Skip to main content

Vervoer per pad, see of lug het nog altyd die mens se vooruitgang gestu én verbeelding aangegryp. Ons geskiedenis is juis ook deurtrek van skeepstaaltjies én skeepswrakke wat in groot waters oor die Aardbol versprei lê. Stille watergrafte wat getuig van waterdrama, braafheid en avontuurlus. Verstaanbaar want skepe was eens die voorkeur-vervoermiddel vir reise oor waters, voordat vinniger lugvervoer die haastige moderne mens se geriefsvoorkeur vir reis oor afstande sou word. Onvermydelik was daar groot skeepstragedies wat altyd die mensdom tot skok-stilstand geruk het en kleef. Die bekendste is natuurlik die statige Titanic wat op haar nooiensvaart van Southampton in England na New York in 1912 skouspelagtig sou sink nadat dit ‘n ysberg getref het. Dié seetragedie waarin 1 500 van die meer as 2 200 mense aan boord dood is, is in mensheugenis gegraveer. Dit het gelei tot talle boeke, TV-programme en ook die Oscar-bekroonde fliek Titanic (1997) met ‘n jong Leonardo DiCaprio en Kate Winslet wat gewilde kykstof bly. Maar terwyl die drama en trauma van skeepsreise vir grootskaalse hartseer sorg, bied die geskiedenis ook genoeg dokumentering van waterreise wat wel suksesvol was en/of interessant verloop het. Een só groot seeverhaal doen tans weer die rondte op sosiale media, berig Sonnette Lombaard.

Die 20ste eeu is met groot fanfare wêreldwyd afgewag. Maar wyl mense oral op land vanaf Oujaarsaand 1899 die nuwe eeu begin feestelik invier het, het ‘n stille drama met ‘n mooi einde iewers in ‘n verre groot oseaan begin ontvou.

Die passasiers- en verkoelingsvragskip SS Warrimoo was in die Stille Oseaan onderweg vanaf Vancouver in Kanada na Australië. Dié skip is in 1892 in Engeland vir Australiese eienaars gebou en was daarna in besit van twee Nieu-Seelandse skeepvaartmaatskappye voordat ‘n soortgelyke een in Singapoer dit sou koop.

Teen die aand van 31 Desember 1899 het die SS Warrimoo stil deur die wye waters van die Stille Oseaan geklief. Die navigator het pas ‘n liggingsberekening gedoen en hom opgewonde met die resultaat na kaptein John D.S. Phillips gehaas.

Die Warrimoo se posisie was breedte 0º 31′ N en lengte 179 30’ W. “Weet jy wat dit beteken?” wou Phillips dadelik weet. Eerste stuurman Payton het eerste geantwoord: “Ons is net ‘n paar myl van die kruising van die ewenaar en die Internasionale Datumgrenslyn.”

Parate plaatjie wat hy glo was, het Phillips gewis wat hom te doen staan om volle voordeel te trek uit dié rare geleentheid. Sy prestasie sorg 125 jaar later steeds in navigasiekringe vir vele vermaaklike vertellings.

Phillips het al sy navigators na die brug geroep om die posisie van sy skip weer te kontroleer en dubbel seker te maak. Hulle was beslis koersvars oppad. Hy het toe die skip se koers effens verander om direk op sy teikenmerk af te vaar en die enjinspoed aangepas.

Boonop het die kalm weerstoestande en helder nag in sy guns getel. Om middernag het die SS Warrimoo presies op die ewenaar gelê, op die punt waar dit die Internasionale Datumgrenslyn kruis!

Die gevolge van hierdie buitengewone see-posisie? Die voorkant van die skip (boeg) was in die Suidelike Halfrond en in die middel van die somer, wyl die skip se agterkant in die Noordelike Halfrond en in die middel van die winter was.

Die datum agter in die skip was dus 31 Desember 1899 en in die voorkant was dit 1 Januarie 1900. Hierdie skip was dus nie net in twee verskillende dae en in twee verskillende maande en twee verskillende jare nie, maar ook in twee verskillende seisoene en les bes in twee verskillende eeue – en dit alles op dieselfde tyd!

Die lot van die SS Warrimoo was soos baie ander groot skepe tragies en sou eindelik ook in ‘n watergraf eindig. Teen die Eerste Wêreldoorlog was Warrimoo ‘n troepeskip. In 1918 het die Franse vernietiger Catapulte in die Mediterreense See met Warrimoo gebots. Tydens die botsing het sommige van Catapulte se dieptebomme losgebreek en in die see geval, waar hulle ontplof en beide skepe laat sink het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!