

Sy eerste roman heet Dieper As Drome,  ‘n menslike avontuur teen die agtergrond van Kimberley se diamantkoors, en dis al as die Afrikaanse antwoord op Wilbur Smith se geskiedkundige treffers oor Afrika beskryf. Hy werk tans aan ‘n nuwe boek oor die geskiedenis van die Kaap. Nie bad vir ‘n outoppie nie.

Marko onthou ook hy het “kleintyd nie veel aan oud word gedink nie. Ek het destyds nie baie oumense geken nie. My toekomsvisie was om soos Antoine de Saint-Exupery se Klein Prinsie tussen die sterre en planete te speel. En as my kop dit toelaat en die lyfpyne bly weg, wie weet? Dalk speel ek steeds op my oudag te lekker tussen die Klein Prinsie se sterre en planete!”

Nie almal is so positief soos Marko en Brumilda nie. Tydens die Covid-skrik het ek ou mense geken wat gebid het die dood moet hulle nou vat, want dit sal hulle van die geplooide monster in die spieël verlos. Marilyn Monroe het in briewe aan vertrouelinge geskryf sy wens sy word nooit oud nie. Haar wens is bewaarheid deur ‘n oordosis pille. Party mense probeer die ouderdom met jonger geselskap afweer: Elizabeth Taylor het dit perfek opgesom, sien haar aanhaling daaroor bo-aan hierdie artikel.

En dan is daar ‘n man soos Alwyn Swart, in Getroud Met Rugby die poephol wat in die kroeg oor alles teef. Hy het verskeie ander TV-karakters ook gespeel, maar in die business ken ons Alwyn as die groot en hartlike regisseur van televisiereekse soos Tekkies, Dreunkrans en komaan, wie dink regtig 7de Laan sou dieselfde sonder Alwyn se regie gewees het?

“Baie oues van dae  wroeg oor die ouderdom,” voel hy. “Wat het mens bereik? Wat doen jy nou? In die entertainment business kan mens lank aanhou, ek is soms tussen jobs en dan vat dit my elke dag bietjie langer om niks te doen, maar ek glo HBO gaan my nog ‘n lekker kontrak aanbied!”

Alwyn is al 50 jaar in die business, en intens lojaal teenoor die kunste, maar hier op sy oudag dink hy duidelik nie dis die alfa en omega van alles nie.

“Ek ken ‘n groot naam wat op haar oudag baie werk kry, net van krag tot krag gaan,” vertel hy, “en dan’s daar Marius Weyers wat tot op sy vrou se laaste net na haar gekyk het. Het dit nie meer betekenis nie?”

Ek ken Alwyn as ‘n man wat nie emosie wegsteek nie, en hy haal met gevoel uit ‘n Finse volksgedig oor oud word aan: “Ek moes nie hierdie rooi wolhandskoene begin brei het nie, ek is nou klaar daarmee … maar my lewe is verby.”

Filmlegende Jack Nicholson probeer die ouderdom dapper in die oë kyk, maar hy weier om nuwe rolle te oorweeg, wil homself nie as ‘n bejaarde in rolprente sien nie.

“I don’t want to work until I die,” erken hy. “I’m not that driven. There’s a part of me that never liked being up there anyway. Plus I’m losing hair in the good places, it’s growing out of my flippin’ ears now.”

Ek is ‘n skrywer. Dit maak nie saak hoe ek lyk nie, niemand sien my nie. Maar dit maak saak hoe ek voel. Baie. “Hoe het dit skielik laat geword?” vra Olga Kirsch in haar gedig. “Die oggend was so lank en stil … die afdraand van die dag is kil. Hoe het dit skielik laat geword?”

Dit het tyd geword om Leon Schuster ‘n beurt te gee. Die meesterlike grapmaker, the great clown of clowns, en ‘n diep menslike denker.

“Ek leef in ontkenning van my korttermyn geheueverlies,” erken Leon. “Word wakker in die oggend en sien my plaatjie kunstande in gisteraand se laaste koppie koffie. Ek ONTKEN maar dis ‘n FEIT: jy is besig om oud te word. Ek het my dit so anders voorgestel. My lewensdroom was om by my aftreehuisie na die see te sit en tuur. En daar is ander drome wat nie gerealiseer het nie. Waasdrome. Die ouderdom druk, vat my vas … en die tyd LOOP.”

Oubaas van 7de Laan verskil nie noodwendig van Leon nie. Pierre van Pletzen, deesdae in Hans Steek Die Rubicon Oor te sien en sonder twyfel een van die heel veelsydigste akteurs en regisseurs wat Suid-Afrika ooit opgelewer het, voel net “die gees is gewillig maar die vlees swak” speel ‘n groter rol soos die ouderdom nader kruip.

Pierre, getroud met die akteur en skrywer Sandra Vaughn, woon op beeldskone Kleinmond langs die see en ons is al so lank vriende ek onthou die name van sy honde wat hondehemel toe is. Hy pas homself mooi op omdat toneelspel so fisies kan wees, en hy glo “op jou oudag speel die liggaam en die brein ander rolle as wat verwag is. Dis meer kompleks as wat jy dink. So nee, oud word is nie heeltemal soos ek dit vermoed het nie. Die paradokse is te groot.”

“Hoe het dit skielik laat geword?” vra Olga Kirsch. Ek weet nie. Ek is ‘n skrywer en ek wonder op my oudag of ek regtig een wou wees. Ek droom nie van skryf nie, ek droom van vlieg bokant wolke en spoorsny agter wilde diere aan. Ek wou ‘n vlieënier of ‘n veldwagter wees. Hoe het dit so skielik laat geword?

einde

Leave a Reply

error: Content is protected !!