Die Stad Kaapstad is só dik vir mense wat verkeersboetes ontduik, dat hulle ‘n lys saamgestel het van die top 100 mense wat die meeste geld skuld op boetes en lasbriewe.
‘n Gespesialiseerde span is besig om die skuldiges aan te keer, en hulle het onlangs ses uit die top 100 gearresteer vir boetes met lasbriewe wat ‘n totaal van R350 000 beloop. Die grootste ‘skuldenaar’ onder die ses skuld ‘n allemintige R100 200 aan die munisipaliteit.
Motoriste wat uitstaande boetes het, word gewaarsku dat hulle moet hoes, aangesien daar oral tydens die Paasnaweek padblokkades opgerig sal wees. Dìt volgens Alderman JP Smith, Stad Kaapstad se burgemeesterslid vir veiligheid en sekuriteit.