Isaac Cloete
Op die vooraand van Paasfees, tradisionele vistyd, heers daar groot ontevredenheid onder veral bruin vissers.
Hier langs die Namakwalandse Weskus, met dorpe soos Port Nolloth, Kleinzee, Hondeklipbaai en selfs Lambertsbaai, kook dit onder ontstoke vissermanne. Dìt nadat soldate van die SANDF verlede week snoeke by vissers afgevat en in die see “teruggegooi” het.
Iemand van Hondeklipbaai, wat net as JoJo bekend wil staan, vertel dat die soldate Saterdag daar was. Hulle het glo bote geïnspekteur en “oortollige” visse in die see teruggegooi.
“Die mense was baie kwaad, want die seebronne soos vis is hulle lewe. Die kwotas is eenvoudig nie genoeg nie.”
JoJo het verder vertel dat vissers net 10 snoeke per dag per persoon mag vang, volgens die huidige kwota-wetgewing.
Kapt Paul Swartbooi van die Namas het sterk te velde getrek teen die ANC-geleide regering wat die “tradisionele bruin vissers uit die visbedryf wil boender.”
“Die soldate pas ons snoeke op. Bid jou dit aan. Wat is die situasie of rede dat die mense van Namaland nooit mag eet vanaf en vanuit hulle natuurlike bronne nie ?”
Hy wou verder weet wat met die vis gebeur en hoeveel visse ‘n mens mag besit. Dit omdat die soldate glo van die vis gevat het.
Walter Steenkamp, visser van Port Nolloth, stem saam met Swartbooi en reken dat die regering niks vir kleinskaal vissermanne beteken nie.
Dawid Markus is ‘n boorling van Hondeklipbaai en ‘n middelman vir visaankope en -verkope. Volgens hom beweeg die soldate periodiek tussen dié dorpie en Port Nolloth.
“Ons weet nie altyd wat die soldate met die vis maak nie. Wat ons wel weet is dat hulle optrede die vis se prys baie laat styg het. Dit was Woensdag al so teen R250 per snoek op die strand en mag styg.”
Hy het verder vertel dat dit nie meer die moeite werd is om vis langs die strand te koop weens die hoë prys nie.
Intussen het dit bekend geword dat vier ongedokumenteerde persone van Lesotho met vis van meer as R70 000 betrap is tydens operasie Vala Umgodi, volgens sersant Molefi Shemane, die polisie-woordvoerder. Hulle moet binnekort in die hof verskyn.
Dit lyk nou asof die probleem lê by die departement van visserye, bosbou en die omgewing wat nie hulle huis in orde kan kry nie. Die arme vissers boet nou hiervoor.
Plaaslike inwoners sukkel nou baie hard om genoeg en betyds bekostigbare vis te bekom voor Paasnaweek.