Skip to main content

JACQUES DE KLERK

Die verhaal van Thabo Bester is een wat Hollywood nie eens kan opmaak nie. Dié skurk was eers agter tralies vir verkragting, toe breek daar onverklaarbaar ’n brand in sy sel uit en sterf hy in ’n vlammehel. Maar, dit was toe nie die einde van onse Thabo nie.

Dié skobbejak het soos Lasarus uit die dood opgestaan toe hy met die hulp van ’n welbekende dokter ’n lyk in die tronk ingesmokkel het om dit te laat blyk dat dit hy is.

Dié storie het soveel kinkels dat Deon Meyer nie eens so baie intrige in een verhaal kan skep nie.

Daarom het Showmax besluit om ’n vier episode dokkie oor Thabo Bester te vervaardig en dit het sommer reeds gesorg dat die rekords gespat het.

Die eerste twee episodes van Tracking Thabo Bester is op 15 Maart eksklusief op Showmax beskikbaar gemaak en het op die eerste dag die meeste kykers nóg na die stroomdiens gelok.

“Die misdaad-dokkie was ook die meeste oor alles genres oor die naweek gekyk en het goeie resensies ontvang, met Oluthando Keteyi van IOL wat geskryf het dat ‘dit haar mond laat oophang het’ en Leon van Nierop, wat dit as ‘boos, bisar en briljant’ beskryf het,” sê Showmax in ’n persverklaring.

Bester was sedert Mei 2022 op vrye voet na sy sogenaamde skyndood toe hy uit die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap het.

Bester dien lewenslange tronkstraf uit vir twee aanklagte van verkragting en een van moord. Sy mede-beskuldigde, Nandipha Magudumana, wat Thabo help ontsnap het, staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en lykskending.

Die tweetjies was so ontsteld oor die Showmax-dokkie waarin hulle die hoofrolle vertolk, dat hulle verlede week aansoek gedoen het vir ’n dringende interdik teen Showmax om nie die dokkie uit te saai nie.

Hulle het egter hulle rieme styf geloop en regter Stuart Wilson het in die Johannesburgse hooggeregshof die dringende aansoek van die hand gewys.

Tracking Thabo Bester werp lig op die berugte “Facebook-verkragter,” hoe hy agter tralies beland het en die dramatiese ontsnapping, sy romanse met ’n bekende dokter en hoe hy vir maande lank op vrye voet was.

Die dokkie is deur IdeaCandy vervaardig wat ook Devilsdorp, Rosemary’s Hitlist en Steinheist vervaardig het.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!