Skip to main content

Bloedbad in die flêts – Deur Jason Mada

Bekkie Jantjes probeer haar ogies oopmaak maar sy is te swak daarvoor. Die reuk van vars bloed is so oorweldigend dat die soutsmaak daarvan op haar tong kom lê.

Iemand druk met ‘n tekkie teen haar kuit.

“Is sy vrek?”

“Mens vra ‘is sy dood’, Jessie. Diere vrek. Mense gaan dood. En nee, ek weet nie.”

“Nou check dan, man!”

Chubby Appollis buk langs die skraal liggaampie wat in die stegie lê en druk sy vuil hand teen Bekkie se nek. “Ek voel ‘n hartklop,” sê hy vies.

“Nou hoe lank voor sy vr … dood is voordat ons haar kan rob? Kyk die oulike pajamas. Ons behoort ‘n paar rand vir dit te kry.”

Chubby trek sy skouers op. “Kom ons waai. Ek gaan haar met ‘n boks toegooi sodat niemand anders haar sien nie. Ons kan netnou weer terug kom as alles oor is.”

Die twee straatkinders loop kop onderstebo deur die rye korre, oftewel woonstelle, maar hulle oë spaai oral om te kyk vir iets om te steel. Jessie is nege, Chubby elf. Hul ma het een aand uitgegaan om te gaan ‘werk’, en het net eenvoudig nooit weer terug gekeer nie. Dit was twee jare gelede.

“Ek is honger, Chubby!” kerm Jessie.

“Jy het gister geëet. Hou op kerm.” Hy skop ‘n blik met sy een onpaar tekkie maar voel nie die slag nie. Die skoene is hopeloos te groot. Die blik tref ‘n geroeste hek wat met ogiesdraad bedek is en ‘n klein keffertjie begin verwoed blaf. “Ag sjarrap!” snou hy die hond toe. Die hondjie hol vinnig by sy hokkie langs die gebarste voordeur in.

“Sien jy Chubby, selfs daai baster het ‘n huis,” sug Jessie.

“Die hele Manenberg is ons huis, Jessie. Ons kan kies waar ons wil slaap,” sê Chubby stug.

“Hou op om vir my tjol te vertel. Dit laat my nie beter voel nie. Die gruis tussen die treinspore by Gugu is ook nie sagter as die sement agter die semi’s soos jy my probeer wysmaak nie. Maak nie saak hoe jy dit paint nie, ons lewens bly kleurloos, deurskynend.”

“Jessie, jy dink te veel vir iemand van jou ouderdom. Plaas jy uitfigure waar ons iets kan kry om te eet.”

Hulle hoor die histeriese roep nog voordat hulle die vrou sien.

“Bekkie! Bekkie!” snik sy in ‘n skril stem, haar keel al seer geskreeu. “Kan iemand help?”

“Wat gat aan?” vra ‘n tandlose ou man wat die vrou aan die arm beet kry.

“My kind! Sy is weg! Toe ek vanoggend opstaan is die venster oop, en sy is weg!” Die vrou sak ineen op die sypaadjie. “Sy is maar net drie…”

“Kan jy sê watse klere sy aangehad het. Dan kan ons help soek,” offer ‘n antie oor die papmond se skouer.

“Pajamas. Pienk pajamas met muisies op. Dis al,” snik die vrou.

“Jirre Chubby, dis die stegie se kind,” fluister Jessie.

“Jessie! Ek gaan nie weer praat oor jou gevloek nie!”

“Wat gaan ons doen?” vra Jessie groot-oog.

“Die regte ding.” Hy hol oor die straat. “Daar lê so meisietjie in die steeg agter die blou korre,” sê Chubby vinnig. “Kom, ek sal julle wys. Ons was juis op pad om iemand te kom roep,” lieg hy.

‘n Klomp mense hol agter hom aan, die ma steeds verwese op die sypaadjie.

“Nee, wag jy Kietie. Dit kan lelik wees,” beveel ‘n vrou toe die ma wil opstaan.

“Maar dis my kind, Zohra. Sê nou sy…”

“Moenie eers daaraan dink nie! Niks is ge-confirm nie! Kom ek vat jou huis toe. Eben sal weet waar om ons te kry.”

 

Die dokters spook om die stukkende kindjie se lewe te red. Sy is erg verniel onderlangs, en weens erge bloedverlies is daar skaars ‘n hartklop.

Kietie word met ‘n têksie by die hospitaal afgelaai. Later sit sy in die wag-area voor die teater, haar hande inmekaar geklem.

 

“Dit was Jaycee se toegang tot die Nice Time Kids gang, Uncle,” praat Lollie met stywe lippe. “Gaan sy dit maak?”

Eben trek net sy dun skouers op. Die heelal is siek. Die mense in die heelal nog sieker. Vir wat moes die kind so uitmekaar geskeur word? Daar is net een uitweg. ‘n Oog vir ‘n oog.

 

Jaycee sien sterre agter sy dertien-jarige oë toe die bofbalkolf hom agter die kop tref. Hy sak eers op sy knieë en val dan gesig eerste op die nat sand neer. Hy voel nie die houe wat op hom neer reën en sy bewustelose liggaam vergruis nie. Daar is nie ‘n heel been in sy liggaam toe hulle uitasem ophou slaan nie. “Dis vir Bekkie, jou siek bliksem!” Elke meisie in die Vato Babes bende spoeg op die gebreekte seun voordat hulle stilletjies in die donker verdwyn.

 

Kietie vat haar kindjie se handjie saggies in haar eie.

Bekkie se vel lyk amper deurskynend en sy is in ‘n geinduseerde koma. Die volgende agt-en-veertig ure is krities, het die dokter gesê. Ek gaan nie met jou doekies omdraai nie. En as sy dit wel maak, sal daar baie operasies volg vir rekonstruksie.

“My kind, ek is so jammer dat ek nie die skelm gehoor het nie,” fluister sy snikkend. “As ek net die tyd kon terugdraai…”

Zohra kom ook by die saaltjie in en gaan sit langs Kietie. “Ai vrou, lat die dinge nou só oor ‘n engel moes kom. Plaas vat die orige ding vir my of vir jou. Ons jare is al amper op,” sug sy. “Ek hoor die twee straatkinders wat haar uitgewys het, sit voor jou huis. Hulle wil hoor hoe dit met haar gaan.”

 

Bekkie is nou vyf, Jessie elf, en Chubby dertien.

“Ma, Bekkie en Jessie het alweer my een tekkie weggesteek,” brom Chubby.

“Ag my kind, kom hier dat ek vir jou ‘n drukkie gee,” paai Kietie en vat Chubby styf in haar arms. “Dit laat mens altyd beter voel.” Hy sien nie dat Kietie, Jessie en Bekkie skelm glimlag en vir mekaar knip-oog nie. Dat so ‘n slegte gebeurtenis só goed kon eindig vir dié gesin is onverstaanbaar, veral vir hulle vier. Maar aan dankbaarheid is daar beslis nie ‘n tekort nie.

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!