Sjokoladeliefhebbers moet maar hulle soet tande trek – tjoklits gaan onbekostig duur word.
‘n Tekort aan kakaobone – die rou produk wat die kern van sjokolade uitmaak – het gelei tot ‘n byna volslae sluiting van verwerkingsaanlegte in die Ivoorkus en Ghana, die twee lande wat verantwoordelik is vir 60% van wêreldproduksie.
Sjokoladevervaardigers regoor die wêreld is van Wes-Afrika afhanklik vir kakao, en die sluitings het gelei tot groot kommer oor die impak op die pryse van sjokolade en die voortbestaan van kakaoboere.
Drie faktore is verantwoordelik vir die tekorte: omgewings-, ekonomiese-siklusverwant en menslik.
Een omgewingsfaktor is die impak van die El Niño-weerverskynsel, wat droër weer in Wes-Afrika veroorsaak het. Dit het bygedra tot probleme op plase, soos die swellootvirus-siekte. As gevolg hiervan het Ghana die afgelope jare oeste van byna 500 000 hektaar grond verloor.
Tradisioneel is daar inherente patrone van uitbreiding en inkrimping in kakaoboerdery. Namate kakaobome ouer word, word hulle vatbaar vir siektes, wat hoë instandhoudingskoste vereis. Histories was boere geneig om ou plase te laat vaar en nuut in vars woude te begin. Ongelukkig word dit nou al hoe moeiliker om nuwe woude te vind.
Die menslike faktor sluit uitdagings in soos onwettige mynbou, wat landbou in Ghana verbygesteek het. Soms verhuur boere hul grond aan onwettige mynwerkers in ruil vir betaling. Hierdie mynaktiwiteite verswak die kwaliteit van die grond, wat dit ongeskik maak vir kakaoverbouing.
Die wêreldmark vir sjokolade en sjokoladeprodukte is aan die toeneem. Daar word verwag dat dit oor die volgende paar jaar vinniger as 4% per jaar sal groei. Hierdie groeiende vraag na kakao beklemtoon die dringendheid om die kwessies wat met die bedryf se volhoubaarheid verband hou, aan te spreek.
In Februarie 2024 het die Ghana Cocoa Board (Cocobod), reguleerder van die land se kakaosektor, ‘n Wêreldbanklening van $200 miljoen verkry om plantasies wat deur die kakao-swellootvirus geraak is, te rehabiliteer. Die direksie sal die siektegeteisterde plase oorneem, die geteisterde kakaobome verwyder en vervang, en die nuwe aanplantings tot in die vrugstadium versorg voordat dit aan die boere terugbesorg word.
Hierdie praktyk van Cocobod om lenings aan te gaan om boere by te staan, is ‘n jarelange een in Ghana. Byvoorbeeld, in 2018 het Cocobod ‘n deel van ‘n lening van $600 miljoen van die African Development Bank gebruik om verouderde plantasies en dié wat deur siektes getref is, te rehabiliteer. En aan die begin van die huidige oesseisoen in Oktober is die produsenteprys verhoog: boere word meer betaal, ‘n stap wat onvermydelik gemaak is deur die styging in wêreldpryse. Ghana Cocobod het ook ‘n taakspan gestig om kakaoplase teen die skadelike impak van mynbou te beskerm. Dit het met die polisie saamgewerk om die smokkel van kakao na buurlande te stuit, veral dié wat ‘n sterker geldeenheid bied.
Op plaasvlak, hoewel die styging in pryse aanvanklik voordelig vir boere kan voor kom, is die realiteit nie eenvoudig nie. ’n Afname in uitset lei tot kleiner oeste, wat beteken dat boere in die algemeen nie meer verdien nie. Hierdie kwessie word vererger deur onlangse ekonomiese uitdagings in Wes-Afrika, soos hoë inflasie en valutadevaluasie, veral in Ghana. Hierdie faktore het daartoe gelei dat boere armer geword het.
Die ontwikkeling van kakao-alternatiewe lyk nou onvermydelik, want om voort te gaan om kakao te verbou onder huidige toestande is onvolhoubaar.
Trouens, dit is reeds aan die gang met die opkoms van kakaobotter-ekwivalente, kakao-verlengers en kunsmatige geure (sintetiese of natuur-identiese geure wat die smaak van sjokolade naboots sonder dat kakao nodig is).
Die Duitse maatskappy Planet A Foods is ‘n leier op hierdie gebied. Dit produseer kakaovrye sjokolade en gebruik tegnologie om bestanddele soos hawer en sonneblomsaad te omskep in plaasvervangers vir kakaomassa en botter.